Matie-stemme

Mnr PW Botha

US-kanselier 1985–1988

Mnr Pieter Willem (PW) Botha is op 12 Januarie 1916 op die plaas Telegraaf in die Paul Roux-distrik van die Vrystaat gebore. Nadat hy in Bethlehem gematrikuleer het, het hy vir ’n regsgraad aan die Grey Universiteitskollege (vandag die Universiteit van die Vrystaat) ingeskryf. Hy was gedurende dié tydperk ook ’n deeltydse verslaggewer vir die koerant Die Volksblad en ’n lid van die Afrikaanse Nasionale Studentebond.

Hy het op kampus al hoe meer polities aktief geword, soos om te help met die reëling van die Nasionale Party (NP) se tussenverkiesing, en het ook die voorsitter van die party se tak op kampus geword. Dit het gelei tot ’n besluit om sy studies te onderbreek om voltyds ’n loopbaan in die politiek te volg.

Toe eerste minister DF Malan die kampus in 1936 besoek het, het Botha (20) ’n toespraak aan Malan gelewer wat die staatsman só beïndruk het dat hy hom ’n pos as politieke organiseerder in die Kaapprovinsie aangebied het. In 1946 is hy tot unie-inligtingsbeampte van die organisasie bevorder. Botha het later sy studies deur middel van korrespondensie hervat.

Nadat hy hom in 1948 as kandidaat vir die NP verkiesbaar gestel het, was Botha se eerste amp in die nasionale parlement as ’n LP vir die party se George-kiesafdeling. Tien jaar later, in Oktober 1958, is hy as adjunkminister van binnelandse sake aangestel en het dié amp vir drie jaar beklee.

Met Suid-Afrika se republiekwording op 31 Mei 1961 is Botha deur die destydse eerste minister Hendrik Verwoerd die posisie van minister van gemeenskapsontwikkeling en Kleurlingsake aangebied. Hy was vir die volgende dekade aan die stuur van vier departemente waarvan die laaste een vanaf 1966 minister van verdediging was.

Toe eerste minister BJ Vorster in 1978 bedank, het Botha die daaropvolgende verkiesing as Vorster se opvolger gewen. Ná wysigings in 1984 aan die Suid-Afrikaanse Grondwet aangebring is, is hy as die land se eerste uitvoerende staatspresident ingehuldig. Hy het hierdie amp tot 1989 beklee. Gedurende sy ampstermyn het hy verskeie Wes-Europese hoofstede in ’n amptelike hoedanigheid besoek, wat hom die eerste Suid-Afrikaanse staatshoof in baie dekades gemaak het om dit te doen.

Botha was van 1985 tot 1988 kanselier van die Universiteit Stellenbosch. Hy is op 31 Oktober 2006 op 90-jarige ouderdom by Die Anker, sy huis naby Wildernis in die Wes-Kaap, oorlede.

– Deur Steyn du Toit