Matiestemme

Prof Rachel Jafta

Alumna van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Daardie oomblik wanneer hulle besef waartoe hulle in staat is, is vir my die beste geskenk.”

Prof Rachel Jafta vind ongelooflik baie bevrediging daarin om te sien hoe iemand se potensiaal ontsluit word.

“Daardie oomblik wanneer hulle besef waartoe hulle in staat is, is vir my die beste geskenk,” sê prof Jafta, wat al 25 jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Ekonomie verbonde is. Sy het ook haar meesters- en doktorsgraad aan die US behaal.

Naas haar akademiese verpligtinge, dien sy as ’n direkteur van Naspers, voorsitter van die Media24-direksie en is sy mede-stigter en direkteur van die konsultasiefirma Econex. Sy is ook die voorsitter van die Kaapstad Karnaval Trust, ’n stigterslid van die mentorskapprogram Rachel’s Angels en die dryfkrag agter WeCode24, ’n nuwe projek waardeur leerders in vier Kaapse skole blootgestel word aan rekenaarprogrammering.

Vir prof Jafta is die kombinasie van gemeenskapsbetrokkendheid, besigheidsbetrokkendheid, onderrig en navorsing baie belangrik.

“Dit wat ’n mens buite (die universiteit) leer, hou jou op hoogte van wat in die wêreld aangaan en jy kan dit weer by jou lesings inwerk. En die gemeenskapsbetrokkendheid leer my waaroor mense hul bekommer. Dis belangrik om te weet, want ons as universiteit moet waarde skep vir die gemeenskap waarbinne ons funksioneer en as ons verstaan wat hul knelpunte is, kan ons beter waarde skep.

“Die studente wat voor my sit, kom uit ’n verskeidenheid agtergronde en vir my om te kan verstaan hoe ek hulle beter kan help om hul potensiaal te ontsluit, moet ek hul uitdagings verstaan.”

Dit is ook hoe die Rachel’s Angels Trust in 2006 ontstaan het. Die mentorskapprogram was gemik op skole met baie eerstegenerasiestudente – leerders wat niemand ken wat by ’n universiteit studeer nie en nie weet watter geleenthede beskikbaar is nie. Studente van die US is gekeur om op individuele basis as mentors vir hierdie leerders op te tree en die leerders is ook bygestaan met aspekte soos loopbaanbeplanning en aanlegtoetse. Die projek is aan die einde van 2016 afgesluit toe die betrokke skole self eienaarskap daarvan geneem het.

Die nuwe projek – WeCode24 – is gerig op leerders wat nie sal kwalifiseer om vir ’n rekenaarwetenskapgraad te studeer nie, maar die talent het om te programmeer. Hulle word opgelei sodat hulle uiteindelik in die bedryf kan werk kry of dalk hul eie besigheid kan begin.

Onderliggend aan haar gemeenskapsbetrokkenheid, is die voorbeeld wat haar ouers – ’n plaaswerker en tuisteskepper – gestel het. Hulle het nie self skool voltooi nie, maar was vasberade dat hulle kinders leergeleenthede moes aangryp.

“Ek weet nie hoe hulle dit reggekry het nie, maar hulle kon altyd iemand help wat nog minder as ons gehad het,” onthou sy.

Prof Jafta het heeltemal uit haar gemaksone beweeg met die Kaapstad Karnaval, wat vir die eerste keer in 2010 aangebied is. Die droom van die Kaapstad Karnaval is om mense uit verskillende gemeenskappe byeen te bring om saam te werk aan een gesamentlike doelwit en daardeur te besef dat dit moontlik is om ’n vreedsame, verenigde Suid-Afrika te bou, ’n ideaal waarin sy onwrikbaar glo.

- Deur Pia Nänny -