Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Tony Maake - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Tony Maake

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Wanneer jy hou van wat jy doen, soek jy oplossings in plaas van opgee.”

In sy grootwordjare aan die Oos-Rand, in Katlehong, wou Tony Maake medies, of BSc in Menslike Lewenswetenskappe gaan studeer, maar hy het van plan verander ná hy ʼn winterkursus aan die Universiteit Tübingen in Duitsland bygewoon het. Uiteindelik het hy Molekulêre Biologie en Biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer en sy BSc in 2018 behaal.

“Toe ek daar aangekom het, was Stellenbosch nog nie getransformeer nie; dus was rassisme een van my grootste uitdagings en het ek aktiwiteite in werking gestel wat die gemeenskap verander en studente uitgedaag het om uit hulle gemaksones te beweeg en hulle horisonne te verbreed,” sê hy.

Een van sy mooiste herinneringe is sy besoeke aan prof Eugene Cloete in sy eerste jaar. Hulle het gesels oor sukses, hoe hy die Stellenbosch-gemeenskap met fotografie kon verander en die status quo kon uitdaag. Tony sê dat prof Cloete hom baie ondersteun het in sy ondernemings buite die akademie.

Tony was ʼn klasverteenwoordiger in mikrobiologie, tesourier van die Natuurwetenskapkomitee en het ʼn sertifikaat van die Tübingen Suid-Afrikaanse Program van die Universiteit Tübingen in Duitsland ontvang. In 2015 is hy deur die Stellenbosch Fotografievereniging aangewys as beste fotograaf van die jaar en het ook sertifikate ontvang van die Stellenbosch Laserafdeling in Fotografie in die Departement Fisika.

In 2013 het die Kreatiewe Fotografievereniging in Stellenbosch hom as fotograaf van die jaar in ʼn foto-uitdaging aangewys. In 2015 was hy een van die finaliste in die fotokompetisie ‘Swedish Innovations South African Interpretations’ en het hy ʼn sertifikaat van eervolle vermelding van Transparency International ontvang. In 2016 het hy die toekenning as beste fotograaf van die jaar by die ‘Honesty Oscars’ ontvang.

Tony was ook die stigter van Tonys Houz Children’s Foundation, wat hy in 2015 as ʼn nieregeringsorganisasie geregistreer het. Terwyl hy besig was om foto’s vir die projek ‘Behind the smile of an African child’ te neem, het hy begeesterd geraak om ʼn kinderstigting vir gemeenskapsdienste te begin. Hierdie stigting skep programme om gemeenskappe en skole in townships te help deur hulle met die nodige akademiese en lewensvaardighede te bemagtig. Buiten dat hy ʼn bekroonde fotograaf is en help om kinders te bemagtig, sien hierdie Matie met die vele talente hom ook as ʼn modestilis en beïnvloeder van mansdrag wat die AfroDandy-beweging laat groei. Dit doen hy, volgens hom, deur sy geesdrif vir stylvol aantrek elke dag en oral te deel.

Volgens Tony was die verandering van student na werknemer nogal ʼn uitdaging, maar hy geniet dit om onafhanklik te wees en sy kennis en ondervinding toe te pas. Tony werk tans as mikrobioloog. “Wanneer jy hou van wat jy doen, soek jy oplossings in plaas van opgee. Ek het baie uitdagings getrotseer, tot op die punt dat ek amper opgegee het. Ek het al soveel keer misluk en my geliefdes en die mense wat my ondersteun, teleurgestel. Ek wou amper opgee, maar ek het nie. Ek het soveel keer probeer en misluk, maar nooit ophou probeer nie, omdat ek myself belowe het dat ek nie sal ophou omdat ek moeg is nie. Ek sal ophou wanneer ek klaar is.
“ʼn Wyse man het gesê ‘as jy lank genoeg by die haarkapper rondhang, gaan jou hare vroeër of later gesny word’.” Gelykheid, vryheid van spraak, integriteit, konsekwentheid, deursettingsvermoë, toewyding en eerlikheid is baie belangrike waardes in Tony se lewe.

Hierdie talentvolle Matie wil nog vir sy ma ʼn huis bou, fotografie aan kinders uit benadeelde skole leer, ʼn boek oor sy fotografie publiseer en besighede begin in die gebied waar hy vandaan kom, om meer werksgeleenthede vir die jeug te skep.

- Deur Elbie Els -