Matiestemme

Erik Dippenaar

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskapp


“Ek het nooit kon dink dat ek werklik ʼn loopbaan as ʼn barokmusikant in Suid-Afrika sou kon hê nie.”

Erik Dippenaar onthou nog goed die oomblik wat hom as ʼn 17-jarige geïnspireer het om ʼn loopbaan in vroeë musiek – ʼn genre wat musiek van die Middeleeuse tot die vroeë Romantiek in Europa insluit – te volg.

“Dit was ʼn CD wat uit werke van JS Bach saamgestel is – die Matteus-passie, die Johannes-passie en die Mis in B mineur – soos deur die Engelse groep Baroque Soloists onder aanvoering van dirigent John Eliot Gardiner uitgevoer.

“Dit was die eerste keer wat ek barokmusiek gehoor het wat op die oorspronklike instrumente gespeel is en ek het gedink dis die ongelooflikste musiek wat ek nog ooit gehoor het.”

Daardie aanvanklike inspirasie het Erik – via ʼn BMus aan Stellenbosch en ʼn studiebeurs aan die Royal College of Music in Londen – gelei tot waar hy nou aan die hoof van die enigste periode-orkes in Suid-Afrika staan en ʼn jaarlikse fees wat die land behoorlik as baken in die internasionale landskap van die vroeë musiek gevestig het.

Erik se sukses om ʼn lewe as ʼn klavesinis (oftewel klavesimbelspeler), orrelis en artistieke direkteur te maak, kan egter net soveel aan sy ywer as aan daardie eerste CD toegeskryf word.

Hy beken self: “Ek het nooit kon dink dat ek werklik ʼn loopbaan as ʼn barokmusikant in Suid-Afrika sou kon hê nie.”

Dat hy dit reggekry het, kan toegeskryf word aan sy leidende rol in die vestiging van vroeë musiek as ʼn kunsvorm in eie reg in Suid-Afrika.

Toe hy na sy terugkeer uit Londen in 2015 as artistieke direkteur van die Camerata Tinta Barocca aangestel is, sê hy, het die ensemble steeds moderne instrumente bespeel.

Dit was strydig met Erik se fundamentele verbintenis om barokmusiek op die werklike instrumente te speel waarvoor dit geskryf is.

“Ek moes my voet neersit,” sê hy.

Terselfdertyd besef hy watter uitdagings die musikante destyds onder sy leiding te bowe moes kom.

“Om ʼn periode-ekwivalente instrument te leer speel, is dieselfde as om ʼn nuwe instrument te bemeester. Jy moet tyd daarin belê, sowel as die geld om die nuwe instrument te koop.

“Maar dit is hoe ons reken barok gespeel moet word en ons het by ons visie van die styl gehou.”

As artistieke direkteur van die ensemble probeer Erik die soort leeromgewing skep wat hy gedurende die ses jaar ervaar het wat hy in Londen opgetree het.

“Die kollegas met wie ek daar saamgewerk het, was fantasties” sê hy. “Ek het elke dag werk toe gegaan en iets nuuts geleer.”

Met die opneem van die mantel as hoof by die ensemble, besef Erik hy het na “die ander kant” oorgeskuif.

“Ek moet nou ander inspireer, wat beteken ek moet myself inspireer om inspirerend te wees.”

Met die mikpunt om ʼn barok-orkes van internasionale formaat te vestig, is Erik voortdurend op soek na maniere om die standaard ʼn kerf op ʼn slag te lig.

“Hier is baie talent wat gekoester kan word deur ʼn gesonde werksetiek en ʼn inspirerende werkmilieu te skep. Maar aangesien dit ʼn relatief klein omgewing is, kan daar ʼn gebrek aan kompetisie wees. Baie aandag word dus gegee aan leiding wat die nodige momentum kan skep.”

Erik het ook gepoog om die vroeëmusiektoneel te ontwikkel by wyse van die jaarlikse Kaapstad Barokfees wat sedert 2017 aangebied word. Die idee, wat tydens ʼn “kuiersessie” bedink is, het ʼn geleentheid geword waarvan die kaartjies verlede jaar amper alles uitverkoop was.

Erik sê die spesifieke fokus van die fees is om die vele Suid-Afrikaners wat oorsee in vroeë en historiese musiek werk, aan te moedig om hul vaardighede terug te bring. “Dit verskaf ʼn tuiskoms-platform,” sê hy.

Erik se fassinasie met vroeë musiek sluit ook die geskiedenis daarvan in. Hy is tans besig met ʼn PhD oor die rol van klawerinstrumente tydens kolonialisme – in die besonder hul totemistiese funksie in die verteenwoordiging van die “Westerse kultuur” vir setlaars, wat dikwels nooit die instrument bespeel het nie ten spyte daarvan dat hulle die logge instrumente na hul huise karwei het.

Erik het self op ʼn plaas in die hartjie van die platteland grootgeword, maar daar eindig die ooreenkoms – grootliks te danke aan die Universiteit Stellenbosch.

“Dit het soveel deure vir my oopgemaak. Ek sou kon sê dit was soos ʼn intermediêre fase – ʼn langsame blootstelling aan die werklike lewe wat nog moes kom.”

- Deur Mark Paterson -