Matiestemme

Phephelaphi Dube

Alumna van die Fakulteit Regsgeleerdheid


“Die geleenthede wat ek tot dusver in my lewe gehad het – soos om die hoër onderwys deur ’n instelling soos die Universiteit Stellenbosch te kon betree, wat my nie voorheen beskore sou gewees het nie – is grootliks danksy die Grondwet.”

As kind in die vroeë jare negentig het die wêreld vir Phephelaphi Dube na ’n onstuimige plek gelyk.

“Die aandnuus het oor oorloë in Koeweit, Bosnië-Herzegowina en Rwanda berig,” onthou sy.

“En daarna het dit oor die geweld in ons townships en in landelike KwaZulu-Natal gehandel. Dít het my aangespoor om konflik te verstaan, en te leer hoe om ’n vreedsame samelewing te handhaaf.”

Gedurende die KODESA-samesprekings, wat sy getrou gevolg het, het sy die belang begin besef van die strewe na ’n nasionale bloudruk wat almal se belange verteenwoordig en beskerm.

“Ek het ons Grondwet eerstens as ’n vredesverdrag verstaan, maar ook as ’n dokument wat elke Suid-Afrikaner in staat stel om hulle potensiaal ten volle te verwesenlik.”

Deesdae is Dube reeds byna twee jaar die direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, ’n eenheid van die FW de Klerk-stigting.

“Die geleenthede wat ek tot dusver in my lewe gehad het – soos om die hoër onderwys deur ’n instelling soos die Universiteit Stellenbosch te kon betree, wat my nie voorheen beskore sou gewees het nie – is grootliks danksy die Grondwet.”

Dube, wat haar in 2014 eers as regsbeampte by die FW de Klerk-stigting aangesluit het, beskryf die organisasie as ’n kampvegter vir die Grondwet.

“Ons beywer ons daarvoor om toe te sien dat die staat en die privaatsektor grondwetlike waardes en norme respekteer. Ons visie is om die Grondwet te bevorder as ’n bloudruk wat sorg dat alle burgers se lewensgehalte verbeter.”

Tot dusver was daar al heelwat belangrike mylpale.

“Een daarvan is Menseregtedag, want dít is wanneer ons die resultate van ons jaar lange navorsing oor die staat se nakoming van sy grondwetlike pligte bekend maak.

“Ek beskou ons Menseregteverslagkaart as ’n baie belangrike instrument om die sukses van die Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie te meet.”

Dube beskryf die verslag as ’n feitelike, objektiewe beoordeling sonder anekdotes en grootspraak, wat ’n mens Suid-Afrika se reis as ’n grondwetlike demokrasie beter help verstaan.

Een van die meer uitdagende aspekte van haar amp is om voorleggings oor verskeie wetsontwerpe aan parlementêre komitees te doen.

“Ek kom dikwels onder skoot as ek uitwys hoe wetsontwerpe en konsepwette verbeter kan word om grondwetlike regte verder te verwesenlik, want sommige Parlementslede beskou sulke voorstelle as ’n aanval op hulle onderskeie politieke partye.”

Waarom dink sy lê daar so ’n groot kloof tussen wat die Grondwet beloof en wat die gemiddelde Suid-Afrikaner in die praktyk beleef?

“Ek reken dit is grootliks te wyte aan swak politieke leierskap sowel as swak bestuurde openbare instellings.”

Sy verduidelik dan dat die staat sedert 1994 ’n paar merkwaardige prestasies in die lewering van goedere – waaronder maatskaplike sekerheid en behuising – behaal het.

“Maar die voortslepende swak gehalte van ons onderwys — tesame met berigte van staatskorrupsie en wanadministrasie – ondermyn hierdie prestasies.”

Weens die hoë vlakke van armoede, wantrou baie Suid-Afrikaners die staat, wat op sy beurt die land se maatskaplike samehang verswak. Hoe bewus dink sy is die gemiddelde Suid-Afrikaner van sy of haar grondwetlike regte?

“Oor die algemeen is die meeste Suid-Afrikaners bewus dat die Grondwet bestaan, maar dalk nie van die fyner besonderhede of nuanses van sekere bepalings nie.

“So byvoorbeeld gaan die meeste regte met beperkinge gepaard, waaruit ’n mens kan aflei dat jy in die uitoefening van jou regte ook ander se regte moet in ag neem.”

- Deur Steyn du Toit -