Matiestemme

Dr Alfred Mthimkhulu

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Dit was ’n wonderlike intellektuele reis waarop my mentors by die US my geneem het. Die ervaring het my tegelyk bemagtig en nederig gemaak.”

Om te begin verstaan wat ’n ontwikkelingsekonoom doen, begin deur jou te verbeel jy woon in ’n klein dorpie wat jou baie na aan die hart lê.

Dit is die raad wat die oud-Matie, dr Alfred Mthimkhulu, ’n senior navorser by Kulm Research (www.kulmresearch.com), gee.

“Al wens jy jy kan vir die res van jou lewe in dié dorpie bly, is die lewe daar in werklikheid geweldig moeilik,” verduidelik hy.

“Die volwassenes sukkel om kos op die tafel te kry en gevolglik sien niemand meer die skilderagtige landskap raak nie. Diep binne jou weet jy dat hierdie droewige lewenstoestand in iets goeds verander kan word. Maar hoe? Daarvan is jy nie so seker nie.”

Dit is dalk moontlik om ’n lys op te stel van alles wat jy meen gedoen moet word—bou skole, ontwikkel infrastruktuur, vestig fabrieke, om maar ’n paar te noem—maar dit is ’n totaal ander saak om te besluit wat eerste gedoen moet word, hoeveel dit gaan kos en, die belangrikste, waar die fondse vandaan sal kom.

“Hoe kan hierdie dorpie die fondse in die hande kry? Watter toegewings moet gemaak word sodat sowel die dorpenaars as die finansiers gelukkig is? Ontwikkelingsekonome stoei met hierdie soort vrae,” verduidelik die voormalige ontvanger van die Siemens Stiftung-navorsingstoekenning.

“Ons gebruik heelwat data uit die verre verlede, die hede, en uit enige deel van die wêreld om beleide te ontwikkel wat die sosio-ekonomiese toestande van samelewings verbeter.”

Gegewe sy spesifieke fokus op die manier wat privaatsektor-gedrewe groei in die SAOG-streek versnel kan word, het Alfred onlangs ’n navorsingsgeleentheid by Good Governance Africa se SAOG-kantoor gelei.

In die verlede het hy ook die geleentheid gehad om vir belangrike openbare en sosio-omgewingsorganisasies oor die vasteland heen te konsulteer, ingesluit vir die Departement van Handel en Nywerheid as Senior Navorser by die firma Benchmarking and Manufacturing Analysts (Pty) Ltd.

“Een van my vroeë persoonlike hoogtepunte was ’n impakevaluering van ’n projek in Rwanda wat deur die Wêreldbank en die Nederlandse regering gefinansier is. Rwanda is aggressief in sy strewe na groei en behaal resultate. Ek het heelwat lesse uit daardie ervaring geleer.”

Wanneer Alfred aan sy tyd op Stellenbosch terugdink, onthou hy ’n belangrike gebeurtenis wat op sy eerste dag as meestersgraadstudent in 2007 plaasgevind het.

“Die destydse direkteur van die bestuurskool, prof Eon Smit, het in sy verwelkomingstoespraak verwys na ’n jongman wat hy die vorige middag opgemerk het. Die jongman was besig om ’n sak die heuwel op na die skoolingang toe te sleep.

“Dit was ek! Hy het na daardie jongman verwys toe hy gepraat het oor die opofferings wat so dikwels met nagraadse opleiding gepaard gaan. Wat ’n gepaste verwelkoming was dit nie vir iemand wat twee nagte op ’n bus van Harare af deurgebring het nie.”

Hy het later teruggekeer om in 2012 sy PhD te doen, en ’n beurs van Siemens Stiftung ontvang danksy die vennootskappe wat die US wêreldwyd het.

“Ek het die wêreld gesien, waaronder plekke soos die Piramide van die Son in Mexiko, wat ek so graag as ’n kind wou besoek. Ek het saam met van die voorste geleerdes in my veld geëet. Ons het oor ons werk nagedink op plekke hoog uit teen die berg Monserrate in Bogotá. Ek het tot selfies saam met die Nobelpryswenner Muhammad Yunus geneem!

“Toe ek my PhD klaar gemaak het, het ek loopbaanadvies van tannie Deirdre McCloskey in Athene ontvang terwyl ek my verkyk het aan die omliggende valleie waardeur Sokrates en sy volgelinge, wat vir die ontstaan van die Westerse filosofie verantwoordelik was, gestap het. Dit was ’n wonderlike intellektuele reis waarop my mentors by die US my geneem het. Die ervaring het my tegelyk bemagtig en nederig gemaak.”

Toe Alfred die eerste maal in 2007 by die universiteit ingeskryf het, was daar hiperinflasie in sy vaderland Zimbabwe.

“Een professionele liefdestaak waarmee ek besig is, is die hersiening van die gebeure wat tot die sogenaamde verlore dekade in Zimbabwe gelei het. Almal ken die gebeure, maar die lens wat ek gebruik om die gebeure te herverwoord, is fassinerend. Ekonomiese geskiedenis is ’n kritiese deel van die ontwikkelingsekonomie.

“Ons is geneig om die twee as verskillende velde te behandel. Met hierdie liefdestaak beskou ek dit anders. Die lesers sal baie daarvan hou. Ek hoop ek sal dit kan afhandel.”

- Deur Steyn du Toit -