Matiestemme

Natalia da Rocha

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Die Universiteit kan die land deur sy alumni help vorm.”

“Ons moet verstaan waar ons vandaan kom om te kan verstaan waarheen ons op pad is,” sê die baanbrekeraktrise en jeugaktivis Natalia da Rocha.
Vir Natalia, onder die eerste kohort bruin studente wat aan die einde van die 1970’s by die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf het, was die verlede ’n historiese stryd teen institusionele en daaglikse vooroordeel op weg na sukses as uitvoerende kunstenaar.

As een van slegs ’n handjievol bruin studente van dié tyd het Natalia ’n spesiale permit benodig en was nie geregtig op verblyf in ’n universiteitskoshuis nie. Dit beteken sy moes daagliks 50 km tussen haar huis in die Strand en die kampus aflê.

Boonop sou die dramagraad waarvoor sy ingeskryf het, haar skaars toerus vir ’n lewe op die verhoog; dit was eerder bedoel om haar op ’n loopbaan as onderwyser voor te berei. Sy was gevolglik ’n gereelde besoeker aan die Baxter-teater, waar sy haar ambag as aktrise ingeoefen het en in 1982, die jaar nadat sy gegradueer het, op die verhoog uitgeblink het.

Tydens die oudisie van die vertoning Fangs het sy ’n vertolking van Happy Birthday gelewer en gewys sy is lenig genoeg. “Ek het nie ’n liedjie voorberei nie en die regisseur wou eenvoudig weet hoe hoog ek kon opskop,” beduie Natalia.

Sy sê die Universiteit self het nie vir haar enige deure as uitvoerende kunstenaar geopen nie. Sonder om doekies om te draai sê Natalia: “Stellenbosch het niks vir my gedoen nie.” Volgens haar was die enigste werklike ondersteuning wat sy ontvang het, dié van mede-akteur Peter Holden, wat ’n jaar ná haar was. “Hy was my netwerk.”

“Ná ek klaar gemaak het met universiteit,” sê Natalia, “het ek voor ’n baie wit, geslote netwerk te staan gekom. Ek het my aan die buiterand daarvan bevind.”
Die dramatiese rolle wat beskikbaar was, was beperk. “Ek kon net rolle van bruin mense kry – die bediende of die liefdesbelang van die wit ou.”

Gebore in ’n musikale gesin – haar pa was ’n pianis en sy het in sy orkes gesing – het die sang en dans, en ’n verhuising na Johannesburg, haar tot groter vryheid as uitvoerende kunstenaar aangespoor.

Natalia het uiteindelik in Hillbrow gaan woon. Sy beskryf die atmosfeer van die gebied, wat ’n kern van die vermaaklikheidsbedryf was, as “geweldig kosmopolities”. “Dit was nie soos Suid-Afrika nie.”

Nadat sy haar een aand by No 58, ʼn welbekende Hillbrow restaurant, op die verhoog bevind het, is sy ’n weeklikse kabaret-optrede saam met haar langtermyn- kreatiewe vennoot, Sam Marais, aangebied. Die paar het voortgegaan en met ‘n groep in ‘n vertoning genaamd Coffee and Cream vir ‘n tydperk van 10 maande opgetree. Coffee and Cream het toe ook later die duo se verhoognaam geword.

Die ervaring het tot ’n reeks rolle in musiekblyspele, waaronder Barnum, Godspell en Extravaganza by Sun City, gelei en Sam en Natali het die eerste bruin Suid-Afrikaners geword om hoofrolle in die vertoning te vertolk. “ Dit was ʼn glanslewe – en vir die eerste keer in my lewe het ek ’n vaste salaris verdien!”
Natalia het haar toekomstige man, akteur Kurt Egelhof ontmoet, hulle is getroud en het drie kinders gehad, en daarna het sy in 2001 na Kaapstad teruggekeer.
Sy het die stad beperkend gevind ná Johannesburg. “Daar was geen werklike werksgeleenthede nie en die omgewing was geïsoleerd. Dis of almal in ras- en kulturele silo’s vasgevang was.”

In die breë, meen Natalia, “is rassisme nog steeds groot” in Suid-Afrika. Sy beskryf dit as ’n soort chauvinisme: “Ek is seker daar is diegene wat steeds dink om wit te wees, is al waaroor dit gaan.”

Dit het haar ook opgeval dat ’n groot aantal begaafde jongmense aan talentvertonings in plaaslike winkelsentrums deelneem.“Tog het niemand hulle opgelei nie,” sê sy. Sy het 14 van dié kunstenaars gekies en hulle meer van die toneelkuns begin leer.

Die projek is as deel van die Applauz Arts, ’n organisasie sonder winsoogmerk (NPO), wat in 2003 begin is, uitgevoer. Meer onlangs het die NPO ’n persoonlikegeskiedenis-projek gereël wat jongmense aanmoedig om hulle stories en dié van hul gesinne deur middel van opvoerings te vertel.

“Ons werk het gewys ons is van ons geskiedenis afgesny,” sê Natalia. “Ons het nie werklik met die pyn van die verlede geworstel nie, en ons moes leer om ’n uitlaatklep daarvoor te vind.”

Dit is die soort inisiatief wat die US behoort te ondersteun, meen Natalia. Sy vrees “middelmatigheid het die norm geword” en doen aan die hand dat die Universiteit deur sy gegradueerdes ’n groter rol as bloot “oudstudente-klubs” vertolk. “Die Universiteit kan die land deur sy alumni help vorm,” sê sy.

In hierdie gees, werk Natalia deesdae nou saam met drama-studente aan die universiteit onder die vaandel van departementshoof dr Mareli Pretorius aan vermaak ter ere van Adam Small, die bekroonde digter en dramaturg, na wie die US se teaterkompleks onlangs vernoem is.

- Deur Mark Paterson -