Tydlyn

'n Honderd jaar nadat die US op 2 April 1918 met vier fakulteite (Natuurwetenskappe, Onderwys, Lettere en Sosiale Wetenskappe en AgriWetenskappe), 503 studente en 40 akademiese personeellede begin het, is die Universiteit se vyf kampusse vandag 'n tuiste vir 10 fakulteite, 'n lewenslustige en kosmopolitaanse gemeenskap van meer as 30 000 studente en 3000 personeellede.

1859 - 1917

Van kweekskool, seunskool en kollege tot universiteit

1859

Op 1 November open die Teologiese Seminarium (algemeen die Kweekskool genoem) in Stellenbosch. Behalwe vir ’n groot tekort aan predikante was dié kerk ook ontevrede met hoe leraars in Nederland opgelei is. Dorpsbewoners het vroeër die eertydse drosdygebou (uit die Nederlandse VOC-tydperk, in Dorpstraat) gekoop en as seminariumgebou aan die kerk geskenk.


1866

Vir teologiestudente se skoolopleiding was ’n hoërskool ook nodig – ’n gimnasium wat soos in Nederland Latyn en Grieks aangebied het. Hiervoor word die Stellenbosche Gymnasium (nou die Paul Roos-gimnasium) gestig – met onderwysers uit Skotland.


1874

Ná ’n wet van die destydse Kaapse parlement word die gimnasium ’n vorm van tersiêre inrigting – dit kry ’n Arts Department, met afdelings vir Lettere en Wysbegeerte en vir Wis- en Natuurkunde.


1879

Stellenbossers vier twee eeue sedert die aanlê van ’n landbounedersetting in 1679, waaruit die dorp Stellenbosch in 1685 ontstaan het. Die dorpsbewoners besluit om as “monument” hiervoor ’n kollegegebou op te rig.


1880

Dié gimnasium met die Arts Department word die Stellenbosch College and Public School.


1886

Dié kollege se deftige nuwe gebou (deesdae bekend as die Ou Hoofgebou) word ingewy. Met die inwyding daarvan word besluit om die kollege te vernoem na koningin Victoria, wat in 1887 vyftig jaar op die Britse troon sou wees.


1887

Uit Londen laat weet die paleis dat haar majesteit “graciously pleased” was met dié voorstel. Die kollege heet nou “Viktoria Kollege” soos dit in “Hollands” genoem is. Vir 30 jaar, tot 1917, was dit landwyd as akademiese instelling van gehalte bekend.


1915

’n Stryd het in die voorafgaande jare ontstaan om erkenning vir die kollege as ’n volwaardige universiteit te kry. Ná die dood van mnr Jannie Marais van die Stellenbosse plaas Coetzenburg in Mei 1915 verkry die kollege £100 000 pond as erfenis – dit gee die nodige finansiële volhoubaarheid om universiteitswording te verseker.


1916

Die Unie-parlement aanvaar “De Universiteit van Stellenbosch-wet” (wet 13 van daardie jaar) wat universiteitstatus verleen aan die Victoria Kollege, Stellenbosch.


1916

Drie parlementswette op een dag bepaal dat die Universiteit van Suid-Afrika (deedae ook bekend as Unisa), die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Stellenbosch elkeen op 2 April 1918 universiteitstatus verkry.


Terug na bo

1918 - 1929

Vestigingsdekade

1918

Prof JI Marais, ’n teoloog by die Kweekskool (Teologiese Seminarium) word deur die konvokasie verkies tot eerste kanselier, ’n seremoniële amp. Die manskoshuis Huis Marais is later na hom vernoem.


1918

Soos vooraf deur die regering bepaal, is Dinsdag 2 April 1918 die “vasgestelde dag” waarop die US se werksaamhede as universiteit begin, met vier fakulteite.


1919

In April geskied die US se eerste gradeplegtigheid, met prof Marais as kanselier – die eerste keer dat Stellenbosse studente se kwalifikasies hier toegeken is. [Voorheen is almal wat afgestudeer het aan die Victoria Kollege (én die kollege waaruit die Universiteit Kaapstad sou ontstaan) se kwalifikasies op ’n plegtigheid in Kaapstad verleen deur die University of the Cape of Good Hope, voorganger van die huidige Unisa.]


