Matiestemme

Dr Monique Nsanzabaganwa

Alumna van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Daar is volop welwillendheid daar buite; mense met idees, ondervinding, kontakte, en oplossings.”

Die adjunkpresident van die Nasionale Bank van Rwanda, dr Monique Nsanzabaganwa, beskryf haarself as ’n monetêre beleidmaker, ’n reguleerder in die finansiële sektor en ’n kampvegter vir vroue se insluiting in die ekonomie.

“As monetêre owerheid,” verduidelik sy, “is dit ons rol om die stabiliteit van die geldeenheid en die algemene prysvlak vir goedere en dienste te verseker; met ander woorde ons rol is om matige inflasie te verseker wat nie die koopkrag van die burgers ondermyn en hul ontmoedig om te spaar en te belê nie.”

Haar rol as reguleerder behels verder die lisensiëring van en toesighouding oor banke, versekeringsmaatskappye, pensioenskemas, mikrofinansieringsinstellings, ingesluit spaar- en kredietkoöperasies, en ander finansiële spelers soos operateurs van betalingstelsels en verskaffers van digitale finansiële dienste, waaronder uitreikers van mobiele kapitaal. Dít verseker dat dié maatskappye genoeg kapitaalbuffers en voldoende likiditeit het om hul bedrywighede te rugsteun en die reëls na te kom.

“Met ander woorde, ons is ’n borg vir die burgers, sodat hul belange in of by daardie maatskappye goed beskerm word. Ons verwys egter na onsself as ’n ontwikkelingsreguleerder in die sin dat ons ’n mandaat het om finansiële insluiting vir almal aan te moedig. Dit behels toegang tot en die gebruik van ’n verskeidenheid finansiële dienste wat bekostigbaar, innoverend en verantwoordbaar is.

“Dit beteken ons onderneem onder meer finansiële opvoedingsveldtogte, ons stel finansiële diensverskaffers aan om beter produkte te voorsien en hul vermoë te versterk om minderbevoorregte marksegmente te dien, en ons verseker verbruikersbeskerming.”

Wanneer Monique oor lewenservaring en leierskapuitdagings besin, sê sy sy besef die beleidskwessies waarmee beleidmakers worstel om beter lewensgehalte vir landsburgers te verseker, in beginsel vir alle samelewings dieselfde is. Sy vervolg dat dit egter ’n gesamentlike en gekoördineerde reaksie verg. Dit sluit openbare sowel as privaat rolspelers in.

“’n Tweede leergeleentheid wat my te beurt geval het, het met die invloed van netwerkvorming te make. Daar is volop welwillendheid daar buite; mense met idees, ondervinding, kontakte, en oplossings. Dit is dieselfde mense wat bereid is om na jou te luister en inspirasie uit jou idees en optrede te put.”

Sy glo die benutting van hierdie hulpbronne open deure en skep sinergieë tot voordeel van al die belanghebbendes, terwyl werk in isolasie in der waarheid ’n verlies aan dié geleenthede beteken.

“Wanneer menslike harte en verstand ’n konneksie vorm, kan daar heelwat gebeur. Moet nooit dink om tyd en geld in netwerkvorming te belê, op verkwisting neerkom nie.”

Sy verwys na die aspek wat volgens haar die “laaste maar nie die minste” van haar tyd in dié pos uitmaak, as “die mag van retoriek of die narratief”.

“Sommige individue of instellings is geneig om kommunikasie oor hulself en wat hulle voorstaan of doen, af te skeep. Tog is dit belangrik om die aandag van potensiële ondersteuners en bruikbare bondgenote te trek. Dit dra verder by tot die opbou van ’n sterk handelsmerk, wat uiteindelik ’n belangrike motiveringsfaktor vir jou spanspelers of medewerkers is.”

In haar tyd weg van die kantoor, vertel hierdie ma van drie, probeer sy soveel “ektyd”-oomblikke as moontlik skep.

“Dit beteken basies dat ek aan myself dink – hoe ek fisiek, emosioneel en geestelik fiks kan bly. Ek oefen twee tot drie keer ’n week, gaan een keer ’n week vir ’n massering, woon kerkaktiwiteite by, ensovoorts. In die beperkte tyd wat ek beskikbaar het, maak ek seker dat ek gehaltetyd saam met my gesin skep, en dis vir my heerlik om ’n ma en ’n eggenoot te wees.

“Ek gebruik ook die tyd om as lid vergaderings van verskeie komitees by te woon, byvoorbeeld in my omgewing, by die kerk en in vrouegroepe. Dit is byna roetine dat ek gemiddeld twee keer ’n week ’n komiteevergadering het.”

Op ’n vraag oor wat sy die meeste van haar tyd by die Universiteit Stellenbosch onthou, antwoord sy dat dit met babas te make het.

“Mense het my geterg dat hulle my net altyd swanger of met ’n baba op die arm sien. Trouens, in die twee jaar van my meestersgraad het ek twee babas gehad. Tog was dit die tyd wat ek en my man die meeste gekoester het.

“Dit was die tye wat ons saam kon woon en alleen kon wees sonder helpers om ons. Ons het take gedeel, beurte gemaak om ons oudste kind kleuterskool toe te neem of om hom daar te gaan haal, ensovoorts. Vanweë ons status as nuwe ouers het ons ook die opregte vriendskap en ondersteuning van ons klasmaats, die mense in die Internasionale Kantoor en die bure baie waardeer.”

Terwyl daar verskeie groot projekte vir Monique voorlê, is daar veral een waaroor sy besonder geesdriftig voel.

“Ek is baie opgewonde oor ’n vrouebeleggingsfonds waaraan ek werk. Dit is ’n vlagskipprojek wat ek in opdrag van die netwerk van vroue in finansies in Rwanda lei.

“Die fonds wat binnekort op die Rwanda Capital Market uitgereik word, is waarskynlik die eerste een in sy soort wat vroue die geleentheid bied om persoonlik te belê in ’n instrument wat wil meehelp om finansiëletoegang-kwessies vir ander vroue op te los.”

- Deur Steyn du Toit -