Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 646

Warning: "continue" targeting switch is equivalent to "break". Did you mean to use "continue 2"? in /home/stb100/public_html/wp-content/plugins/types/vendor/toolset/types/embedded/includes/wpml.php on line 663
Yvonne Dyum - Universiteit Stellenbosch

Matiestemme

Yvonne Dyum

Alumna van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe


“Om ʼn verskil aan ʼn individu se lewe te maak, laat my elke oggend opstaan en dit weer van voor af doen ... vir die volgende persoon.”

Met so baie vakgebiede om uit te kies, is die keuse van die regte loopbaan een van die moeilikste besluite vir leerders. Yvonne Dyum is een van die gelukkiges wat van kleins af nog altyd ʼn dokter wou wees.

Daar was vir haar niks meer opwindend as om te praat oor hoe sy eendag ʼn dokter gaan wees en siek mense help nie. Sy is in die Oos-Kaap gebore en toe sy twee was, het sy saam met haar gesin Stellenbosch toe getrek. Sy het op die Muratie Landgoed grootgeword, waar haar ouers algemene plaaswerkers is.

In 2009 het sy aan die Hoërskool Cloetesville gematrikuleer, maar haar matriekuitslae was nie goed genoeg om vir mediese studies aanvaar te word nie. Sy het by die SciMathUS-program aan die Universiteit Stellenbosch aansoek gedoen, wat matrikulante help om hulle wetenskap- en wiskundepunte te verbeter. Ná sy die eenjaarprogram afgehandel het, is Yvonne vir mediese studie aanvaar, en sy het in 2016 afgestudeer.

“My mooiste herinneringe aan die kampus is die sterk vriendskappe wat ek vandag nog koester. Ja, die mediese opleiding was moeilik, maar ek het vir myself gesê – ‘jy het te ver gekom om nou op te gee’.” Sy is dankbaar vir die waardes soos deursettingsvermoë, dankbaarheid, nederigheid en verantwoordelikheid, wat sy by haar ouers geleer het. “Eerlikheid, respek, medelye en hoflikheid –‘asseblief’, ‘dankie’ en ‘dis ʼn plesier’ bring jou ook ver,” sê Yvonne.

Sy is tans in die tweede jaar van haar internskap by Uitenhage Provinsiale Hospitaal in die Oos-Kaap en wag om te hoor waar sy haar gemeenskapsdiens in 2019 moet doen. “Ek kan nie ontken dat ons daagliks baie uitdagings in ons gesondheidsorgstelsel moet trotseer nie, maar die glimlagte en dankbaarheid van die meerderheid pasiënte maak dienslewering aangenaam.”

Sy voel dat beperkte hulpbronne die lewe vir gesondheidsorgverskaffers bemoeilik, maar as sy haarself herinner aan waarom sy dit doen, vind sy maniere om hierdie struikelblokke te oorkom, met die doel om die beste gesondheidsorg aan die gemeenskap te lewer.

“Om ʼn verskil aan ʼn individu se lewe te maak, laat my elke oggend opstaan en dit weer van voor af doen … vir die volgende persoon. Ek hoop om eendag op ʼn gebied te spesialiseer wat my sal help om te groei en aanhou om ʼn verskil te maak; maak nie saak hoe groot of klein nie.”

- Deur Elbie Els -