Matiestemme

Abbas Jamie

Alumnus van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool


“Hoe gouer jy terugploeg, hoe beter – jy hoef nie te wag tot jy ’n fortuin versamel het nie.”

Abbas Jamie bestee sy dae gerig op die toekoms – om ingenieursprojekte wat Afrika sal bevoordeel, te konseptualiseer en te implementeer – maar sy visie is gegrond op ’n vooruitsiende ontleding van die huidige politieke, sosio-ekonomiese en kulturele uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar.

“Die studie van termynkontrakte – let op die “s” van die woord “futures” in Engels – behels ’n begrip van die feit dat daar meer as een moontlike toekoms bestaan,” verduidelik Abbas. “Die toekoms kan nie met sekerheid voorspel word nie.

“Die studieveld is gebaseer op die ontleding van werklike feite en data; en op hierdie grondslag word scenario’s beplan, om te kyk na wat sal gebeur as jy ’n bepaalde roete neem – ten einde daarna die rigting van jou besigheid dienooreenkomstig te kan aanpas. ”

Abbas het ’n kwalifikasie in toekomsstudie aan die Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) op Stellenbosch verwerf ter aanvulling van sy BSc in siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad (UK). Hy pas sy kundigheid toe in sy werk by Aurecon, ’n groot multinasionale ingenieurs- en advieskonsultant, waar hy die direkteur vir innovasie en transformasie in Afrika is.

Met die fokus op die bekendstelling van ’n denkkultuur oor stelsels en ontwerp in Aurecon Africa, benadruk Abbas die belang van ’n interdissiplinêre benadering tot ingenieursprojekte. Aangesien tegniese uitdagings toenemend deur kunsmatige intelligensie aangespreek word, sal dit “uiteindelik kreatiwiteit wees wat die een maatskappy van die ander onderskei”, sê hy.

In hierdie verband meld Abbas dat die probleem met massiewe infrastruktuurbou in Suid-Afrika nie uit tegniese kundigheid voortspruit nie, maar uit die “breër politieke, ekonomiese en sosiale landskap”. Met sy uitgebreide loopbaan wat posisies in die regerings- en privaat sektor, sowel as ’n aantal nuwe ondernemings insluit, het Abbas ’n deurslaggewende rol in bepaalde mylpaalprojekte gespeel, onder meer die Gautrein Spoor-projek in Gauteng en die N2 Gateway-behuisingskema in Kaapstad.

Hy skryf die sukses van die Gautrein-projek in groot mate toe aan sterk politieke ondersteuning. “Dit is noodsaaklik om die inkoop van al die betrokkenes te hê,” sê hy. “Ander groot infrastruktuurprojekte wat tegnies gesproke nie so ingewikkeld soos die Gautrein-projek was nie, het misluk omdat die politieke en sosiale elemente nie met mekaar in pas gebring is nie.”

’n Soortgelyke nugtere benadering onderlê Abbas se ontleding van die pyplyn van gegradueerdes in ingenieurswese. “Die apartheid-onderwysbeleid het historiese swakheid in die wiskunde- en wetenskapdissiplines in swart gemeenskappe geskep, sê hy, terwyl “’n voortdurende ernstige gebrek aan transformasie beteken dat daar nie genoeg ingenieurs is nie; sodat beroepe wat op wiskunde- en wetenskapkundigheid gebaseer is, sukkel. ”

Dit is ook ’n kwellende probleem op die vasteland in die geheel. “Eksterne skenker-befondsde betrokkenheid by groot infrastruktuurprojekte behels die werwing van buitelandse professionele persone uit daardie lande.”

In hierdie verband sê hy kan die ITN op Stellenbosch ’n belangrike bydrae lewer deur die “ontleding van ingewikkelde stelsels via mensgesentreerde instrumente in ’n Afrika-konteks”. Abbas sê die vasteland moenie oorgelaat word aan ’n Westerse narratief wat vormgewing betref nie. “Ons benodig Afrika-ingenieurs wat dinge deur ’n Afrika-lens bekyk om die vasteland se toekoms te vorm.”

Benewens aansporing wat die belang van transformasie op nasionale en kontinentale vlak betref, wil Abbas op ’n individuele grondslag deur mentorskap en gemeenskapswerk terugploeg.

Hy beskryf die tweerigtingvoordele van mentorskap só. “Dit help om ’n goeie begrip te hê van hoe jongmense dink – hoe hulle die toekoms sien – wat my wêreldbeskouing verryk.”

Abbas is ook ’n stigterslid van ’n gemeenskapsinisiatief wat ’n kluster pleeghuise vir wees- en mishandelde kinders in die Wes-Kaap voorsien. Boonop is hy ’n trustee van die Internasionale Vredeskollege Suid-Afrika (IPSA), wat kwalifikasies in vredebou bied en lesse neem uit die land se oorgang na demokrasie in 1994, en daar is planne om dit na die hele vasteland uit te voer.

Hy beskou sy gemeenskapsbetrokkenheid as ’n noodsaaklike produk van sy eie ervaring. “Ek het aan Stellenbosch en die UK studeer. As een van die weiniges wat destyds toegang tot hierdie instellings gehad het, was ek bevoorreg. Met daardie voorreg kom verantwoordelikheid.”

Hy wil dieselfde ingesteldheid aanmoedig onder diegene wat hy mentor. “Hoe gouer jy terugploeg, hoe beter – jy hoef nie te wag tot jy ’n fortuin versamel het nie.”

- Deur Mark Paterso -