Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Chantelle Ludski - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Chantelle Ludski

Alumna van die Regsfakulteit


“Ek pak uitdagings op dieselfde manier aan as wat ’n mens spreekwoordelik ’n olifant eet – happie vir happie.”

Chantelle Ludski onthou haar dae as ’n regstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) toe sy saam met haar vriende op die trappe buite die biblioteek gesit en probeer uitwerk het hoe hulle al die sake gelees gaan kry. Vrydae se kaas-en-wyn-middagetes by Lanzerac is natuurlik ook bespreek.

Chantelle, wat in Durbanville, Kaapstad, grootgeword het, sê sy wou van jongs af ’n prokureur word. En in 1989 het sy haar BA Regte- en LLB-graad aan die US behaal.

Nadat sy die afgelope drie jaar uit Amsterdam as Hoofrisikobeampte vir Arcadis NV, ’n internasionaal-gelyste raadgewende ingenieursfirma, gewerk het, het sy haar oë oopgehou vir ’n omvattender rol wat direk by bedryfsbestuur betrokke is.

Sy is ’n pos as Hoof- Administratiewe Beampte aangebied by Renewable Energy Systems (RES), ’n multinasionale onderneming wat op ’n industriële skaal by die ontwikkeling en bou van wind- en solarplase en opgaarbatterye betrokke is. Haar rol het haar na Colorado, VSA, geneem.

“My basis is naby Boulder, ’n dorp baie soos Stellenbosch – ’n universiteitsdorp omring deur asemrowende berge (die Rockies),” vertel Chantelle. Sy is verantwoordelik vir verkryging, kosteberekening, vlootvoertuie en toerusting, menslike hulpbronne, besigheidstransformasie, fasiliteite, ingenieurswese en kommersiële bestuur.

“Dit is ’n rol met baie variasie; elke dag gebeur iets anders. Om vir ’n maatskappy te werk wat die uitsonderlike vermag – ná agt maande geniet ek dit steeds.” RES het selfs projekte in Suid-Afrika.

Wat sy die meeste van haar werk geniet, is die geleentheid om ’n positiewe impak op die planeet te maak deur met hernubare energie te werk.

“Ek hou daarvan om in ’n rol te wees en by ’n organisasie betrokke te wees waar wat ek doen ’n direkte impak kan hê en ek hou daarvan om by die hernubare energie-industrie betrokke te wees – ons het almal ’n rol te speel om ons koolstofvoetspoor te verminder en alles wat ons doen, maak nie saak hoe groot of klein nie, maak saak.”

Sy glo veerkragtigheid is wat mense deur die lewe kry. “Ek pak uitdagings op dieselfde manier aan as wat ’n mens spreekwoordelik ’n olifant eet – happie vir happie.”

- Deur Elbie Els -