Matiestemme

Dr Ronalda Benjamin

Alumna van die Fakulteite Natuurwetenskappe, en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“My geheim was nog altyd om aan my ingesteldheid te werk. Wat ook al die doelwit of uitdaging was, met die regte houding het ek dit bereik of in ’n geleentheid omskep.”

Van Worcester se Riverview-woonstelle tot ʼn lewe vol radiusse, wiskundige verhoudings en worteltekens – dr Ronelda Benjamin het onomwonde bewys dat sy veel groter is as enige omstandighede wat nie in haar guns was nie.

Vandag kan sy nie minder nie as vier grade agter haar naam skryf (almal cum laude verwerf) en het sy twee Rektorstoekennings ontvang. Dit alles voor sy 30 is.

“My geheim was nog altyd om aan my ingesteldheid te werk. Wat ook al die doelwit of uitdaging was, met die regte houding het ek dit bereik of in ’n geleentheid omskep,” verklap die voormalige leerder van Hoërskool Breërivier.

“Vandag sal my raad aan enige jong meisie van Riverview presies dieselfde wees as wat ek baie jare gelede aan myself gegee het: moenie na die omstandighede kyk waarin jy jou bevind nie, kyk na die omstandighede waarin jy sou wou wees.

“Onthou egter ook dat, as ’n gekleurde vrou uit ’n benadeelde agtergrond, jy nie by dieselfde punt as die ander begin nie. Dit is dus normaal om oor die eerste paar meter van jou wedloop ongelooflik eensaam te voel – bly steeds gefokus!”

Sy het reeds vroeg in haar lewe agtergekom dat sy lief is vir wiskunde en ’n aanleg daarvoor het en onthou dat die verskillende soorte vorms en patrone wat sy om haar gesien het, haar altyd gefassineer het.

“Op laerskool het ek dit baie geniet om somme te doen en gedurende my hoërskooljare het ek wiskundige begrippe redelik vinnig gesnap. Ek onthou selfs die spesifieke dag wat ek, terwyl ek op my bed gelê het, hardop gesê het: ‘Ek dink jy sal dit geniet om elke dag van jou lewe wiskunde te doen.’”

Alhoewel wiskunde dikwels vir die ongeoefende oog as irrelevant kan voorkom, verduidelik dr Benjamin dat dit as ’n noodsaaklike hulpmiddel gebruik word om probleme in bykans enige professionele veld op te los – tesame met die geweldige rol wat dit in ons groeiende begrip van die heelal speel.

“Wat my betref – sodra ’n wiskundige struktuur ’n goeie model van ’n werklike verskynsel is – word wiskundige beredenering en ontdekkings gebruik om die fisiese eienskappe van die heelal te beskryf. Die feit dat daar steeds soveel oor wiskunde is om te lees, te leer en te bepeins, maak my as jong wiskundige baie opgewonde.

- Deur Steyn du Toit -