Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Jenny Pienaar - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Jenny Pienaar

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Die lewe gaan jou rondstamp en dit is wanneer jy in jouself en jou doelwitte moet glo, om vorentoe te kan beweeg.”

Sy mag Privaatreg 1 twee maal gedruip het terwyl sy haar BA Regte-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) probeer behaal het, maar wat sy wel weet, sê Matie alumna en Handelsmerkprokureur, Jenny Pienaar, is dat jy ʼn droom kan bewaarheid deur net ʼn “goeie ongeluk te wees wat wag om te gebeur”.

“Jy moet ʼn plan hê, want die lewe gaan jou rondstamp en dit is wanneer jy in jouself en jou doelwitte moet glo, om vorentoe te kan beweeg,” sê Jenny.

“Ek het gesukkel om Privaatreg 1 te slaag en het twee keer binne twee jaar dit gedruip. Toe ek aan my dosent sê dat ek ʼn regsloopbaan wil hê, het hy reguit aan my gesê: ‘Jy sal nooit ‘n prokureur word nie’, vertel sy.

“Ek het geweet dat ek ʼn ander pad na die regsprofessie moes vind. Toe doen ek ʼn BA graad in Klassieke Kultuur en Politieke Wetenskap, kry my graad en gaan na die Universiteit Kaapstad waar ek my LLB oor drie jaar gedoen het,” sê Jenny, wat die graad LLB aan die UK in 1991 behaal het.

Vandag is Jenny ʼn gekwalifiseerde handelsmerk-prokureur, ʼn vennoot en mede-voorsitter van die handelsmerk-afdeling, en waarnemende voorsitter van die handelmerklitigasie-afdeling van die bekende regsfirma Adams & Adams, ʼn plaaslike firma wat wêreldwyd praktiseer weens sy globale kliëntebasis. Hulle verteenwoordig 240 van die 500 “Fortune 500″ maatskappye in die Verenigde State sowel as ander lande, met ʼn wye verskeidenheid kliënte van die Vinnig Bewegende Verbruikersgoedere (FMCG) tot die banksektor, plaaslike en buitelandse wyn en tabak, en farmaseutiese bedrywe.

Sy praktiseer in handelsmerklitigasie, domeinnaamregistrasie, verkry domeine van onwettige eienaars, doen litigasie verwant aan kopiereg, wanvoorstelling, onwettige kompetisie en maatskappynaambesware. Sy het ook ondervinding van advertensiereg en wetlike voldoening.

Nadat sy haar graad behaal het, het sy gesukkel om ʼn regsfirma te vind waar sy haar klerkskap kon doen, hoofsaaklik omdat sy graag in Kaapstad wou bly.

“My pa het my eendag aangekyk en gesê: ‘Jenny, hulle soek nie ʼn sosiale sukses nie, hulle soek iemand wat hard vir hulle sal werk'” en dit, sê Jenny, het haar laat besef dat sy bereid moes wees om haar vlerke te sprei.

ʼn Paar maande later het sy begin werk by ʼn klein regsfirma in Rosebank in Johannesburg, waar sy haar klerkskap binne twee jaar voltooi het.

“Ek het die aakligste hoof gehad waarvoor jy kon vra, maar hy het my baie geleer. Hy het my geleer hoe om níé te lei en níé mense te bestuur nie. Vandag fokus ek daarop om my span met respek te behandel, soos die professionele mense wat hulle is.”

In 1993 is Jenny getroud en ʼn jaar later het sy haar klerkskap oorgeplaas na ʼn firma in Pretoria waar sy tot April 1995 gewerk het. Twee maande later is haar man, Johann, na Frankryk verplaas en Jenny het die regsberoep vir twee jaar vaarwel gesê en oorsee gaan woon. Aangesien sy nie met ʼn besoekersvisum kon werk nie, het sy Frans

leer praat, “my kookvermoëns opgeknap” en probeer om “net die ondervinding in te drink”.

Sy het wel ʼn nuwe vaardigheid aangeleer, sê sy: sy het ingeskryf vir ʼn kursus in die skryf van kortverhale aan die London School of Journalism.

Toe hulle in 1997 na Suid-Afrika terugkeer, het sy swanger geword. Haar seun, Alex, is in Januarie 1998 gebore. Toe haar kraamverlof verby was, het sy by ʼn ander regsfirma aangesluit en by hulle gewerk tot die einde van 2000.

Ek het ʼn punt bereik waar ek net nie meer wou praktiseer nie,” sê Jenny. “Ek het die werk gehaat, ek het algemene litigasie gehaat.”

Sy het ʼn lektorspos by ʼn opleidingskool vir prokureursklerke aanvaar en dit op ʼn deeltydse basis gedoen vir omtrent vier maande, totdat sy daarin geslaag het om ‘n pos by Adams & Adams te kry. Sy werk die afgelope 17 jaar by dié firma.

“Ek is mal oor my werk hier. Toe ek hier begin het op ouderdom 33 het ek heel onder begin nadat ek by my vorige firma vennoot was. Ek is opgelei deur prokureurs wat baie jonger as ek was, sommiges in hul twintigs, maar jy moet gewillig wees om al die kurwes op jou beroepspad te verken. Op die ou end was dit die moeite werd.

Buite die kantoor is Jenny ook hard aan die werk. Sy dra by tot ʼn aantal internasionale publikasies soos World Trademark Review: Pharmaceutical Trademarks 2014/2015; en die boek van die Global Advertising Lawyers Alliance getitel Advertising Law: A Global Legal Perspective (2015); die Life Sciences Multi-Jurisdictional Guide (2014 en 2015, 2016 – 2018) en die Life Sciences Global Guide (2018 -2019), asook die Global Advertising Lawyers Alliance se boek Social Media in Advertising: A Global Perspective (2018).

- Deur Lynne Rippenaar-Mose -