Matie-stemme

Prof JI Marais

US-kanselier 1918–1919

Die Universiteit Stellenbosch (US) se heel eerste kanselier, prof Johannes Izaak (JI) Marais, is op 23 Augustus 1848 in Kaapstad gebore. Nadat hy sy teologiese opleiding voltooi het, het hy die eerste been van sy loopbaan as ’n praktiserende NG-predikant in Kaapstad en die Noord-Kaap deurgebring.

Gedurende hierdie tydperk het hy en sy vrou Hester Fehrsen aktief by gemeenskapsopheffing in en rondom Hanover en Richmond betrokke geraak, en veral die ontwikkeling van jongmense.

Gedurende 1877 het Marais se loopbaan meer na hoër onderwys en akademiese navorsing begin neig toe hy as professor by die kweekskool in Stellenbosch aangesluit het. Hy was later, tussen 1882 en 1912, ook raadsvoorsitter van die Stellenbosch Kollege wat later na Victoria Kollege herdoop is.

Marais, wat self as ’n vurige, lewenslange debatvoerder bekend was, het in sy handelinge met studente die sokratiese en kategetiese metodes toegepas. Met die US se formele totstandkoming met vier fakulteite in 1918, is hy deur die konvokasie benoem om die amp as die instelling se eerste kanselier te beklee.

Die US het die volgende jaar nog ’n mylpaal gevier toe die eerste gradeplegtigheid op 9 April 1919 onder die beskerming van Marais plaasgevind het. Dit sou ook sy laaste wees, want die akademikus is later die jaar op 27 Augustus oorlede.

As vertaler, kritiese denker, dosent, navorser, rubriekskrywer, prosaïs en ten tye selfs reisjoernalis, sluit Marais se skryfwerk bydraes in tot die International Standard Bible Dictionary en SA Journal of Science, selfgepubliseerde publikasies soos Geschiedenis der Christelijke Kerk en Geschiedenis der Nederduits Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika tot op de Grote Trek, asook gereelde artikels in tydskrifte en koerante soos die Gereformeerde Maandblad, De Volksbode en De Zuid-Afrikaan.

Hy was ook die ontvanger van eregrade van die Universiteit van St Andrews in Skotland en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

– Steyn du Toit