1919

Na prof Marais se dood in Augustus word prof PJG de Vos, ook ’n teoloog, die kanselier.


1919

Adv HA Fagan word as die eerste professor in regsgeleerdheid aangestel en regstudente begin in 1920 met hul opleiding.


1919

’n Opvoedkunde-dosent, prof GG Cillié, word die eerste rektor. Hy was (soos tot vandag) as rektor ook voorsitter van die US-senaat. Sedert April 1918 was die hoof van die universiteitsbestuur die senaatsvoorsitter, prof JJ Smith, ’n taaldosent. Die Fakulteit Opvoedkunde se gebou is in 1970 na Cillié vernoem.


1920

’n B-graad in opvoedkunde (BEd) word ingestel in die Fakulteit Opvoedkunde, een van die vier fakulteite wat bestaan het toe die Victoria Kollege in 1918 die US geword het.


1920

Dr WA Joubert, ‘n taaldosent sedert die Victoria Kollege-tyd, word as “Fondsen en Propagandaorganiseerder” aangestel om vir die eerste keer aktief geld vir die universiteit in te samel.


1920

’n Fakulteit Teologie word ingestel. Die US het toe ses fakulteite. Die Kweekskool (gestig in 1859) bestaan hierna steeds afsonderlik van dié fakulteit, maar met noue samewerking met die US. In 1963 is die Kweekskool volledig by dié US-fakulteit ingeskakel.


1921

Prof GC Nel word die eerste professor in plantkunde. Hy het die US-owerheid oortuig om die terrein waarop die huidige Botaniese Tuin is hiervoor beskikbaar te stel. Nel was ’n student van dr Avie Duthie wat sedert 1902 in dié departement baanbrekende navorser gedoen het, maar tot haar aftrede in 1939 nooit professor geword het nie, blykbaar ook omdat sy aanstoot gegee het deur pro-ewolusie en uitgesproke Britsgesind te wees. ‘n Natuurreservaat oos van die huidige ingenieurswese-kompleks is na haar vernoem.


1922

Dr Lydia van Niekerk word die heel eerste vrou wat as professor aan die US aangestel word, in Nederlands. Geen vrou het selfs by die Victoria Kollege en dié se voorgangers so ‘n pos gehad nie. Die vrouekoshuis Lydia is na Van Niekerk vernoem.


1925

’n Gebou vir ‘Landbou’ in Victoriastraat word ingewy, later vernoem na prof JH Neethling, ’n stigter-dosent van die Fakulteit Landbou (nou AgriWetenskappe). Die JH Neethlinggebou huisves deesdae die Departement Wingerd- en Wynkunde, Suid-Afrika se enigste universiteits-studierigting hiervoor.


1925

Prof GG Cillié, die eerste rektor, bedank en die rektorspos word afgeskaf. Hierna was proff SFN Gie (in 1926), W Blommaert (tot vroeg 1933) en RW Wilcocks (sedert middel-1933) as senaatsvoorsitter die US se bestuurshoof tot die rektorspos in 1934 heringestel is.


1925

Die Fakulteit van Handel (nou Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) word gestig nadat CGW Schumann in 1924 reeds as dosent in handelswetenskappe aangestel is. Met meer as 8 500 studente is dit deesdae die US se grootste fakulteit. Schumann, later professor en dekaan, was stigter van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (1944) en in die 1980’s is ’n fakulteitsgebou na hom vernoem.


1928

Die Berg- en Toerklub (BTK) word as studentevereniging gestig “om belangstelling in en liefde vir die natuur en land aan te wakker deur middel van berg- en landtoere”. Die klub vier sy negentigste verjaardag in 2018.


Terug na bo

1930 - 1939

Depressie en groei

1930

Die Universiteit neem die verantwoordelikheid oor vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat sedert 1920 deur prof JJ Smith van die US bepleit is en in 1926 in Kaapstad begin funksioneer het. (In 1999 verskuif die WAT uit die US se Letteregebou na ’n perseel in Banghoekweg, Stellenbosch, en in 2000 word dit as ‘n Artikel 21-maatskappy geregistreer.)


1931

Hoofregter Jacob de Villiers volg prof PJG de Vos op as kanselier, maar is vroeg in 1932 oorlede.


