Matiestemme

Ilse Hayes

Alumna van die Fakulteit Opvoedkunde


“Ek wou nooit terugkyk en spyt wees nie. Ek het alles gedoen wat ek kon, alles bereik wat ek wou en alles gegee wat ek gehad het…”

Ilse Hayes – Paralimpiese kampioen en alumna van die Universiteit Stellenbosch (US) – het in 2017 haar sportloopbaan van 17 jaar afgesluit en met ’n nuwe hoofstuk in haar lewe begin.

Sy was 11 toe sy in 1996 met Stargardt se siekte gediagnoseer is, ’n toestand wat die sentrale visie en die vermoë om detail te sien, beïnvloed. Die gevaarligte het begin flikker toe Ilse, ’n kranige sportvrou en veral tennisspeler, nethoue begin mis het omdat sy nie meer die tennisbal kon volg nie.

Sy het aan sport vir persone met gestremdhede begin deelneem en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Sy het in 2001 aan haar eerste internasionale atletiekkompetisie deelgeneem en het van krag tot krag gegaan. Sy het onder meer sewe medaljes in the T13-klas by vier verskillende Paralimpiese Spele gewen: brons in die 400m in Athene (2004), goud in die verspring en silwer in die 100m in Beijing (2008) en Londen (2012), en silwer in die 100m en 400m in Rio de Janeiro (2016).

Sy het in hierdie tyd ook haar BA- en honneursgraad in Sportwetenskap aan die US verwerf.

Ilse het op verskeie wyses erkenning ontvang: Die Orde van Ikhamanga: silwer is in 2013 aan haar toegeken en sy is ook by die Mail & Guardian se lys van “200 young South Africans” – wat erkenning gee aan invloedryke Suid-Afrikaners jonger as 35 jaar – ingesluit.

Sy het dit nog altyd as haar verantwoordelikheid beskou om haar talent en geleenthede ten volle te benut en sy het baie lesse in haar loopbaan geleer wat sy vandag nog in haar lewe kan toepas.

“Ek het geleer God se tyd is die beste tyd. Baie keer met beserings het mens gedink: Hoekom moes dit gebeur? Maar dit het karakter gebou en ek het sterker aan die ander kant uitgekom. Die Here gee seëninge op die regte tyd.

“Met my visuele gestremdheid moes ek ook leer om baie goed te beplan. Nog ’n les was om alles voluit te doen. Ek wou nooit terugkyk en spyt wees nie. Ek het alles gedoen wat ek kon, alles bereik wat ek wou en alles gegee wat ek gehad het, en nou leef ons as gesin steeds so.

“Ek is baie dankbaar dat ek so baie geleenthede gehad het om soveel mense te ontmoet, soveel lande te sien, soveel kulture te beleef, soveel memories te maak en my Godgegewe talent uit te leef.”

Sy en haar man Cassie Carstens het in Februarie hul eersteling, Rapha, verwelkom en Ilse bied tans babamasseringklasse aan.

- Deur Pia Nänny -