Matiestemme

Giniel de Villiers

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


Motorsport het hom geleer “om nooit op te gee nie”.

Suid-Afrika se Dakar-koning Giniel de Villiers het as vierjarige kannetjie op sy pa se plaas in Barrydale met ’n renstel (go-kart) leer jaag.

Dié Matie se heel eerste amptelike motorren was in 1989 in die sogenaamde Clubmans-klas waar jaers met ou, amper “gewone” motors, om ’n baan jaag. Hy was toe in matriek – net 17 jaar oud…

“Dit was nogal iets,” onthou Giniel.

Hy het intussen aan talle baanrenformules deelgeneem, waaronder toermotors, waar hy lid van die Nissan-fabriekspan was en van 1997 tot 2000 die SA toermotorkampioen was. Dit was juis Nissan wat hom sy eerste probeerslag in die Dakar-veldtydren – destyds nog van Parys na Dakar in Senegal aan die weste van Afrika – gegee het. Sy groot oomblik het egter gekom in 2009 in die eerste Dakar-ren in Argentinië nadat die byeenkoms na Suid-Amerika toe verskuif is. Hy en sy navigator Dirk von Zitzewitz het die wedren in ’n Volkswagen Touareg gewen.

Giniel, wat al aan 16 Dakar-renne deelgeneem het, het buiten een ren nog elke keer onder die voorste 10 geëindig en was al agt keer op die podium.

Op die vraag wat die moeilikste deel van dié ren is, antwoord hy: “Die hele ren is moeilik, nie net een deel nie. Omdat die ren so lank is en [die roete] oor soveel terreine gaan, is dit belangrik om te besef waar jy voluit kan ry en waar nié.”

Hy berei hom tans op die 2020-Dakar voor – dié keer in die Midde-Ooste.

Vir hom is die beste deel van ’n ren “om te wen”. Motorsport het hom geleer “om nooit op te gee nie”.

Giniel, wat ook die verdedigende Suid-Afrikaanse veldrenkampioen is en deur die seisoen aan ses renne op tweespoorpaadjies in omtrent elke provinsie – en die Woestynren in Botswana – vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan deelneem, bly fiks deur bergfiets te ry. Hy speel graag gholf of doen vlieër-branderplankry (kite surfing) om te ontspan.

Sy voorbereiding vir die volgende groot ren begin sodra die geruite vlag van die vorige een gesak het.

“Voorbereiding is ’n deurlopende proses. Ons doen verskeie toetse en neem aan talle renne reg deur die jaar deel. As jy klaar is met een Dakar begin jou voorbereiding reeds vir die volgende een. Ons probeer altyd die plaaslik geboude Toyota Hilux verbeter en dan moet ’n mens ook sorg dat jou fiksheid nie agterweë bly nie.”

Voor sy renloopbaan het dié plaasseun, wat sy hoërskoolloopbaan aan Paul Roos Gimnasium voltooi het, ’n BEcon-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy het dié vierjaarkursus in 1993 voltooi, maar motorsport het hom in ander rigtings laat beweeg.

Giniel woon steeds in Stellenbosch en onthou die beste van sy universiteitsdae was “die vriende wat ’n mens maak, die sorgvrye lewe met niks worries nie en net doodgewone goeie tye”.

“En motorsport…”

- Deur Pia Nänny -