Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Megan-Geoffrey Prins - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Megan-Geoffrey Prins

Alumnus van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek het van my beste vriende – ook my vrou – op Stellenbosch ontmoet. Dit sal altyd soos ’n tuiste voel.”

Om as een van die Nasionale Kunstefees (NKF) Standard Bank Jong Kunstenaars aangewys te word, is een van die belangrikste toekennings wat enige plaaslike skeppende mens ooit van kan droom.

“Dit is een van die mees gesogte toekennings vir ’n kunstenaar in Suid-Afrika, indien nie die grootste nie,” verduidelik Megan-Geoffrey Prins, vanjaar se ontvanger van die langgevestigde jaarlikse toekenning in die kategorie Musiek.

“Persoonlik is dit ’n ongelooflike erkenning van wat ek doen. Dit is ook ’n baie spesiale oomblik waarin ek my gesin en geliefdes kan bedank wat my oor soveel jaar ondersteun het. Professioneel maak dit heelwat deure oop, onder meer skep dit die geleentheid om by die NKF op te tree en om ander ontvangers te ontmoet en deur hulle geïnspireer te word.”

As deel van sy toekenning het Megan-Geoffrey by vanjaar se Nasionale Kunstefees in Makhanda (voorheen Grahamstad) opgetree, waar hy twee uitvoerings gelewer het.

“Die program het ’n mengsel van gewilde repertoires deur komponiste soos Liszt, Rachmaninoff, Debussy, asook meer moderne werke deur Carl Vine ingesluit,” onthul die Riversdal-gebore gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch.

“Een van die opwindendste aspekte van hierdie konsert was die geleentheid om ’n opdragwerk deur ’n ander Matie en goeie vriend — Arthur Feder — aan te vra. Ek dink dis ongelooflik dat daar ’n golf van samewerking tussen ’n nuwe generasie musici in die land is. Dit kan ’n opwindende tyd vir klassieke musiek in Suid-Afrika wees.”

Stellenbosse gehore kon Megan-Geoffrey egter voor die NKF as deel van vanjaar se Woordfees (1 tot 10 Maart) sien, asook op 6 April met die Endler-konsertreeks.

“Tydens die Woordfees het ek die geleentheid gehad om met nog ’n Matie, die tenoor Nathan Lewis, te kon saamwerk, sowel as met vorige wenners van die ATKV-kompetisie.”

Megan-Geoffrey sê hy het van sy invloedrykste mentors ontmoet terwyl hy aan die Universiteit Stellenbosch studeer het.

“Nina Schumann en Luis Magalhães het ’n sleutelrol in my loopbaan gespeel, en is die twee mense wat ek die meeste bewonder. Saam het hulle eintlik die ruggraat van my musikale vaardigheid gevorm. Hulle is ongelooflike leermeesters wat die grondslag gelê het wat tegniek, repertoire en algemene professionalisme betref. Hulle is suksesvol op soveel verskillende terreine, so dis inspirerend om te sien wat als vir ’n musikus in Suid-Afrika moontlik is.”

Hy onthou ook baie “ongelooflike geleenthede” terwyl hy studeer het, onder meer die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees.

“Om in ’n professionele hoedanigheid na die fees en na Stellenbosch te kan terugkeer, was baie bevredigend. Op ’n persoonlike noot: Ek het van my beste vriende, ingesluit my vrou, op Stellenbosch ontmoet. Dit sal altyd soos ’n tuiste voel.

- Deur Steyn du Toi -