Matie-stemme

Prof AH van Wyk

US-rektor en -visekanselier 1993–2001

Prof Andreas Hercules (AH) van Wyk, gebore in Pretoria op 17 September 1941, het met sewe onderskeidings by die Helpmekaar Kollege gematrikuleer. Hy het sy voorgraadse en nagraadse kwalifikasies cum laude aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Bonn in Duitsland verwerf, voordat hy in 1976 tot doktor in die regsgeleerdheid aan Leiden Universiteit in Nederland (ook cum laude) bevorder is.

Beskryf as ’n ‘details man’ wat ook ’n ywerige swemmer, historikus, taalkundige en liefhebber van 18de- en 19de-eeuse klassieke musiek was, het Van Wyk vir die eerste keer in 1966 as ’n dosent in privaat- en handelsreg by die US aangesluit. Buite die klaskamer het sy bydraes tot publikasies soos Die Suid-Afrikaanse Kontraktereg en Handelsreg gehelp om die grondslag te lê vir ’n hele generasie plaaslike prokureurs, dosente in maatskappyreg en potensiële nuwe studente op die gebied. Daarbenewens word doktorale studente wat onder sy toesig was regoor al Suid-Afrika se regsberoepe en -instellings gevind.

Nadat hy in 1983 as dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aangestel is, het Van Wyk op verskeie komitees van die Universiteit gedien tot en met sy aanstelling as viserektor van bedrywighede in 1991. Dit is gevolg deur sy aanstelling as rektor en visekanselier in 1993, wat die begin was van ’n tydperk wat vir beide die Universiteit en die land sosiaal en polities hoogs beduidend was.

Belangrike sake na aan Van Wyk se hart tydens sy termyn as rektor, wat in 2001 geëindig het, het die handhawing van gebruiklike akademiese en ander standaarde, behoud van Afrikaans as akademiese taal, asook voorspraak vir die regte van minderheidsgroepe om te kan bewaar wat vir hulle belangrik is, ingesluit.

– Deur Steyn du Toit