Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Michael Jordaan - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Michael Jordaan

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Fakulteit Regsgeleerdheid


“As jy jou met ongelooflike mense kan omring, sal jy goed kan doen wat jy nooit gedink het moontlik is nie.”

Om op die ouderdom van 36 Hoofuitvoerende Beampte (HUB) van Eerste Nasionale Bank (ENB) te word, is maar een van die vele indrukwekkende poste in Michael Jordaan se loopbaan. Onder sy leierskap is ENB benoem as die “Wêreld se innoverendste Bank” in die 2012 BAI-Finacle Global Banking Innovation-toekennings en in 2011 het hy die Top Vyf-lys van SA Nuusmakers van die Jaar gehaal vir ENB se teenwoordigheid op sosiale media.

In 2014 is hy as die CNBC-Sakeleier van die Jaar vir Afrika aangewys. Hy dien op die rade van verskeie maatskappye, insluitende CodeX, Invenfin, Compuscan en die Johannesburg Effektebeurs (JSE). In 2013 het hy die korporatiewe wêreld verlaat en ʼn waagkapitaalmaatskappy, Montegray, gestig wat kleinsake en entrepreneurs mentor en in besighede met ʼn hoë groeipotensiaal belê.

“Ek ag myself baie gelukkig. Ek het vroeg in my loopbaan agtergekom dat om omring te wees deur mense wat beter is as jy eintlik die geheim van voortuitgang is. Om HUB van verskeie besighede te word, was ʼn voorreg, hoofsaaklik omdat dit ʼn mens die geleentheid bied om as persoon te groei.”

Michael is veral daarvoor bekend dat hy aan die voorpunt van sakeleierskap, innovasie en tegnologie is. Hy is ʼn ywerige leser en geniet dit om sy idees met deskundiges op hulle gebied te bespreek. “Daar was ʼn tyd toe kennis slegs aan die bevoorregtes beskikbaar was en dit moeilik was om toegang daartoe te verkry. Deesdae het die internet egter die speelveld gelykgemaak en daar is geen rede om nie wyd te lees nie. Jy kan jouself enigiets leer as jy net wil,” sê hy.

Hy glo dat die wêreld nie optimaal funksioneer nie en dat grense gemaksimaliseerde handel, ekonomiese groei en vordering met ander kwessies, soos aardverwarming verhinder. “Ek is opgewonde omtrent ’n toekoms waar ons nie net alles aanvaar soos dit is nie, maar wat ons kan ontwerp volgens eerste beginsels. As ons dit sou doen, sou ons seker in elektriese voertuie gery het in plaas van voertuie wat deur fossielbrandstof aangedryf word, en sou ons ʼn herontwerpte ekonomiese stelsel hê met aansienlik minder ongelykheid; en ons spore sou heelwat sagter op die aarde val.”

Michael sê dat tegnologie mense kan help om langer te leef, maar die meeste uitdagings wat ons in die gesig staar, het te make met menslike gedrag.  Met sy kenmerkende taaiheid en behendigheid probeer hy verandering teweegbring deur nuwe ondernemings wat ʼn sosiale en kommersiële visie het, te help.

“As jy jou met ongelooflike mense kan omring, sal jy goed kan doen wat jy nooit gedink het moontlik is nie.” Hy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat gelukkigheid nie afhang van die hoeveelheid besittings wat jy het nie, maar van basiese goed, soos gemoedelike verhoudings met familie en vriende, ʼn voedsame ete of ʼn kaggelvuur in die winter.

- Deur Elbie Els -