Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Dr Anton Olivier - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Dr Anton Olivier

Alumnus van die Fakulteite Ingenieurswese, en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Dit was altyd my begeerte om ’n positiewe invloed te wees...”

Van Windhoek na Ghana tot Papoea-Nieu-Guinee na Timor-Leste tot Uganda – die impak van dr Anton Olivier se werk kan wêreldwyd gevolg word.

As ’n gekwalifiseerde projekbestuurskenner met meer as 30 jaar ervaring, het hy al as fasiliteerder opgetree by die formulering van sowat 40 strategiese planne vir sentrale en plaaslike regerings, staatsondernemings en nieregeringsorganisasies (NRO’s).

Sy vaardighede en belangstelling lê by strategiese beplanning en implementering, prestasiebestuur en projekbestuur – hoofsaaklik in die openbare sektor – ten einde werklik volhoubare waarde vir die breë publiek of bepaalde belanghebbendes toe te voeg. Hy is ook sedert 2004 die HUB van Stratex Consulting (www.stratexconsult.com) in Namibië.

“Ek werk hoofsaaklik met institusionele ontwikkeling en die opbou van kapasiteit in verskillende ingenieursektore wat water en sanitasie, paaie en vervoer, elektrisiteit, sowel as verskeie NRO’s en professionele instellings insluit.

“Ek is tans spanleier van ’n EU-befondsde projek wat tegniese bystand aan die Ugandese instituut vir professionele ingenieurs verleen. Ander onlangse projekte sluit projekevaluerings in Eswatini en Timor-Leste in, sowel as strategiese beplanning in Namibië, Papoea-Nieu-Guinee, Ghana en Lesotho.”

Anton glo dat Stratex oor die jare heen aansien verwerf het as ’n positiewe invloed op die Namibiese landskap.

“Ek was bevoorreg om by vele interessante en uitdagende nasionale en plaaslike projekte in Namibië betrokke te wees. Dit was altyd my begeerte om ’n positiewe invloed daar te wees ten opsigte van wie ek is en wat ek doen. Per slot van rekening glo ek dat alles wat ek is en het van God af kom en dat Hy ons aangestel het om vrugte te dra, vrugte wat sal hou (Joh. 15:16).”

Daar is verskeie projekte om na uit te sien en optredes waaroor hy opgewonde is.

“My jongste projek het vroeër die jaar in Uganda afgeskop en strek tot die einde van 2020. Daarby sien ek uit na die nuwe geleenthede wat God in die toekoms oor my pad sal stuur.”

Met soveel professionele rolle om te vertolk, en met soveel pligte om uit te voer, wat doen hy wanneer en as hy vrye tyd op hande het?

“Ek is ’n gesinsman. My vrou, Gonda, en kinders, Henri en Carla, is vir my die belangrikste mense in hierdie lewe. Wanneer ons nie saam ontspan nie, geniet ons dit om die wêreld te verken, te swem en te snorkel.”

- Deur Steyn du Toit -