Eeufees-nuus

AgriWetenskappe vier ‘n eeu van onderrig en navorsing

16 Mei 2018

Herdenkings bring herinneringe. Fakulteit Agriwetenskappe se eeufeesdinee by Spier het ons gedagtes teruggeneem na middagprakties op Welgevallen of ver uit die dorp met ‘n pikkie by ‘n grondprofiel, of in ‘n Landbou-ekonomieklas vol onsekerheid oor hoe prof. Kassier ons nou weer gaan uitdaag …

Al die goed wat landboustudies so anders en opwindend maak, is nog daar, maar gelukkig is die aansporing groter om toepaslike navorsing te doen, en kan die fakulteit nou sy plek in die wyer landbouwêreld inneem.

Tussen gange van heerlike kos en geselskap, is boodskappe vanuit verskillende wêrelddele oorgedra. Dr. Emiliano Raffrenato, dosent aan die departement Veekunde, het vertel hoe Stellenbosch se “romantiese leefwyse” hóm gekies het. Hy het Stellenbosch gekies omdat dit hom toegang tot die res van Afrika gee. Hy glo Universiteit Stellenbosch het ‘n verantwoordelikheid en plig om die vasteland te verbeter.

Vanjaar is ook die 25ste herdenking van samewerking tussen Universiteit Stellenbosch en ander internasionale universiteite. Stellenbosch moet dit koester omdat internasionale studente nuwe idees bring.

Prof. Kennedy Dzama, adjunk-dekaan verantwoordelik vir navorsing, innovasie en nagraadse studies, se boodskap van ander Afrika-universiteite was dat die fakulteit Agriwetenskappe hom by sy eweknieë aan universiteite in Botswana, Zambië, Zimbabwe, Dare es Salaam, Nairobi, Ibadan en Lagos moet aansluit om Afrika se groot potensiaal te ontsluit. “Ons kan ‘n formidabele vennootskap vorm.”

Mnr. Nicolas Dicey, voorsitter van Hortgro, het namens die bedryf die fakulteit aangemoedig om tegnologie te omarm om aan die behoeftes van ‘n groeiende verbruikerstal te voorsien in ‘n wêreld van dalende hulpbronne en klimaatsverandering. Hy het die bedryf se toewyding tot sy vennootskap met die fakulteit bevestig.

Prof. Eugene Cloete, vise-rektor: navorsing, innovasie en nagraadse studente, het erkenning gegee aan die bydrae van vorige dekane van die fakulteit Agriwetenskappe en gesê die fakulteit begin nou ‘n nuwe toekoms. Sy visie vir die fakulteit en die land is dat Suid-Afrikaners saamwerk om welvarendheid vir almal te verseker deur werkloosheid, ongelykheid en armoede te verminder. Dit kan net bereik word as landbou se hulpbronne beskerm word.

Toe almal klaar gepraat het en die skaaprib en groente op was, het Coenie de Villiers gesing oor die reuk van katbos en kambro as dit reën in die Klein-Karoo, oor blommetyd wanneer Namakwaland se veld nuwejaar hou, in kort, enige landbouer se droom van reën op sy tyd en geil veld.

Mag dit ‘n voorspelling vir Agriwetenskappe se volgende honderd jaar wees.

- Deur Amelia Genis -