1932

Prof A Moorrees, ’n teoloog wat ook as Afrikaanse taalstryder bekend was, word kanselier.


1932

Die US se eerste volwaardige administrasiegebou word in gebruik geneem – ’n gebou van twee verdiepings in Victoriastraat (nou die Admin B-gebou) wat sedertdien steeds onder meer die rektorskantoor huisves. Dit is teen 1960 hoër opgebou en aansienlik vergroot.


1933

Nuwe Huishoudkunde-gebou (nou die Admin C-gebou) word formeel geopen; opgerig nadat die US-vrouevereniging sedert 1921 ook geld hiervoor ingesamel het.


1934

Prof RW Wilcocks, ’n sielkundedosent, word rektor nadat die rektorspos (afgeskaf in 1926) heringestel word. As voorsitter van die senaat was hy sedert 1933 reeds die US-bestuurshoof.


1934

Die US neem die SA Conservatorium vir musiek, wat as private instelling in 1905 gestig is, oor. Dit word mettertyd die huidige Departement Musiek. Die koopsom, 6 500 pond, sluit in die perseel in Neethlingstraat met die gebou (nou bekend as die Ou Conservatorium) asook die meubels.


1937

Departement Liggaamlike Opvoedkunde (nou Sportwetenskap, Fakulteit Opvoedkunde) gestig, met een dosent, dr Ernst Jokl uit Duitsland. Dié gewilde studierigting (aangebied op Coetzenburg) het gou honderde studente gelok en bygedra tot die erkende Afrikaanse woord “jokkel’ vir dié studierigting.


1938

Die nuwe Carnegie-biblioteek se gebou word voltooi, waar die Pavillion-rugbyvelde vroeër was. Dit is moontlik gemaak deur skenkings van oudstudente en die Carnegie-korporasie van New York. Dié gebou is mettertyd verskeie kere vergroot, was byna ’n halfeeu die US-biblioteek se tuiste en is ná 1984 omskep in die Administrasie A-gebou. (Die Skots-Amerikaanse miljoenêr Andrew Carnegie het in 1912 reeds 6 000 pond vir die Victoria Kollege se biblioteek geskenk.)


1939

Die nuwe kanselier is dr JD Kestell, ’n predikant, volksleier en Bybelvertaler wat onder meer rektor was van die Grey-universiteitskollege (latere Vrystaatse Universiteit).


Terug na bo

1940 - 1949

Vreugde ná vrede

1941

Die studentekoerant, Die Matie, word gestig.


1941

Na die dood van dr Kestell is die nuwe kanselier dr DF Malan, ’n voormalige predikant en koerantredakteur wat in 1948 staatshoof sou word.


1941

’n Departement van Ingenieurswese kom tot stand in die destydse Fakulteit Wis- en Natuurkunde (nou Natuurwetenskappe) wat sou lei tot die volwaardige Fakulteit Ingenieurswese se stigting in 1942.


1944

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, die US se oudste navorsingsinstelling, word gestig.


1946

Die ingenieursfakulteit, wat tydelik in die destydse “Fysikagebou” langs die Ou Hoofgebou in Victoriastraat, geakkommodeer is, betrek sy nuwe gebou, die voormalige skoolgebou van die huidige Paul Roos Gimnasium, ook in Victoriastraat. Die ou “Fysikagebou” het uit die 1800’s dateer en is in die 1960’s gesloop.


Terug na bo

1950 - 1959

Opbloei, onsekerheid

1955

’n Historikus prof HB Thom, hoof van die Departement Geskiedenis, volg Wilcocks op as rektor.


1956

Die Fakulteit van Geneeskunde (nou Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) word gestig. Opleiding geskied voorlopig by die Karl Bremer-hospitaal in Bellville.


1956

Die studierigting bosbou word in 1932 in die landboufakulteit gevestig. Dit word in 1956 die Fakulteit Bosbou, die enigste vir dié studierigting in Suid-Afrika, en is nou deel van die Fakulteit AgriWetenskappe.


1957

Die Inligtingsburo ontstaan, onder meer vir fondsinsameling en skakeling met oudstudente. Dit sou mettertyd lei tot die Departement Ontwikkeling asook Stellenbosch Stigting, voorlopers van die huidige afdelings Korporatiewe Kommunikasie asook Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.


