Matiestemme

Helmut Meijer

Alumnus van die Fakulteite Natuurwetenskappe en Lettere en Sosiale Wetenskappe


“My leuse in die lewe is om te lei en te inspireer. 'n Mens kan slegs ander inspireer wanneer mens self geïnspireerd bly.”

Die bekroonde Suid-Afrikaanse musiekprodusent Helmut Meijer het sy besonderse talent vir musiek en tegnologie verbasend laat in sy lewe ontdek. Alhoewel dit duidelik was dat hy musiek in sy gene het, met ‘n pa en ma wat onderskeidelik ‘n konsertorrelis en konsertpianis was, het hy eers lus gekry om ‘n musiekinstrument te leer speel toe hy 17 jaar oud was. Hy het ook eers musiek as loopbaan oorweeg nadat hy sy BSc-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het.

“Tydens my kinderjare op Oudtshoorn was ek altyd deur musiek omring, maar dit is nooit op my afgeforseer nie en ek het soos ‘n normale seunskind grootgeword wat baie tyd in die buitelug spandeer het. Toe ek uiteindelik met 17-jarige ouderdom begin klavierles neem, het ek sommer vinnig gevorder. Maar ek het nog steeds besluit om eerder vir ‘n BSc-graad by Maties te studeer met Geografie as hoofvak.”

Dit was egter sy tyd by die US wat sy lot beslis het. “Ek het die wonderlike Konservatorium en sy oefenkamers ontdek waar musiekstudente ure lank kon oefen. Ek het elke geleentheid wat ek kon kry gebruik om ‘n onbesette oefenkamer te vind sodat ek kon klavier speel en my eie vaardighede verbeter. Ek het later so ‘n bekende gesig geword dat mense begin glo het dat ek self ook ‘n musiekstudent was,” lag hy.

Helmut se talent en belangstelling in musiek het spoedig ook die aandag begin trek van die musiekpersoneel. “Tydens die derdejaar van my BSc-graad het ek ‘n gesprek gehad met prof Ria Smit, ‘n dosent by die musiekdepartement, wat my vertel het van ‘n splinternuwe meestersgraad in musiektegnologie wat hulle beplan het om die volgende jaar te loods. Sy was oortuig daarvan dat my liefde vir musiek, gekombineer met my analitiese vaardighede en belangstelling in tegnologie, my die perfekte kandidaat gemaak het vir die kursus, en sy het my aangemoedig om aansoek te doen.”

Die wonderlike resultaat was dat Helmut deel geword het van die eerste inname van studente vir die MPhil in Musiektegnologie aan die US in 2001. “Dit was ‘n ongelooflike tyd. Die Konservatorium het befondsing ontvang vir ‘n fantastiese opname-ateljee en ek het die vryheid gehad om al die moderne toerusting te gebruik as deel van my opleiding met my mentor Theo Herbst. Ek was soos ‘n kind in ‘n lekkergoedwinkel!”

As deel van sy opleiding het Helmut begin om opnames te maak vir die Konservatorium asook vir ‘n paar baie talentvolle musiekgroepe wat vir hulself begin naam maak het op die plaaslike musiektoneel. “Ek en ‘n vriend, Daniel Steenkamp, het Merchant Records gestig en, in samewerking met die Konservatorium se opname-ateljee, met wonderlike plaaslike talent begin werk en ook betrokke geraak by talle opheffingspogings in die gemeenskap.”

Een van die eerste groot name waarmee hy gewerk het gedurende sy tyd op Stellenbosch was die DNA Strings, een van Suid-Afrika se bekendste instrumentale musiekgroepe. “Om met die DNA Strings te kon werk was ‘n hoogtepunt in my loopbaan en ek is baie trots daarop dat ek my eerste Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMAs) vir die produksie van twee van hul CD’s El Niño en Nomad gewen het. (Helmut het in die daaropvolgende jare nog talle ander musiektoekennings gewen vir sy uitstekende werk as musiekprodusent.)

Nadat hy sy MPhil in Musiektegnologie cum laude verwerf het, het hy sy eie maatskappy Helmut Meijer Music gestig waar hy tans nog steeds werk as musiekprodusent, musiekregisseur, komponis, verwerker en musikant. Hy het ook in 2015 saam met mede-musiekvervaardiger en liedjieskrywer Lukas de Beer ‘n boetiek-platemaatskappy genaamd StoneBear & Mayor gestig, wat fokus op die ontwikkeling van plaaslike talent vir die internasionale mark.

Helmut het oor die jare met ‘n groot verskeidenheid projekte en kunstenaars gewerk. Benewens die DNA Strings, sluit die ander groot name Delta Blue, Abaqondisi Brothers, Heinz Winckler en die Amerikaanse rock-groep Switchband in. Sy werk het hom na baie interessante plekke in die wêreld geneem, onder meer die beroemde Abbey Road Studios in Londen. “Ek het by meer as een geleentheid die ongelooflike voorreg gehad om met Geoff Pesche te werk wat bekend is vir die eindredigering (mastering) van albums van topkunstenaars soos Coldplay, Madonna en Kylie Minogue,” vertel hy met trots.

Volgens Helmut kom sy werk as musiekprodusent met ‘n groot verantwoordelikheid. “Kunstenaars maak staat op ons om hul drome te verwesenlik. Dit verg baie harde werk, aandag aan detail en absolute toewyding, maar dit is ook baie bevredigend.”

Wanneer die tyd dit toelaat, komponeer, speel en neem hy sy eie musiek op onder die Calev-handelsmerk. Hy is lief daarvoor om te reis en het ‘n besonderse belangstelling in Israel waar hy vir ‘n jaar gewoon en Hebreeus geleer het.

“My leuse in die lewe is om te lei en te inspireer. ‘n Mens kan slegs ander inspireer wanneer mens self geïnspireerd bly. Dit is om hierdie rede wat ek gereeld reis en baie verskillende dinge uitprobeer. Ek wil nooit ophou om my horison te verbreed nie.”

- Deur Birgit Ottermann. Foto deur Wil Punt/Peartree Photography -