Matie-stemme

Prof SFN Gie

US-rektor 1925–1926

Historikus, diplomaat, opvoeder en skrywer, prof Stefanus Francois Naudé (SFN) Gie is op 13 Julie 1884 in die Wes-Kaap gebore. Hy het sy skoolopleiding by Worcester Seuns Hoërskool voltooi voordat hy vir ’n tersiêre kwalifikasie by die Victoria Kollege in Stellenbosch (vandag bekend as die Universiteit Stellenbosch [US]) ingeskryf het.

Gie het ook sy onderwysdiploma in Grahamstad verwerf voordat hy sy akademiese studies aan die Universiteit van Amsterdam, asook die Humboldt Universiteit van Berlyn (hier het hy sy doktorsgraad ontvang) voortgesit het.

Terug in Suid-Afrika het Gie tussen 1906 en 1909 as onderwyser in Cradock en Worcester gewerk. Dit is gevolg deur ’n tweejaartydperk as inspekteur van skole (1910-1911) en ’n paar jaar diens as hoof van die Onderwysersopleidingskollege in Graaff-Reinet.

Gie het in 1918 na Stellenbosch teruggekeer nadat ’n leerstoel vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis by die US ingestel is en hy as professor die leerstoel ingeneem het. Hy het tot 1925 hierdie pos beklee toe hy gedurende die eerste semester gevra is om in die afwesigheid van prof Cillié as voorsitter van die Senaat waar te neem. Hy is in Julie voltyds in die pos aangestel en het dit vir een jaar beklee.

Gedurende sy tyd aan die US het Gie een van die grootste take van sy lewe voltooi – die publikasie van ’n standaard- historiese werk getiteld Geskiedenis van Suid-Afrika, of Ons Verlede wat later tot Geskiedenis van Suid-Afrika, 1652-1795 hernoem is.

Gie het deur sy lewe op ander gebiede ook ’n passie vir kultuur en die teater uitgeleef. Hy was byvoorbeeld gedurende 1915 ’n stigterslid, akteur en regisseur van die Graaff-Reinetse Letterkundige en Toneelvereniging en was mederegisseur van dié entiteit se eerste produksie. Hy het ook tot die stigting van Die Voortrekkers bygedra.

Na sy vertrek van die Universiteit het Gie in 1926 die pos as die Unie van Suid-Afrika se sekretaris van onderwys aanvaar. Daarna het hy tussen 1934 en 1939 as die Suid-Afrikaanse gesant na Berlyn gedien, voordat hy kort voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog in ’n soortgelyke pos in Den Haag aangestel is.

Dit is gevolg deur ’n tydperk as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Stockholm (1939-1944), asook in Washington D.C. (1944-1945) waar hy op 10 April 1945 oorlede is.

– Deur Steyn du Toit