1957

Die Inligtingsburo publiseer die eerste uitgawe van Matieland, ‘n oudstudenteblad, ‘n dekade nadat Die Stellenbosse Oudstudent, wat 16 jaar deur die Oudstudentebond uitgegee is, se publikasie gestaak is.


1957

’n Eerstejaarstelsel word ingestel, met aparte ‘eerstejaarskoshuise’ (Minerva vir vroue en Dagbreek vir mans). Die stelsel is teen die middel 1960’s geleidelik uitgefaseer.


1958

Lesings begin vir die eerste studente in die nuwe Buitemuurse Afdeling, aanvanklik in klaskamers by die Hoërskool Bellville en vanaf 1964 in die afdeling se nuwe gebou naby die Karl Bremer-hospitaal. Hieruit ontwikkel die latere MBA-kursusse en mettertyd die US Bestuurskool, maar die Buitemuurse Afdeling is later gesluit.


1958

Die Buro (nou Sentrum) vir Studentevoorligting word gestig. Dit bied sedertdien uitgebreide steun- en sielkundige ontwikkelingsdienste vir geregistreerde studente.


1959

Dr TE D?nges, minister van finansies, word kanselier. (Hy is later verkies tot SA se tweede staatspresident, maar is dood voor sy inhuldiging in 1968.)


Terug na bo

1960 - 1969

Stormagtige Sestigs

1960

Die geskiedkundige plaas Coetzenburg word gekoop as tuiste vir sport – nadat ‘n klein deel hiervan langs die Welgevallen-proefplaas reeds in 1919 gekoop en geleidelik as sportterrein ontwikkel is. In 1965 is die plaas Vergenoeg, oos van Coetzenburg, ook vir studentesport en -ontspanning bygekoop.


1961

Die Fakulteit Krygskunde word ingestel, om B-, M- en DMil-grade toe te ken. Die distrik Vredenburg, waarin die fakulteit by Saldanha gevestig word, word geproklameer as ‘n setel van die US.


1964

Geneeskundestudente stig Uskor (US Kliniese Organisasie) as vrywillige mediese uitreikdiens in Bellville-Suid, maar later uitgebrei selfs tot in buurlande – en waaruit die kampuswye Maties Gemeenskapsdiens (nou Sosiale Impak) mettertyd sou ontwikkel.


1964

’n Matie-atleet, De Villiers Lamprecht, word op 14 November by ‘n atletiekbyeenkoms op Coetzenburg die eerste Suid-Afrikaner om ‘n droommyl (1609.344 meter) in minder as vier minute af te lê.


1966

Die US vier “Honderd jaar van hoër onderwys” – die herdenking van die Stellenbosch Gymnasium se ontstaan, waaruit kollege-opleiding mettertyd ontwikkel het en uiteindelik tot die Universiteit Stellenbosch se stigting in 1918 gelei het.


1968

Ná die dood van Dönges (kanselier sedert 1959) word hy opgevolg deur BJ Vorster, eerste minister sedert 1966.


1969

Die Algemene Ingenieursgebou in Banghoekweg, oos van die hoofkampus, word betrek – die eerste van ‘n gebouekompleks wat geleidelik tot 1979 verrys het en sedertdien verder aangevul is.


Terug na bo

1970 - 1979

Dinge verander

1970

Prof JN de Villiers, hoof van die Departement Ginekologie en Verloskunde, volg prof HB Thom op as rektor.


1970

Onder die nuwe rektor se leiding ontstaan ‘n Beplanningskomitee van die US-raad, wat lei tot ’n ontwikkelingsplan vir akademiese, fisiese, en finansiële beplanning, en die latere ontstaan van die US Beplanningsafdeling, wat baie sou bydra tot uitgebreide kampusontwikkeling.


1971

Opleiding in die nuwe Fakulteit Tandheelkunde op die Tygerberg-kampus begin. Die fakulteit sou later ’n skool in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe word, maar vanaf 2004 nie langer by die US bestaan nie – ná samesmelting met die Universiteit Wes-Kaapland se fakulteit tandheelkunde, wat in 1972 gestig is en lank apart in dieselfde gebou as die US-fakulteit gehuisves was.


