Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Kobus Louw - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Kobus Louw

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Balans kweek nie briljantheid nie, fokus kweek briljantheid. Briljantheid kom egter dikwels teen ’n hoë prys.”

Toe hy ses jaar oud was, het Kobus Louw vir sy ma gesê hy gaan eendag in ’n bank werk, en dit wel later in sy lewe gedoen. Sy ouers het in sy kinderjare twee waardes by hom ingeprent, wat in sy latere lewe die grondslag vir sy sukses sou lê. Die eerste is dat ’n mens 100% verantwoordelikheid vir jou eie lewe en optrede moet aanvaar, dat niemand dit vir jou kan doen nie. “Moenie doen wat ek sê nie, doen wat ek doen,” was die tweede ding wat sy pa altyd gesê het. Sy pa het inderdaad deur sy voorbeeld gelei, en Kobus het later besef dat dit ’n skaars kwaliteit is in die wêreld waarin ons vandag leef. Kobus is die stigter van die maatskappy Digemy.com, ’n e-leerplatform wat leerders se kennis oor sleutelkonsepte in modules meet voor die leerreis begin, en daarna die regte inhoud teen die regte frekwensie vir elke spesifieke leerder, volgens dié se kennis van die onderwerp, herhaal. Dit was ’n uitdagende pad tot hier en sy eie ervarings het ’n kritiese rol daarin gespeel.

Hy het in Faerie Glen in Pretoria-Oos grootgeword en vanaf graad 5 tot 7 aan die Drakensberg Boys Choir School skoolgegaan. Dit was ’n baie belangrike hoofstuk in sy lewe. Daar het hy daagliks buitengewone dissipline en ’n baie streng roetine aangeleer. Toe hy aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) skoolgegaan het, het hy geleer wat dit beteken om te veg vir wat jy wil hê en waarin jy glo. Dit was ook waar hy ’n belangrike les by een van sy atletiekafrigters geleer het: Vra jouself altyd af waarom jy iets doen en bereken dan die koste daarvan.

“Ons kyk na sukses, veral finansiële sukses, en droom om dit te bereik, en ons werk daarvoor. Maar terwyl ons na sukses streef, kyk ons dikwels net na wat ons daaruit kan kry, in plaas van wat ons daarvoor moet opoffer. Ons moet diep en indringend gaan soek, en ons afvra of die opofferings en die koste van dít wat ons wil bereik, werklik die moeite werd is. Balans kweek nie briljantheid nie, fokus kweek briljantheid. Briljantheid kom egter dikwels teen ’n hoë prys.”

Sy pa het hom nooit bederf nie, en hom slegs genoeg maandelikse sakgeld vir een fliekkaartjie gegee. Hy moes vir meer werk as hy meer wou hê. Dit is hoe sy eerste besigheid begin het – deur rekenaars te bou en te verkoop toe hy in graad 9 was.

Ná Affies het hy ’n jaar by ’n organisasie genaamd “Spell-Bound” deurgebring. In dié ontdekkingsjaar het hy agter gekom wat hy werklik wou doen en waaroor hy passievol voel. “Dit was hier waar ek ’n mentor, Kevin Horsley, ontmoet het wat my lewe vir ewig sou verander. Toe Kevin op skool was, was hy disleksies. Hy het ’n leesspoed gehad wat ’n vyfjarige in die verleentheid sou stel, en in matriek geslaag deurdat sy ma die werk aan hom voorgelees het. Sy geheue was nutteloos. Sy grootste leemte het egter sy grootste redding geword, en hy is vandag een van die wêreld se voorste geheue-ghoeroes, die Guinness Book of World Records se rekordhouer in die Everest van geheuetoetse, en die skrywer van ’n New York Times-topverkoper. Kevin het my alles geleer wat ek vandag oor geheue weet en hoe om mense uit alle lewensterreine te leer om enige inligting in die geheue te bewaar. Dit het ’n grondslag vir Digemy geword.”

