Matiestemme

Kris Declercq

Alumnus van die Fakulteit Regsgeleerdheid


“Ek was gefassineer deur die wonderbaarlike transformasie van Suid-Afrika. As ’n spesialis in menseregte en grondwetlike reg wou ek in die voorste ry wees om uit te vind hoe hierdie oorgang vorm gekry het... ”

As die burgemeester van Roeselare – ’n streeksentrum in Vlaandere, wat bekend is vir sy voedselproduksie, entrepreneurskap en, in toenemende mate, sy evolusie na ’n “slim stad” – is Kris Declercq toegewy aan die taak om sy tuisdorp te hervorm.

Wanneer hy dus oor die Universiteit Stellenbosch (US) praat, waar hy ’n meestersgraad in kommersiële en staatsreg behaal het, plaas hy dit duidelik binne die stedelike konteks daarvan; die stad sowel as die toga.

“Ek besef heelwat van die evolusie in stedelike ontwikkeling in Roeselare, in Vlaandere, het met veranderinge in Stellenbosch saamgeval. Toe ek ’n paar jaar gelede na Stellenbosch terugkeer, kon ek sien hoe anders dit was as my stil universiteitsdorp van die 1990’s.

“Nie net op die gebied van ruimtelike ontwikkeling nie, maar ook in die balans tussen groter verstedeliking en landelike beleid, met betrekking tot mobiliteits-, behuisings- en klimaatsuitdagings, en wat gemeenskapsvorming, veiligheidsaspekte en integrasie betref.”

Synde ’n ervare politikus wat op die hoogste vlak in België gefunksioneer het, beskou Kris ook die voordele van sy studie en tyd op Stellenbosch deur ’n nasionale lens.

“Ek was gefassineer deur die wonderbaarlike transformasie van Suid-Afrika. As ’n spesialis in menseregte en grondwetlike reg, wou ek in die voorste ry wees om uit te vind hoe hierdie oorgang vorm gekry het.

“Sowel België as Suid-Afrika het ’n ingewikkelde institusionele argitektuur. En as raadgewer vir verskeie Belgiese ministers en die eerste ministers Yves Leterme en Herman van Rompuy, was die insigte wat ek in my tyd op Stellenbosch bekom het, nuttig om die verdere ontwikkeling van staatshervormings in ons land gestalte te help gee.”

Al het die 47-jarige Kris sedert 2016 – toe hy die burgemeester van Roeselare geword het – sy fokus tot stadsvlak vernou, omvat sy oorkoepelende visie van hoe plekmaking optimaal in ’n snel veranderende wêreld bevorder kan word, ’n nasionale sowel as ’n globale perspektief.

“Heelwat jong- en oumense kom woon in ons stad, wat die afgelope tien jaar geweldig verander het. Dit het belangrike vrae rondom ruimte laat ontstaan, soos: Hoe kan ons meer groenruimte in ons stedelike omgewing skep?

“Gevolglik streef ons die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte na. Ons voorsien ons stad van energie deur ’n ondergrondse ‘hitte-netwerk’, ons belê in bosaanplanting, en ons wil verseker dat hoë geboue versoenbaar is met ’n stad wat in die behoeftes van die mense voorsien.

“Ook in ons mobiliteitsbeleid wil ons ’n ‘klimaatskakelaar’ inbou. Net soos toe ek met my fiets van my studentewoonstel naby Lobelia na die Stellenbosch-kampus gery het, stel ek nou ’n voorbeeld as burgemeester van Roeselare deur fiets te ry.”

Kris plaas sy beleide op sosiale gebied, “waar die gevolge van eensaamheid en hulp met en die stryd teen armoede en ongelykheid belangrike temas bly”, binne ’n moderne, globale ekonomiese konteks. Hy wil die “onsekerheid en konflik” wat uit globale immigrasiepatrone kan ontstaan, aanpak deur ’n etos van “wedersydse respek” en integrasie te bevorder.

Sy sosiale beleide het ’n sterk ekonomiese inslag. Hy meen die toegevoegde waarde lê daarin om “in mense te belê”. “Deur in ‘slim mense’ te belê, word die oorgang na ’n ‘slim stad’ ook ’n werklikheid.”

Die behoefte om met die tyd tred te hou, kom ook na vore in Kris se visie van die identiteit van Roeselare as een van Vlaandere se inkopiestede. Met die opkoms van tuiswerk, outomatisering en aanlyn inkopies, wat hy as “ ’n permanente uitdaging” beskou, was Kris behulpsaam met die ontwikkeling van ’n omvattende plan om die ‘hoofstraat’ weer ’n dinamiese ontmoetingsplek, met biblioteke, kultuursentrums, winkelsentrums, ruimtes vir kinders en groen pleine in plaas van parkeerareas, te maak.

Kris benadruk die ooreenkoms tussen sy benadering as burgemeester van Roeselare en die deugde wat die Universiteit Stellenbosch bevorder, wat hy meen “ ’n goeie gehalte kennis met openheid, sosiale bewustheid en innovasie kombineer”.

Geen wonder Kris het soveel aangename herinnering van sy tyd op universiteit nie: “Die skoonheid van die land, die vele staproetes, die heerlike wyn en die oulike mense het my nie net ’n voltydse student nie, maar ook ’n voltydse toeris gemaak, ’n wonderlike kombinasie.”

Hy het nog vele Suid-Afrikaanse vriende en is met trots die eerste voorsitter van die Internasionale Studente-organisasie van Stellenbosch (ISOS), wat hy in 1996 help stig het. “Vandag volg ek nog steeds wat daar gebeur. Die Facebook-groep Maties Benelux help my daarmee, en onlangs het ons selfs ’n reünie vir Matie-alumni in Roeselare gereël.”

- Deur Mark Paterson -