Matiestemme

Dr Gerhard Cruywagen

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“As ons nou slim aan dinge soos infrastruktuurontwikkeling en opvoeding bestee, sal dit in die toekoms enorme voordele vir Suid-Afrika inhou.”

Dr Gerhard Cruywagen is op die punt om sy 10-jaar-mylpaal as hoofbeleggingsbeampte (HBB) by Sanlam te bereik.

Om verantwoordelik te wees vir die bestuur van finansiëlebateportefeuljes wat kliënte aan die maatskappy toevertrou, is nie ’n maklike taak nie. Trouens, kliënte verwag dat hierdie portefeuljes beter moet presteer as die opbrengste wat aan die hand van vooraf gedefinieerde maatstawwe behaal word.

“Die batebasis is groot en beleggings word gemaak met ’n lang tydraamwerk in gedagte, byvoorbeeld drie tot tien jaar en langer,” verduidelik Gerhard, ’n vorige ontvanger van Sanlam se HUB-toekenning.

“Dit is dus baie belangrik om ’n konsekwente beleggingsfilosofie en -proses te hê waarin jy glo, en dit as grondslag vir langtermynbesluite te gebruik.”

Omdat ons gedurig aan ekonomiese en politieke nuus blootgestel word—dit is bo en behalwe veranderende batepryse—help die gebruik van so ’n gestruktureerde denkwyse hom om te besluit wat relevant vir sy kliënte se portefeuljes is.

“Danksy hierdie benadering kon ek die afgelope dekade daarin slaag om tot die konsekwente prestasie van hierdie portefeuljes by te dra.”

Dit het baie moeilik geword vir maatskappye om te beplan en te funksioneer in lande waar daar politieke of ekonomiese onsekerheid is. Vanweë alles wat die afgelope paar jaar in Suid-Afrika gebeur het, het baie maatskappye getalm, of hulle daarvan weerhou, om nuwe beleggings te maak.

“En natuurlik benodig ons nuwe beleggings vir groei en uitbreiding. Dit is deels as gevolg hiervan dat die ekonomie swakker gegroei het as wat daar verwag is, en nuwe werksgeleenthede nie geskep is nie.

“Daarbenewens was die regering se wantoedeling van belastingbetalers se geld aan nieproduktiewe gebiede baie nadelig vir die ekonomie. As ons nou slim aan dinge soos infrastruktuurontwikkeling en opvoeding bestee, sal dit in die toekoms enorme voordele vir Suid-Afrika inhou.”

Wanneer hy nie op belangrike langtermynbesluitneming namens sy kliënte fokus nie, kry Gerhard in sy privaat lewe tyd om sy liggaam en gees te versterk.

“Ek lees wyd, meestal niefiksie, van boeke tot blogs en navorsingsartikels. Omdat ek aanvanklik as ’n navorsingswetenskaplike gewerk het, het ek ’n besondere belangstelling in onderwerpe soos datawetenskap, masjienleer en rekenaarwetenskap.

“Wanneer ons kan, geniet ek en my gesin dit baie om in die buitelug te wees, en ons bly fiks deur te draf, bergfiets te ry en staproetes te doen.”

- Deur Steyn du Toit -