Matie-stemme

Dr JP Rupert

US-kanselier 2009–

Dr Johann Peter Rupert is op 1 Junie 1950 gebore, het op Stellenbosch grootgeword en het sy hoërskoolopvoeding by Paul Roos Gimnasium voltooi voor hy by die Universiteit Stellenbosch (US) vir ’n graad in ekonomie en maatskappyereg ingeskryf het. Hy het sy studies opgeskort voor hy gegradueer het om ’n loopbaan in die sakewêreld te volg, maar in 2005 het die US aan hom ’n eredoktorsgraad in ekonomie toegeken. Hy het ook in 2008 ’n eredoktorsgraad in handel van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit ontvang.

Nadat hy Stellenbosch verlaat het, is Rupert na die buiteland om sy sakevernuf in New York City te slyp. Hy het die volgende vyf jaar vir Chase Manhattan en Lazard Freres gewerk. In 1979 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en Rand Merchant Bank gestig, van wie hy die uitvoerende hoof was. Toe die maatskappy vyf jaar later met Rand Consolidated Investments saamsmelt, is hy daar weg om by sy familie se maatskappy, die Rembrandt Groep, aan te sluit. Hy het in 1989 ondervoorsitter van die groep geword en is in 1991 tot voorsitter bevorder. In 1988 het hy Richemont as ’n gevolg van die Rembrandt Groep Beperk gevestig.

Rupert het met verloop van tyd ook ’n passie vir bewaring en filantropie ontwikkel – hy het byvoorbeeld ongeveer 25 000 hektaar in die Graaff Reinet-omgewing bewaar – en het as lid van die raad/direksie of trustee van die Suid-Afrika Stigting, Vredesparke Stigting, Die Suider-Afrikaanse Natuurstigting, Die Instituut van Direkteure in Suider-Afrika, Besigheid Suid-Afrika, asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gedien. Daarbenewens is hy ’n besturende trustee en lid van die beleggingskomitee vir die Nelson Mandela Kinderfonds en het op die Daimler Chrysler Internasionale Adviesraad gedien.

In 2009 het hy dr F Van Zyl Slabbert as die US se veertiende kanselier (’n pos wat hy tans beklee) opgevolg.

Onder die toekennings en eerbetonings wat Rupert tot dusver ontvang het, is die benoeming as Sakeleier van die Jaar (verskeie kere) deur Die Burger, Sunday Times en die Kaapstadse Kamer van Koophandel. Hy is ook in 1992 as een van 200 internasionale leiers van die toekoms deur die Wêreld Ekonomiese Forum in Switserland aangewys en het in 2009 die Ordre National de la Légion d’Honneur van die president van Frankryk ontvang.

In September 2018 is Rupert in New York die Appeal of Conscience World Leader Award for 2018 vir sy filantropie en werk met die Nelson Mandela Kinderfonds toegeken.

– Deur Steyn du Toit