Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Ramon Alexander - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Ramon Alexander

Alumnus van die Fakulteit AgriWetenskappe


“Ek geniet dit om te sien hoe my musiek dié dele van die wêreld bereik waar dit nog nooit was nie.”

Met geen idee wat om na matriek te studeer nie, het Ramon Alexander besluit om ʼn oorbruggingsjaar te neem en jazzklavier onder die destydse (1998) voorste jazzonderwyser in Kaapstad, Merton Barrow van die Jazz Workshop, te studeer.

Daarna het hy ʼn beurs van die Suid-Afrikaanse Lugdiens ontvang om wynbereiding te studeer en het sy BSc (Agric) in Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) begin. “Ek was nie ʼn baie goeie student tydens my wynbereidingskursus nie en ek het gou besef dat ek nooit ʼn wynmaker of wingerdboer sou wees nie. Ek onthou dat ek so ver van my medestudente verwyder gevoel het omdat hulle reeds van liefde en geesdrif vir hulle toekomstige loopbaan oorgeloop het – iets wat ek nóú as ʼn musikant ervaar,” vertel hy.

Nogtans het Ramon sy graad in wynbereiding in 2004 behaal, terwyl hy ook in orkeste gespeel en saam met medestudente aan Christelike uitreik-aksies op kampus deelgeneem het. Verder stig hy ʼn orkes met die naam ESP Band saam met ʼn aantal vriende en dit was hier waar hy sy potensiaal as komponis, orkesleier en bewerker kon begin verwesenlik.

Ramon sê dat hy vir ʼn wyle na hy sy graad behaal het, in ʼn wynwinkel by ʼn baie deftige hotel gewerk het, voor ʼn vriend en medespeler in die ESP Band hom genader het om musieklesse aan minderbevoorregte kinders in en om Stellenbosch te gee.

Dit was toe dat Felicia Lesch van die US Musiekdepartement hom raakgesien en gewerf het om inleiding tot jazzteorie en jazzklavier aan te bied vir die Musieksertifikaatprogram wat by die Konservatorium in Stellenbosch aangebied word.

Hy was 8 jaar lank ʼn deeltydse dosent in die program. Gedurende sy tyd by die Konservatorium het hy ook sy eie musiek begin opneem. Sy album saam met sy ESP Band, ‘Taxi 1022’ (2010), is eerste vrygestel en sy debuutalbum onder sy eie naam, ‘Picnic at Kontiki’ (2011), het die volgende jaar gevolg. Die tweede album onder sy eie naam, ‘Echoes from Louwskloof’ (2015), het hom in staat gestel om in 2016 by Kaapstad se Internasionale Jazzfees op te tree.

Tans is hy ʼn voltydse musikant wat opnames doen, CD’s vervaardig, komponeer en saam met talle musikante regoor die land optree. Hy werk ook as begeleier en musiekverwerker vir die Libertaskoor in Stellenbosch. Hy het reeds saam met ʼn magdom kunstenaars van oor die land en die wêreld in ʼn verskeidenheid genres opgetree en opnames gedoen.

“Ek hou van waar die werk my neem … elke dag nuwe mense ontmoet, plekke regoor die land, die kontinent en die res van die wêreld sien. Ek geniet dit om te sien hoe my musiek dié dele van die wêreld bereik waar dit nog nooit was nie. Dit is altyd opwindend wanneer ek kan optree. Ek wil net na my lewe kan terugkyk en vra ‘het ek ʼn sinvolle lewe gelei’?”

- Deur Elbie Els -