Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Dr Karen Smith - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Dr Karen Smith

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek het nog altyd ’n passie gehad vir reis en om nuwe mense, plekke en kulture te ontdek.”

Die plig van state om hul burgers te beskerm, kan ’n saak van lewe en dood wees. Karen Smith se rol as spesiale adviseur vir die Verenigde Nasies (VN) se sekretaris-generaal belas met die verantwoordelikheid om te beskerm, speel ’n deurslaggewende rol in die bevordering van dié plig.

Karen gebruik haar kennis en insig as ’n akademikus op die gebied van internasionale betrekkinge om ingewikkelde idees oor die perke van soewereiniteit, die verantwoordelikhede van state teenoor hul burgers, en die belang daarvan om konflik te voorkom, in praktiese raad te probeer vertaal vir beleidmakers wat onder groot druk verkeer.

Sy tree as ’n brug tussen twee wêrelde op: die akademie en die diplomatiek. Wanneer sy nie die wêreldliggaam adviseer nie, doseer sy aan die Universiteit van Leiden in Nederland.

“Ek dra twee hoede,” sê sy.

“By die VN, en in die beleidswêreld in die algemeen, moet besluitnemers dikwels baie ernstige sake as ’n dringende kwessie hanteer. Hulle het nie altyd die tyd om te lees, te dink en te besin soos in die geval van akademici nie. Ons benodig meer gespreksgenote om die waardevolle navorsing wat vakkundiges doen, in meer praktiese beleide te vertaal.

“Ek vind dat daar dikwels misverstande tussen akademici en praktisyns in internasionale betrekkinge voorkom, wanneer daar in werklikheid soveel potensiaal vir komplementariteit is.”

Die benadering by die verantwoordelikheid om te beskerm (R2P) waarop die VN se 193 lidlande in 2005 ooreengekom het, plaas ’n verantwoordelikheid op individuele state om hul burgers teen die afskuwelikste van alle misdade, soos volksmoord, misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade en etniese suiwering te beskerm en op die wêreldgemeenskap om op te tree wanneer state nie hul burgers wil of kan beskerm nie.

In ’n internasionale stelsel wat die soewereiniteit van state voorheen as heilig beskou het, vorm R2P “’n radikale afwyking van ‘sake soos gewoonlik’”, sê Karen.

Die benadering het tot ’n groot mate in Afrika tot stand gekom vanweë die internasionale versuim om die volksmoord van 1994 in Rwanda te voorkom, waartydens daar na raming 800 000 Tutsi’s en gematigde Hutu’s uitgemoor is, asook die volgende jaar wat Bosnië betref.

Die R2P-benadering bied die grondslag vir die totstandkoming van die Afrika-unie (AU), hoewel “sommige state op die vasteland weerstand bied teen wat gesien word as pogings om in hul interne sake in te meng, en die agendas van sommige lede van die internasionale gemeenskap wantrou”.

“Nietemin,” sê Karen, “is groot vordering gemaak met die poging om gruwelmisdade te voorkom, byvoorbeeld deur vroeë waarskustelsels op kontinentale en substreekvlak.”

“Dit hou veel goeds in vir ’n groter Afrika-eienaarskap van die beginsel.”

Op die wêreldtoneel word die na-oorlogse stelsel van die Tweede Wêreldoorlog vir die bevordering van internasionaal ooreengekome optrede om vrede te bewerkstellig, egter bedreig. “Daar bestaan tans groot spanning oor die toekoms van multilateralisme,” sê Karen.

“Ongelukkig sien ons dat die publiek in verskeie state ontnugter word deur die onvermoë van hul regerings om beloftes na te kom, en dat daar teruggekeer word na ’n introspektiewe nasionalisme wat vooruitgang op die gebied van internasionalisme, die bevordering van menseregte, en die verdraagsaamheid oor verskille in die algemeen ondermyn.”

Karen se toewyding aan internasionale aktivisme weerspieël haar persoonlike siening: “Ek het nog altyd ’n passie gehad vir reis en om nuwe mense, plekke en kulture te ontdek.” Terselfdertyd beskryf sy haarself as “in wese ’n akademikus en ’n onderwyser”. Dit kan dalk verklaar waarom sy sê dat sy “toenemend dankbaar is om tyd tuis deur te bring, met vriende in te haal of ’n boek te lees”.

Sowel haar stewige intellektuele fondasie as haar belangstelling in die VN skryf sy toe aan haar tyd by die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n doktorsgraad in politieke wetenskap verwerf het.

“Ek het nog altyd aan die Universiteit Stellenbosch gedink as deel van my uitgebreide familie. Daar is iets aan die dorp, die mense en die kultuur van die instelling wat dit baie anders maak as ander instellings waarby ek betrokke was, alhoewel ek ook besef dat dit nie almal se ervaring van die universiteit en die dorp is nie.

“Ek keer steeds een keer ’n jaar na Stellenbosch terug om ’n kort kursus te onderrig wat deel van die Internasionale Kantoor se somerskool uitmaak.”

- Deur Mark Paterson -