Matiestemme

Dr Brenda Barnetson

Alumna van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Ek het in die lewe tot die besef gekom dat jy self leer wanneer jy ander help leer.”

“As jy ter see op ʼn toerskip werk, is elke aand ʼn Vrydagaand en elke oggend ʼn Maandagoggend – of so sê hulle.” Met haar voete nou op moederaarde, het Brenda Barnetson, nou Direkteur van Kliniese Dienste vir verskeie Noord-Amerikaanse handelsmerke van die Carnival Corporation – die wêreld se grootste reis- en ontspanningsmaatskappy – sonder twyfel goeie herinneringe van haar tyd as ʼn skeepsdokter.

“Dokters en verpleegsters het offisiersrang op toerskepe en geniet baie van die voordele wat gaste het.”

As voltydse dokter op ʼn toerskip het Brenda al ʼn paar keer om die wêreld gevaar en sy beskryf dié ervaring as een wat haar lewe verander het. “Om ter see te werk verander jou uitkyk op alles.”

Sy sê dit is ʼn werkgeleentheid wat nommerpas is vir Suid-Afrikaanse dokters met die indrukwekkende blootstelling wat hulle vroeg in hul loopbaan aan noodmedisyne en kritieke sorg kry, en wat “geleer het om vindingryk met hul tyd en vakkennis te wees. Die meeste van hulle is gemaklik daarmee om in afgeleë plekke met beperkte spesialis- en verwysingsgeleenthede te werk”.

Nie dat die mediese fasiliteite en dienste aan boord die meer as 40 skepe waaroor Brenda vanaf haar basis in Los Angeles toesig hou “bloot noodhulpstasies” is nie.

Mediese sentrums aan boord is mini-hospitale wat goed ingerig is met buitepasiënt- en binnepasiëntfasiliteite, wat intensiewesorgeenhede, gesofistikeerde beeldingtoerusting en ten volle toegeruste apteke insluit. Elke mediese sentrum het twee dokters, drie tot vier verpleegsters en paramedici op hul personeel.

Trouens, internasionaal-erkende akkreditasie vir gesondheidsorg is aan Princess Cruise, Holland America Line, Seabourn en P&O Cruises Australia toegeken en so ook ISO-sertifisering dat daar voldoen word aan gesondheidsorgstandaarde vir regs-, professionele en veiligheidsvereistes, pasiënte se regte en goeie organisatoriese praktyke in gesondheidsorg.

Brenda, wat in 2014 haar meestersgraad in noodmedisyne aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, is verantwoordelik vir werwing, skedulering, prestasie, opleiding en toesig oor mediese sorg wat deur die meer as 400 mediese personeellede aan oor die 400 000 pasiënte per jaar gelewer word.

Alhoewel sy nie meer persoonlik na pasiënte omsien nie, sê sy: “Ek het nie direkte pasiëntkontak nodig om ʼn verskil te maak nie. Om dokters nuwe vaardighede te leer, kan later baie pasiënte help.”

Brenda is heeldag en aldag aan diens om afstand- operasionele steun aan haar mediese personeel te verskaf. Wanneer een van haar dokters bel, “is dit asof ek in hul skoene is. Ek kan uit eie ervaring my presies indink waardeur hulle gaan.

“Die inbeller kan dalk bloot gerusstelling nodig hê,” sê sy. Maar die omvang kan veel groter wees. Skepe kan dalk hul roete moet aanpas of dit kan nodig wees om die kuswagreddingsdiens in te roep, alhoewel, merk Brenda op, “die veiligste plek vir pasiënte eintlik aan boord kan wees met dokters wat opgelei is om noodsorg te verskaf”.

Deel van Brenda se werk is om dokters aan te moedig om nuwe vaardighede aan te leer. Afgesien van die belangrikheid van pasiënt-gesentreerde sorg en die verlaging van die regsrisiko in ʼn kultureel-diverse bevolking bemanning en gaste, leer dokters ook opwindende nuwe vaardighede wat strek van die identifisering van tropiese siektes waarmee hulle nie vertroud is nie tot die aanvanklike behandeling in ʼn enjinruimte aan boord óf die reël van mediese ontruiming per boot of helikopter.

“Dokters op skepe kry ook ervaring in bestuur en leierskap wat jare kan neem om op land op te doen,” sê Brenda. Die geleentheid om te reis en die vergoeding in buitelandse valuta is verdere aansporing vir dokters om ʼn loopbaan ter see te oorweeg.

Ondertussen geniet Brenda die lewe aan die kus van Suid-Kalifornië. Getroud met ʼn mede-Suid-Afrikaner – haar man, Piet, reël motorfietstoere vir avontuurlustiges van oral in die wêreld – floreer die paartjie en hul hond, Rambo, in hul aangenome tuiste se gesonde, buitelugleefstyl, sowel as in hul nabyheid aan die wêreld se vermaaklikheidshoofstad. “Ons geniet dit om na vertonings by die Hollywood Bowl te gaan – dis net ʼn 25-minuut-rit ver.”

As sy terugdink aan haar tyd by Maties, benadruk Brenda die wêreldklas standaarde by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die diversiteit van praktyk en blootstelling vir die studente. In besonder, sê sy, het haar studies haar oë oopgemaak vir “die behoefte om elke geleentheid te identifiseer en elke geleentheid om te leer te waardeer.

“Ek het in die lewe tot die besef gekom dat jy self leer wanneer jy ander help leer.

- Deur Mark Paterson -