Matiestemme

Emilia Nambahu

Alumna van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Ek deel van myself hoofsaaklik om andere aan te moedig.”

Daar mag nie toegelaat word dat viktimisering en skaamtegevoelens die lewens verwoes van jong vroue wat met MIV lewe nie, sê alumna Emilia Nambahu. “Dus doen ek my bes om hulle te help besef dat dit waardeur hulle gaan, nie hulle skuld as individue is nie, en ek probeer hulle in die regte rigting stuur om die beste mense te wees wat hulle kan.”

Emilia lewe daarvoor om ander mense te lei en te help om hulle potensiaal te verwesenlik, of dit nou by Namibië se Owerheid vir Sake en Intellektuele Eiendom is, waar sy vaardighede ontwikkel en personeelprestasie bestuur; of deur as mentor vir jongmense op te tree via die Namibian Opportunities-webtuiste; of in die loop van meer as sewe jaar by Star for Life, ʼn organisasie sonder winsbejag (OSW) wat dit ten doel het om jongmense te besiel om hulle drome te verwesenlik en wat hulle ondersteun daarin om VIGS-vrye lewens te lei.

Dit is interdissiplinêre werk wat ʼn verskeidenheid mense en organisatoriese vaardighede vereis, asook ʼn diepgaande begrip van die betrokke ontwikkelingskwessies.

Emilia se honneursgraad in openbare bestuur wat sy in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, bou voort op ʼn hele reeks ander menslikehulpbron-, psigososiale en leiersopleidingskwalifikasies wat sy behaal het, sowel as haar omvattende ervaring as ʼn gemeenskapswerker en navorser by verskeie gesondheids- en opvoedkundige projekte.

Een van haar eerste uitdagings by Star for Life was om die finansiële lewensvatbaarheid van dié organisasie te verseker. “As deel van ʼn Young African Leadership Initiative wat deur die VSA se President Barack Obama ondersteun word, het ek geleer om ʼn OSW te bestuur, onder meer deur fondsinsameling. Gevolglik kon ek finansiële ondersteuning van internasionale belanghebbendes, die Namibiese ministerie van onderwys en etlike plaaslike ouers en skole bekom.”

Die negatiewe reaksies van ouers en baie van die gemeenskapslede teenoor selfs die blote gedagte aan die program lewer ʼn ander meer deurlopende uitdaging op.

“Hulle beskou die program as taboe in die konteks van hulle kulturele norme en oortuigings,” verduidelik Emilia.

“Ek kan egter, omdat ek self ʼn lid van die gemeenskap is en dié perspektief verstaan, hierdie bekommernisse daadwerklik bylê deur myself as voorbeeld te gebruik en deur my eie ervarings as jongmens te deel om ʼn simpatieke begrip vir die program se missie te bewerkstellig.”

Emilia benadruk die Star for Life se breër impak op die beklemtoning van die belangrikheid van jeugvriendelike geslagtelikevoortplantingsdienste. “Sulke dienste kan die tempo van nuwe MIV-infeksies aan bande lê deur tienerswangerskappe te verminder en mans beter toegang tot gesondheidsfasiliteite te bied, asook om hulle die meriete van vrywillige manlike besnyding te laat insien.”

Op streeksvlak beklemtoon Emilia dit dat gesondheidsbevorderende gedrag, kulturele besluitneming en huishoudelike geweld sleutelfaktore is waaraan daar aandag geskenk moet word. Sy lig ook uit dat dit van groot nasionale belang is om die verspreiding van dié virus in Namibië aan bande te lê. “Geslagtelikevoortplantingsgesondheid en -regte is nie slegs vir maatskaplike geregtigheid noodsaaklik nie, maar ook om die gesonde, stabiele lewens te verseker wat nodig is om volhoubare ontwikkeling te handhaaf.”

Dit is egter waarskynlik op mens-tot-mens-vlak dat Emilia se visie vir verandering die duidelikste na vore kom. Die eenvoud van haar modus operandi is bedrieglik – deur andere te help, vuur sy ʼn nuwe geslag vroue aan om dieselfde te doen.

“Een van my betekenisvolle bydraes tot die program was om in 2012 ʼn kamp te vestig vir psigososiale ondersteuning en die oordra van inligting, wat sedertdien elke jaar plaasvind.” Hierna het Emilia ʼn tweejaarprogram vir sosiale vaardighede en verantwoordelikhede vir graad 9-leerlinge op die been gebring, wat gelei het tot ʼn groep gemotiveerde leerders wat akademies uitgeblink het en ook op universiteitsvlak goed presteer het. “Ek het hulle gevorm om vroue met ʼn doel en leiers met visie te wees,” sê Emilia met trots.

Dié werk hou nooit op nie. Wanneer Emilia nie omsien na die jongmense in haar sorg, of in haar vrye tyd rolstoelbasketbal afrig nie, hou sy daarvan om inspirerende boeke te lees en te praat, “ofskoon my pratery meestal bedoel is om ʼn positiewe invloed te hê; om raad te gee en op te bou. Ek deel van myself hoofsaaklik om andere aan te moedig.”

In soortgelyke trant sê sy dat die Universiteit Stellenbosch ʼn belangrike rol in haar lewe gespeel het deur dit vir haar moontlik te maak om “eendersdenkende medestudente wat my wonderlik ondersteun het in my persoonlike ontwikkeling” te ontmoet.

- Deur Mark Paterson -