Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Camilla Carboni - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Camilla Carboni

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Uiteindelik is dit harde werk en ’n verbintenis tot uitnemendheid wat mense en besighede laat uitblink...”

’n Mens hoor dikwels dat vars inhoud en goeie kopie die sleutel tot die skep van ’n suksesvolle aanlyn teenwoordigheid is. Met al die gewoel daar buite vandag, veral wanneer dit kom by sosiale media wat inligting 24/7 op groot skaal produseer, het gehalte-inhoud meer krities as ooit tevore geword.

So sê die bemarker, kopieskrywer, afrigter en beste verkoper-skrywer Camilla Carboni, en voeg by dat idees en inhoud oor die algemeen nie nuut is nie, die kuns is eerder om inhoud op ’n nuwe manier aan te bied, ’n manier wat uniek aan jou is.

Oor die afgelope twee dekades het hierdie voormalige Matie haar as een van die leiers in haar veld gevestig en het selfs ’n gewilde bemarkingsterm wat sy “Create-The-Dream” noem, geskep.

“Hierdie term verwys na die krag van ervaringsbemarking. Nadat ek die ongelooflike geleentheid gehad het om met wêreldoord-konglomerate saam te werk om hul kliëntverkrygings deur aanlyn bemarking en gekurateerde kopieskryf te verhoog, het ek besef hoe belangrik dit is om die droom van die ervaring wat jy vir die kliënt aanbied, te verkoop.

“Met ander woorde,” verduidelik sy verder, “jy moet ’n prentjie kan skilder van hoe dit voel om dit wat jy aanbied te ervaar.

“As jy daardie prentjie vir jou kliënte kan skilder (met ander woorde die ‘Create-The-Dream’), skep jy emosie in jou bemarking, wat weer verkoopsoorreding verhoog.”

Camilla het in haar loopbaan tot dusver met verskeie bekende mense en besighede wêreldwyd saamgewerk.

“Persoonlike hoogtepunte sluit in my ontmoeting met die Dalai Lama en Robert Kiyosaki, om kliënte soos Jack Johnson te hê, die Olimpiese Spele te kon bemark, en op Jack Canfield Trainings te verskyn.”

Sy beklemtoon egter dit is die dinge wat dié mense en besighede voor staan, wat die meeste vir haar beteken. “Uiteindelik is dit harde werk en ’n verbintenis tot uitnemendheid wat mense en ondernemings laat uitstaan, en dit is hierdie eienskappe in mense wat my inspireer, of hulle (al) groot spelers is of nie.”

Weg van die kantoor gaan dit vir haar hoofsaaklik oor leef deur ervarings, sê sy.

“Of ek nou in my nuwe tuisstad Colorado is, of in die buiteland reis, jy kan my kom soek waar ek die wêreld saam met my verloofde verken, dagboek hou, nuwe disse beproef, die skoonheid van die wêreld in foto’s vaslê, en die uniekheid van elke plek geniet.

“My absoluut gunsteling-tydverdrywe is om in die ouwêreldse straatkafees in Parys rond te sit, wyn in Stellenbosch, Provence of Napa te geniet, ’n sonsondergangrit op ’n katamaran in Hawaii te neem waar jy jou in die dolfyne en dramatiese seekranse kan verlustig, en saam met vriende en familie langs ’n kampvuur ‘s’mores’ te rooster.”

Wanneer sy aan haar studentetyd op Stellenbosch terugdink, onthul Camilla dat sy soveel ongelooflike herinneringe het dat sy nie seker is waar om te begin nie.

“Wat ek altyd sal onthou, is die skoonheid van die kampus, die herfsblare langs Victoria-straat, Vensters, die eindelose pret by Nemesia, en om heel tevrede die ellelange bladsye Afrikaans-aantekeninge in Engels te vertaal (sodat ek in my eerste taal kon studeer), omdat ek so trots was daarop om aan die universiteit te studeer wat ek as die heel beste in Suid-Afrika beskou.

“Dan was daar die middagete-kuiers saam met vriende by die Neelsie, die opstaan vir die agtuur-oggendklas al het jy tot drie-uur dieselfde oggend toe by die Dramadepartement gewerk, daardie vergaderings met die Maties-filmvereniging tussen klasse deur, die eer daarvan om vir die internasionale studente-uitruilprogram aanvaar te word en by die Universiteit van Iowa te kon studeer, en natuurlik om uiteindelik my meestersgraad te behaal.”

Wat lê nog vir hierdie energieke wêreldburger voor?

“Op die oomblik het ek verskeie kopieskryf- en bemarkingskonsultprojekte wat deur my maatskappy (en alter ego), The Copy Curator™, ingebring word. Dit is nie net opwindend nie, maar ook geweldig verrykend om met passievolle entrepreneurs en besighede te kan meewerk om hul bemarkingskommunikasie te verfyn. Ek werk ook aan ’n nuwe boek en digitale kursusse… so bly ingeskakel!”

- Deur Steyn du Toit -