Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Fatima Jakoet - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Fatima Jakoet

Alumna van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool (USB)


“Ek het my droom bereik en is nou in die posisie om 'aandele te koop' in ander mense se drome.”

As vlieënier is die beste deel van vlieg vir Universiteit Stellenbosch (US) alumna Fatima Jakoet daardie oomblik wanneer sy die stuurstok terugtrek en die vliegtuig van die grond af lig.

As stigter van die Sakhikamva (Xhosa vir “bou aan die toekoms”)-stigting, is Fatima se doel om vlerke aan ander se drome te gee.

“Ek het my droom bereik en is nou in die posisie om ‘aandele te koop’ in ander mense se drome,” verduidelik sy.

Fatima het die stigting in 2010 begin kort nadat sy in 2009 met ‘n MBA-graad van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool (USB) gegradueer het. In die laaste paar maande van haar studies het sy haarself afgevra: “Hoe kan ek hierdie MBA ten beste gebruik om ‘n organisasie sonder winsbejag volgens gesonde besigheidspraktyke te bedryf en myself as leier te ontwikkel?”

Die doel van die Sakhikamva-stigting is om leerders aan die lugvaartbedryf bloot te stel en tot op hede het die stigting sowat 90 000 leerders bereik.

“Die stigting spreek die twee hoofhindernisse tot die lugvaartbedryf aan: Een is ’n gebrek aan blootstelling aan die bedryf wat tot onkunde oor beskikbare geleenthede lei, en die ander is finansiële beperkings.”

Fatima is baie in haar skik dat die Stigting onlangs sy eerste handelsvlieënierlisensie in samewerking met Morningstar Flight Academy opgelewer het.

Haar eie pad om ‘n vlieënier te word, was self nie voor die hand liggend nie.

Nadat sy haar BSc-graad aan die Kaapse Technikon (nou KPUT) verwerf het, het sy onderskeidelik as forensiese toksikoloog en narkotikakundige vir die forensiese spanne van Nasionale Gesondheid en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewerk. Dit was haar werk as narkotikakundige wat haar in 2001 na die Kaapstad Internasionale Lughawe gebring het vir ‘n dwelmklopjag.

“Terwyl ek langs die vliegtuig gestaan het, het dit my geroep. Dit het gesê: ‘Kom vlieg my’,” onthou sy.

Sy het aansoek gedoen en is gekies vir die SAL Kadetvlieënierprogram en het haar Lugvaartvlieglisensie (ATPL) aan die BAE Flight Training College in Aidelaide, Australië, verwerf. Sy werk sedert 2005 as eerste offisier vir SAL.

As deel van haar persoonlike ontwikkeling het Fatima in 2017 ‘n program in leierskapontwikkeling aan Harvard voltooi nadat sy ‘n Harvard-beurs ontvang het.

In 2015 het Fatima ‘n laboratorium vir wetenskap, tegnologie, robotika, ingenieurswese, lugvaart en wiskunde (STREAM) op die been gebring. Die STREAM-laboratorium is ‘n interaktiewe ruimte vir die ontwikkeling van belangrike vaardighede in die lugvaartsektor.

Haar droom is om te sien dat Suid-Afrika die middelpunt vir ontwikkeling in die ruimtevaartbedryf word.

“Die volgende generasie gaan ruimtereisigers wees en dit is ons verantwoordelikheid om hulle voor te berei, bloot te stel aan die lugvaartbedryf en ‘n omgewing te skep waarin hulle bemagtig word. As ons dit nié doen nie, sal ons hulle ‘n onreg aandoen,” sluit sy af.

- Deur Pia Nänny -