Matie-stemme

Prof W Blommaert

US-rektor 1926–1933

Prof Willem (W) Blommaert is op 15 Junie 1886 in Oos-Vlaandere in België gebore. Hy het sy primêre onderwys in België ontvang voordat hy by die Universiteit van Gent vir ’n tersiêre graad ingeskryf het. Hy het daar onder historikus en politieke aktivis Henri Pirenne gestudeer en uiteindelik sy doktorsgraad in geskiedenis (magna cum laude) vir sy proefskrif getitel Les Châtelains de Flandre verwerf.

Blommaert het as student aktief by die kampus- en studentelewe betrokke geraak. Hy was byvoorbeeld voorsitter van die Historiese Vereniging asook ’n lid van die studentegemeenskap ‘t Zal wel gaan’. Nadat hy gegradueer het, het die Universiteit van Gent hom ’n pos as dosent in geskiedenis aangebied, maar hy het verkies om in 1910 eerder ’n posisie in Suid-Afrika te aanvaar as adjunk in die Departement Geskiedenis van die Victoria Kollege (vandag bekend as die Universiteit Stellenbosch). Hy is die volgende jaar tot voltydse professorskap bevorder en het hierdie pos vir die volgende 15 jaar beklee.

Een van die projekte wat hy gedurende hierdie tydperk aangepak het, was die uitgawe Uit Ou Reisbeskrywings: Dagverhale en Ander Letterkundige Bronne oor die Kaap (met prof SFN Gie as medeskrywer). Die oogmerk was om die geskiedenis van die eerste 50 jaar van nedersetting in die Kaapprovinsie in ’n meer betreklike formaat aan jonger lesers voor te lê. Hy het ook navorsing onderneem en empiriese bewys gevind van die egtheid van die verdrag tussen Piet Retief en Dingane.

Toe prof Gie die universiteit in 1926 verlaat, is Blommaert tot professor in algemene geskiedenis en ontwikkeling bevorder. Hy is hierbenewens ook as voorsitter van die Senaat aangestel. Van die belangrike gebeure wat gedurende sy ampstermyn by die instelling plaasgevind het, is die vestiging van die Departement (later Fakulteit) Bosbou, asook die samesmelting van die Fakulteit Landbou en Elsenburg Kollege. Verskeie akademiese geboue, ’n nuwe sportterrein en die pawiljoen by die Coetzenburg-stadion is ook in hierdie tydperk opgerig.

Prof Blommaert is op 18 Oktober 1934 in die tuig oorlede. Hy was op daardie stadium nog besig met verskeie ambisieuse projekte, waaronder die Van Riebeeck Vereniging se Die Joernaal van Dirk Gysbert van Reenen, 1803, waarvan hy saam met prof JA Wiid mederedakteur was. Hy het ook uitgebreide navorsing oor die slawegemeenskap aan die Kaap gedoen, wat in 1938 se Argiefjaarboek vir die Suid-Afrikaanse Geskiedenis verskyn het.

– Deur Steyn du Toit