Matie-stemme

Prof WJS de Villiers

US-rektor en -visekanselier 2015–

Die 12de rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Willem “Wim” Johan Simon (WJS) de Villiers, is in 1959 op Stellenbosch gebore. Hy het in 1977 by Paul Roos Gimnasium gematrikuleer en die hoogste punte uit alle studente in die (voormalige) Kaapprovinsie behaal. As student aan die US het hy in 1983 die Francie van Zijl-medalje en Kanseliersmedalje vir akademiese prestasie ontvang toe hy sy baccalaureus in geneeskunde en baccalaureus in chirurgie (MBChB) cum laude geslaag het.

Ná registrasie as geneesheer by die Suid-Afrikaanse Mediese en Tandheelkundige Raad in 1984, het De Villiers by die Frere Hospitaal in die Oos-Kaap as intern en mediese beampte begin werk. Hy het op daardie stadium ook besluit om in gastroënterologie te spesialiseer. Dit is gevolg deur ’n tydperk in Pretoria voordat hy in 1986 die pos van registrateur in die Departement Interne Geneeskunde by die US aanvaar het.

De Villiers is in die 1990’s na die Verenigde Koninkryk, waar hy in 1995 sy DPhil in immunologie aan die Oxford Universiteit behaal het. Nadat hy gegradueer het, het hy ’n pos by die Universiteit van Kentucky se mediese sentrum in Lexington aanvaar, waar hy vir die volgende 18 jaar sou aanbly.

Hy het gedurende hierdie tydperk met geesdrif gewerk om die immunologie van die dermkanaal en veral die rol van die aangebore immuunstelsel en makrofage te verstaan, en het hiervoor sy meestersgraad in gesondheidsorgbestuur aan die Harvard Universiteit verwerf en prominensie is vier keer in The Best Doctors in America aan hom verleen. Daarbenewens is sy werk in top mediese joernale, waaronder die New England Journal of Medicine and Gastroenterology, gepubliseer. Sy laaste pos by die Universiteit van Kentucky was dié van hoof van gastroënterologie en administratiewe hoof van die Good Samaritan Hospital in Lexington.

Prof De Villiers het in 2013 na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy die pos as dekaan van gesondheidswetenskappe by die Universiteit Kaapstad (UK) aanvaar het. Hy het egter twee jaar later die oorgang na die US gemaak, waar hy sedert 2015 die pos van rektor asook visekanselier beklee het.

Onder die professionele erkennings wat hy tot dusver ontvang het, is ’n ereprofessorskap in interne geneeskunde van die US, ’n fellowship tot die American Gastroenterological Association, die Marcos Lins Andrade Endowed Chairship in Gastroenterology, asook ’n ere-fellowship tot die Suid-Afrikaanse Gastroënterologiese Vereniging. Hy is ook onder meer ’n lid van die Research Committee of the American College of Gastroenterology en die Vereniging van Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf).

– Deur Steyn du Toit