Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Sherlin Barends - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Sherlin Barends

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Ek wil nooit ophou groei en leer nie.”

Sherlin Barends is een van die drie stemme wat help om duisende Wes-Kaapse pendelaars elke oggend in ’n goeie bui by die werk te kry.

Saam met Darren “Whackhead” Simpson en Sibongile “Sibs” Mafu is haar unieke gevatte opmerkings en minsame geaardheid twee van die redes waarom dié drietal met die Beste Ontbytprogram-prys in verlede jaar se Liberty Radio-toekennings weggestap het.

“Om saam met Darren te werk is onvoorspelbaar, jy weet nooit wat om te verwag nie,” antwoord Sherlin spontaan op die vraag hoe dit voel om skouers met hierdie plaaslike radiolegende te skuur.

“Hy is al meer as twee dekades in die bedryf en daag steeds elke dag hier op asof dit sy eerste of laaste program is. Alhoewel Whackhead veral vir sy poetse en humor bekend is, het hy baie mense se lewens op ’n dieper vlak beïnvloed. Net nou die dag het ’n dame vertel hoe Darren se vorige radioprogram in Johannesburg haar ‘lewe gered het’ toe sy in rehab was.”

Sherlin sê Sibs is ongelooflik goed met die dinge wat sy doen, en sy is die spanlid wat met broodnodige sport- en ander brokkies die program opkikker.

“My ‘werksvrou’ en ek deel verskeie spesiale oomblikke op die lug en van die lug af. Verlede jaar was ons twee in Marie Claire se laaste ‘Naked Issue’, wat als oor selfliefde en selfaanvaarding handel.”

In reaksie op ’n vraag oor haar herinneringe as student aan die Universiteit Stellenbosch onthul Sherlin dat, alhoewel haar oupa daar gewerk het, haar eie ma nie toegelaat is om daar te studeer nie.

“Die feit dat ek aan hierdie eens gesegregeerde instelling kon afstudeer, staan gewis vir my uit. Ook om deel te kon wees van die US se nagraadse joernalistiekklas waarvoor slegs 25 studente jaarliks aanvaar word. Laastens, my benoeming as Aanbieder van die Jaar by MFM92.6 was ’n verdere belangrike hoogtepunt vir my.”

Sy glo die kampusradio-ervaring terwyl sy voltyds studeer het, het baie gehelp om haar op haar huidige verantwoordelikhede voor te berei.

“Ek wou die universiteit met meer as net my graad verlaat. Ek was deel van Aurora se HK, het sokker gespeel, deeltyds as kelnerin gewerk, en was met die kampusradio gemoeid.

“Laasgenoemde het my lewe verander en baie deure vir my oopgemaak. Ek het omtrent als wat ek weet by MFM92.6 geleer. Ek sou nie die persoon of aanbieder wees wat ek vandag is as dit nie vir MFM was nie.”

Sy glo dit is geweldig belangrik dat vandag se vermaaklikheidspraktisyns terselfdertyd verskeie professionele hoede moet dra, en hoewel dit heelwat kruisbestuiwing verg, is dit bevredigend om op verskeie platforms te kan werk en daar uitdrukking aan haarself te kan gee.

“Dit maak nie saak watter platform dit is nie, jou inhoud moet outentiek wees. Verbruikers en handelsmerke is slim, moenie probeer om hulle te mislei nie. Deur jouself te wees, wakker jy jou passie aan en kan jy die rekeninge betaal.”

Op haar loopbaanpad as aanbieder het sy die geleentheid gehad om met bekende plaaslike en internasionale ikone onderhoude te voer. Wie staan vir haar uit?

“Om daar met Carlos Santana en sy vrou en orkeslid Cindy Blackman te sit en gesels was ’n persoonlike hoogtepunt. Hulle is albei so bewus van en in pas met hul passie, doel en krag. Dit was heerlik om te sien.”

Sherlin sê sy glo nie daaraan om heeltyd besig en produktief te wees nie, maar eerder om ’n balans te probeer handhaaf.

“Werk hard en speel hard. Ek hou daarvan om in Kaapstad te stap, want dis mooier as enige gimnasium. Om goeie kos te eet en goeie wyn te drink, is altyd ’n goeie idee.”

Met haar teenwoordigheid op radio, televisie, in die gedrukte media en op sosiale media is 2019 beslis ’n baie besige jaar. Wat is volgende?

“Seisoen 2 van die Afrikaanse speletjiesprogram Wat Maak Jy? is tans op VIA (Maandae om 18:00) te sien. Ek hoop om later vanjaar die derde seisoen te kan opneem en aanbied. Ek skryf ook ’n weeklikse rubriek vir die Weekend Argus. Dit is ’n ruimte waar ek die geleentheid kry om aanvegbare menings te uiter.”

Sy wou altyd die persoon agter die mikrofoon en die kamera wees, maar Sherlin sê wanneer jy in die bedryf is, kom jy agter dit is dikwels die mense agter die skerms wat die werklike mag en invloed uitoefen.

“Ek wil later vanjaar ’n feministiese digitale reeks aanbied en vervaardig. Ek wil nie net inhoud aanbied nie, maar ook oorspronklike inhoud vervaardig. Ek wil nooit ophou groei en leer nie.”

- Deur Steyn du Toit -