Matie-stemme

Prof PJG de Vos

US-kanselier 1919–1931

Prof Pieter Jacobus Gerhardus (PJG) de Vos is op 29 Oktober 1842 op die plaas Olifantsberg in die omgewing van Worcester gebore. Hy het vanaf ’n vroeë ouderdom ’n belangstelling in die Christelike godsdiens getoon en wou meer te wete kom van die verwante antieke tale, veral Latyns, Grieks en Hebreeus.

Hy het op 20-jarige ouderdom as topstudent sy studies in teologie by die South African College voltooi. Met sy vertrek na die kweekskool in Stellenbosch om sy kwalifikasies uit te brei, het sy dosente en medestudente ’n ere-silwer inkstander aan hom oorhandig.

De Vos was lid van die derde groep studente by die kweekskool en was weereens die toppresterende student. Die laaste skof van sy opvoedkundige reis het hom na Skotland geneem, voor sy terugkeer na Suid-Afrika as predikant van die NG Kerk. Hy het in die daaropvolgende jare verskeie gemeentes bedien, onder meer die gemeenskappe van Piketberg, Caledon en Riversdal.

In 1883 het De Vos egter teruggekeer na die Eikestad om ’n professoraat in dogmatiek en die Ou Testament by die kweekskool te aanvaar. Daarbenewens het hy tot 1908 op die raad van die Stellenbosch Kollege én die Victoria Kollege gedien.

Een van die dinge na aan De Vos se hart tydens sy jare op Stellenbosch was die kwessie van verblyf vir studente van elders heen. Hy was aan die hoof van die span wat voorspraak gelewer het vir ’n reeks uitgebreide koshuise (bekend as jongmanshuise) oorkant die Eersterivier. Hy het ook die eerste bedryfsinstelling genaamd Industria vir behoeftige seuns in dieselfde gebied gevestig, waar hulle in die landbou en ander ambagsvaardighede opleiding kon ontvang.

Met die US se formele totstandkoming in 1918 het hy die daaropvolgende jaar, ná die ontydige afsterwe van prof JI Marais, die instelling se tweede kanselier geword. Hy is namens die mense van Suid-Afrika en ter erkenning van sy edelmoedige lewe en vrugbare loopbaan deur sy alma mater met ’n eregraad in LittD beloon.

– Deur Steyn du Toit