Ná hierdie ontdekkingsjaar het Kobus in 2015 met sy graad in wiskundige wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch begin. In sy tweede jaar het hy ’n verskynsel opgemerk wat Digemy en die manier waarop mense hul leeromgewing bou, sou vorm. “Ek sou iets leer, dit in my geheue hê nadat ek dit ingedril het, maar ná ’n vakansie van twee maande sou ek reeds die meeste leermateriaal

vergeet het, en moes dit later herleer. As ek maar die tyd geneem het en toegewyd was om die inligting oor ’n bepaalde frekwensie te herhaal, sou die volgende toetssiklus of eksamen kinderspeletjies gewees het,” sê hy.

“Nadat ek my universiteitstudie voltooi het, het die werklike wêreld my getref. Ek het nie ’n idee gehad hoe ek my in die wêreld van werk moes gedra nie, hoe ek my finansies moes bestuur nie, hoe om ’n treffende CV op te stel, of hoe korttermynversekering, mediese fondse en lewensversekering werk nie. Ek het besef daar was ’n groot leemte in die mark.”

Kobus is steeds by sy koshuis as oud-Dagbrekerbond-voorsitter betrokke. Hy wil verseker dat wanneer studente die universiteit verlaat, hulle ’n raamwerk het waar hulle deur ’n mentor begelei word, afgerig word, en leiding kry oor hoe om sukses te behaal en hul doelwitte te bereik. Hy leef volgens hierdie drie kernwaardes: mentorskap, outentieke leierskap, en aanspreeklikheid.

“My droom is om ’n raamwerk soos hierdie te skep, nie net vir Dagbrekers wat afstudeer nie, maar ook vir almal in Suid-Afrika wat in ’n omgewing wil inloop waar hulle ’n netwerk het wat hulle help, met mentors wat hul ondersteun en afrigters wat hul lei. Ek is oortuig daarvan dat indien ons só ’n raamwerk suksesvol kan implementeer, ons Suid-Afrika kan verander.”

Kobus was in die kredietbedryf werksaam waar hy by banke in Afrika, die VAE en Saoedi-Arabië gekonsulteer het en finansiële vooruitskattingsmodelle geskep het. Hy het toe besef hy bestee soveel tyd om die finansiële gedrag van verbruikers te voorspel, sonder om oor die denkbeeldige muur tussen die modelle en die verbruiker te spring, dat hy in werklikheid verbruikersgedrag deur opvoeding verander. “Ek was betrokke by ’n onderneming om finansiële geletterdheidsinhoud wat Suid-Afrikaanse verbruikers oor hul finansies opvoed, te ontwikkel. Ek het verder besef dat indien ek ’n skaalbare oplossing wou skep om kennis oor te dra, ek die tradisionele afstandsonderrigmodelle sou moes herontdek.” Dit was die begin van Digemy.

Digemy het ’n ander rigting ingeslaan as die tradisionele leermodel gerig op vooruitgang in ’n wêreld wat op kennisgroei en -bemeestering fokus. Deur die basiese kennis van ’n leerder te meet voordat daar met ’n kursus begin word, kon hulle leerders laat rekenskap gee van wat hul leer, en deur die regte inhoud op die regte tyd te herhaal, kon hul leerderkennis verbeter en terselfdertyd die leertyd verminder. Dit het hulle ’n intelligente stelsel gegee wat kennis en betrokkenheid ten opsigte van leer naspoor, en nou weet hulle wat om vir ’n persoon te herhaal en wanneer.

Kobus word deur sy vrou, en sy passievolle oortuigings en doelwitte gemotiveer. Hy glo dat hy op hierdie aarde geplaas is om die manier te verander waarop mense leer, lewens te optimaliseer, en uiteindelik ’n platform te bou wat mense sal motiveer en verander om die beste weergawes van hulself te word.

- Deur Elbie Els -