Matiestemme

Elana Meyer

Alumna van die Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Opvoedkunde


“Hardloop het my 'n gevoel van eienaarskap en avontuur gegee. Ek kon bepaal waar, hoe ver en hoe vinnig ek wou hardloop.”

Hoewel sy ‘n lang en suksesvolle loopbaan sowel voor as ná Suid-Afrika se terugkeer na die internasionale sportarena gehad het, onthou die meeste mense Elana Meyer vir haar historiese silwermedalje in die 10 000 meter-wedloop by die 1992 Olimpiese Spele.

Selfs dan onthou hulle nie noodwendig die 25 rondtes wat sy om die baan gehardloop het nie, maar eerder die simboliese oorwinningsrondte wat sy langs die wenner, Ethiopië se Derartu Tulu, gehardloop het. Saam het hulle geskiedenis gemaak: Tulu was die eerste swart vrou van Afrika om ‘n Olimpiese goue medalje te wen terwyl Elana die eerste Suid-Afrikaner was om ‘n individuele medalje te wen ná Suid-Afrika se terugkeer na die Olimpiese familie.

Elana het baie jare vir dié geleentheid gewag …

Haar liefdesverhouding met hardloop het gedurende haar laerskooljare in Albertinia begin.

“Hardloop het my ‘n gevoel van eienaarskap en avontuur gegee. Ek kon bepaal waar, hoe ver en hoe vinnig ek wou hardloop,” onthou sy. Sy het haar eerste 21 km-wedloop gewen toe sy 13 jaar oud was en het later Junior Springbok-kleure vir atletiek verwerf.

As lid van die Maties-atletiekklub het Elana internasionale standaarde en tye as maatstaf gebruik om haar eie doelwitte vir hardloop te stel. Sy het Olimpiese kwalifiserende tye in sowel 1984 as 1988 behaal en het aanhou droom oor die dag dat sy internasionaal sou kon meeding. In hierdie tyd het sy ook haar doelwit om haar universiteitstudies te voltooi, bereik. Sy het haar BCom- en BComHons-graad sowel as haar Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
‘n Sprankie hoop dat Suid-Afrika se isolasie dalk binnekort iets van die verlede sou wees, het in 1989 op die horison gewink en Suid-Afrikaanse sportlui, ook Elana, het ‘n emosionele wipplankreis begin wat sy hoogtepunt bereik het met hul deelname aan die Olimpiese Spele in Barcelona in 1992.

Toe sy uiteindelik aan die finaal van die 10 000m-wedloop deelgeneem het, was dit meer as net ‘n wedloop. Dit was ‘n viering.

“Die silwer het soos goud gevoel. Dit was so ‘n emosionele reis. Ek was oorstelp, verlig en dankbaar,” onthou sy.

Nog 13 jaar van internasionale deelname het gevolg waartydens Elana vyf wêreldrekords gebreek het en sowel ’n wêreldbeker- as ’n wêreldhalfmarathontitel verower het. Sy het in 2005 uitgetree.

Haar atletiekloopbaan het vir haar baie fantastiese geleenthede besorg en sy het besluit dit is tyd om terug te gee. Vir die eerste sewe jaar ná haar uittrede was sy die HUB van die JAG Stigting wat sport as instrument vir sosiale verandering gebruik.

Sy is tans betrokke by Endurocad, ’n akademie vir langafstandhardloop en uithousport, wat ten doel het om jong talentvolle langafstandhardlopers te identifiseer, af te rig en te ontwikkel. Dit fokus op die holistiese ontwikkeling van atlete, onder meer die ontwikkeling van vaardighede (onderrig) asook individuele en persoonlike ontwikkeling (lewensvaardighede).

“Wanneer jy struktuur in plek sit, ontpop talent soos springmielies,” sê sy.

Sy is ook ‘n ambassadeur vir die Sanlam Kaapstad Marathon, wat sy as die ideale geleentheid beskou vir Suid-Afrika se jong, talentvolle langafstanddrawwers om groot hoogtes te bereik.

- Deur Pia Nänny -