Matiestemme

Marianne Kriel

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek voel ek is nie verniet in Suid-Afrika gebore nie. Ek wil graag hier ’n verskil maak.”

Haar begeerte om haar land by ’n Olimpiese Spele te verteenwoordig was so groot dat die swemmer Marianne Kriel ’n beurs by die Southern Methodist University (SMU) in Dallas, Texas, opgegee het kort nadat sportsanksies teen Suid-Afrika gelig is, en teruggekeer het na Suid-Afrika met die hoop dat sy by die 1992 Olimpiese Span na Barcelona ingesluit sou word.

Geen sportlui wat oorsee gebaseer was, sou vir die span oorweeg geword het nie.

“Ek het van kleins af gedroom om aan die Olimpiese Spele deel te neem – selfs toe sanksies teen Suid-Afrika só streng was dat ons nie eers die regte kon kry om internasionale sportgeleenthede uit te saai nie. My pa se sekretaresse, wat oorspronklik van Holland was, sou vir ons videokassette bring en ons sou maande ná die geleentheid reeds verby was die Olimpiese Spele kyk.”

Sy het kort na haar terugkoms vir ’n BA-graad in Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) geregistreer.

“Dit was moeilik om te studeer én ’n strawwe oefenprogram te volg. Die koshuistannie van Nerina moes soggens spesiaal vroeg opstaan om die deur oop te sluit sodat ek kon gaan oefen. Ek was altyd moeg, altyd honger. Maar my studies en vriende op Stellenbosch het ook verseker dat swem nie my lewe oorgeneem het nie. Dit het my balans gegee en my geleer om tydsbestuur toe te pas en te prioritiseer.”

Toe sy wel vir die Olimpiese span gekies is, moes sy met haar dosente reël dat sy vir ’n maand weg sou wees. Hoewel die meeste dosente tegemoetkomend was, het een haar gevra: “Juffrou, dink u u prioriteite is reg?” vertel Marianne laggend.

Die Olimpiese Spele in Barcelona is een van die hoogtepunte van haar lewe. Oudpresident Nelson Mandela was in die skare toe sy die SA en Afrika-rekord in haar hoofitem, die 100m-rugslag, verbeter het en opgeskuif het van 33ste na 10de in die wêreld.

“Hy het my na die tyd genooi om by hom aan te sluit en my vertel hoe trots hy en die land op my is,” onthou sy.

Vier jaar se harde werk het voorgelê voor die volgende Olimpiese Spele in 1996. Marianne het nie net in 1995 gegradueer nie, maar sy het ook geweet dat sy sou uittree ná daardie Spele in Atlanta en sy wou minstens die finaal van die 100m-rugslagitem haal. Sy het egter haar eie verwagtinge oortref en ’n bronsmedalje – een van Suid-Afrika se vyf medaljes by daardie Spele – verower.

“Ek was seker die mees uitgelate bronsmedaljewenner by die Olimpiese Spele!” lag sy.

“Dit gee my tot vandag ’n manier om met veral kinders te verbind. Hulle weet nie wie ek is nie, maar hulle kan hulself vereenselwig met die storie dat ’n droom, gekoppel met harde werk, tot ’n beloning kan lei. Ek geniet dit om jongmense aan te moedig om hul gawes te gebruik en te ontwikkel.”

Marianne het onlangs terugverhuis na Suid-Afrika nadat sy 12 jaar lank as ’n administrateur by Go2Church in die VSA gewerk het. Sy het in Oktober as swemafrigter by die Hoër Meisieskool Paarl aangesluit.

“Ek voel ek is nie verniet in Suid-Afrika gebore nie. Ek wil graag hier ’n verskil maak,” sê sy.

- Deur Pia Nänny -