Matiestemme

Dr Moleen Zunza

Alumna van die Fakulteite Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


Dr Moleen Zunza is die toonbeeld van uithouvermoë, toewyding en harde werk.

Ná skool het Moleen, wat saam met 19 broers en susters by haar ouma in Zimbabwe se Wedza-distrik grootgeword het, ’n verpleegster geword omdat sy aanvanklik geglo het dit is haar beste beskikbare keuse.

“As ’n plattelandse meisie sonder enige loopbaanvoorligting in my eerste jare op skool, het ek eintlik maar toevallig in die mediese beroep beland,” onthou sy.

Teen 2008 was sy 37 jaar oud, getroud, ’n ma van twee, en het sy by die Algemene Hospitaal Parirenyatwa in Harare gewerk. Tog het dinge in daardie stadium drasties begin verander.

“My man het ’n nadoktorale aanstelling aan die Universiteit Stellenbosch (US) gekry en ons het besluit om as gesin na Suid-Afrika te verhuis.”

Hier het dit finansieel gesukkel en Moleen kon nie by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging registreer nie. Dus het sy vir ’n magistergraad in Kliniese Epidemiologie aan die US ingeskryf in die hoop dat dít haar meer loopbaanmoontlikhede sou bied.

Sy het in 2011 gegradueer. Daarna was ’n verdere twee nagraadse kwalifikasies – ’n PhD in Pediatrie en ’n BCom Hons in Toegepaste Statistiek – in haar visier. Dié het sy albei op dieselfde dag in 2016 verwerf.

“My PhD was ’n studie van voedingsgedrag by pasgeborenes van sowel MIV-positiewe as -negatiewe ma’s in die tyd toe die beleid oor MIV en babavoeding van gesubsidieerde melkformule tot borsvoeding verander het.

“Die studie het ook die uitwerking van sodanige gedrag op babagroei en infeksieverwante hospitalisasie bepaal.”

Daarbenewens het sy gedurende haar studie by FAM-CRU (’n navorsingseenheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) gewerk, waar sy met sekere onderrig- en navorsingsaktiwiteite gehelp het.

Deesdae word sy as ’n kenner op die gebied van borsvoeding onder MIV-positiewe moeders beskou, en sit sy haar navorsing oor die onderwerp deur die Janssen/CTN- internasionale nadoktorale genootskap voort.

Getrou aan haar aard is sy boonop in haar finale jaar van haar vyfde graad – dié keer ’n MSc in Biostatistiek.

“Ná hierdie graad beplan ek om finansiering te bekom en navorsingsprojekte oor kliniese pasiëntekwessies op sowel individuele as bevolkingsvlak van stapel te stuur.”

Wat is die dryfveer vir haar voortgesette sukses?

“’n Uiters ambisieuse karakter, ’n begrip van hoe belangrik dit is om skaars en noodsaaklike vaardighede te verwerf, die behoefte om tred te hou met die mededingende akademiese omgewing, en my studieleiers en lynbestuurder se ondersteuning.”

- Deur Steyn du Toit -