1973

Die Tygerberg-hospitaaI se eerste binnepasiënte word toegelaat en die geneeskundefakulteit begin verskuif vanaf die Karl Bremer-hospitaal na die nuwe fakulteitsgebou op die Tygerberg-kampus, wat in 1975 ingewy word.


1974

Die DF Malan-gedenksentrum (nou Coetzenburgsentrum) op Coetzenburg word ingewy, as veeldoelige sportsentrum vir binnenshuise byeenkomste en groot vergadersaal waar byvoorbeeld gradeplegtighede gehou word.


1975

Prof Wynand Mouton, ‘n kernfisikus en US-dosent, word die heel eerste viserektor, ‘n nuwe pos. Die US het deesdae vier viserektore. (Mouton was later rektor van die UOVS, nou Vrystaatse Universiteit.)


1975

Die Langenhoven-studentesentrum word geopen, 55 jaar nadat begin is om geld in te samel vir so ’n ‘bymekaarkomplek’ vir studente. Die naam is ter nagedagtenis aan oudstudent CJ Langenhoven en kry die studentebynaam Neelsie. Dit word teen 1995 herbou tot ’n winkelsentrum (genaamd Neelsie) met ‘n verskeidenheid sakeondernemings.


1978

Die US-raad keur goed dat die US vir die eerste keer (gedeeltelik) oopgestel word vir ‘nie-blanke’ studente, slegs voorgraads en in kursusse wat nie vir hulle elders in Wes-Kaapland beskikbaar was nie.


1978

Die nuwe Konservatoriumgebou in Victoriastraat word ingewy. Die hoofkonsertsaal se akoestiek word beskou as die beste in die land.


1979

Die Danie Craven-stadion op Coetzenburg is voltooi, en word vernoem na eertydse rugbylegende en voorsitter van wêreldrugby, dr Danie Craven, wat lank hoof was van die Departement Liggaamlike Opvoedkunde (nou Sportwetenskap, Fakulteit Opvoedkunde) en later die sportkantoor (nou Maties Sport).


1979

Prof MJ de Vries, voormalige US-dosent in chemie, wat prof Wynand Mouton in 1976 as (destyds enigste) viserektor opgevolg het, word rektor nadat prof JN de Villiers vroeër dié jaar om gesondheidsredes as rektor uitgetree het.


Terug na bo

1980 - 1989

Seker én onseker

1981

Ná die visekanselier, dr JS Gericke, se dood vroeër in die jaar word die rektor, De Vries, die eerste om naas die rektorspos ook die seremoniële amp van visekanselier te beklee. Gericke was die US se vierde visekanselier, ná prof A Moorrees (sedert 1918), regter HS van Zijl (sedert 1933) en dr Karl Bremer (vanaf 1950). Die visekanselier was tot 1981 ook die US-raadsvoorsitter. Sedertdien kies die raad ’n voorsitter uit eie geledere.


1983

US-oudrektor prof HB Thom word in Mei ingehuldig as kanselier, nadat Vorster in Desember 1982 uit die amp bedank het, maar Thom sterf in Desember 1983, kort ná Vorster se dood in September.


1984

Die nuwe US-biblioteekgebou word in gebruik geneem, as een van die grootste en bes toegeruste universiteitsbiblioteke in die land, en Suid-Afrika se enigste biblioteek wat heeltemal ondergronds is.


1984

Die eerste proefbuisbaba in Afrika word gebore, ’n deurbraak deur ’n navorsingspan onder leiding van prof Thinus Kruger (Departement Verloskunde en Ginekologie). Hy was die stigter van ’n fertiliteitskliniek by die Tygerberg-hospitaal.


1984

Staatspresident PW Botha word ingehuldig as kanselier, maar sou na vier jaar uit dié amp bedank.


1986

Die US se nuwe Bellvillepark-kampus word in gebruik geneem toe die US Bestuurskool van tydelike lesingkamers agter die Karl Bremer-hospitaal verskuif na ‘n vierverdieping-gebou op dié nuwe satellietkampus. Verdere uitbreiding en ontwikkeling volg later hier.


1987

’n Pos van direkteur: studentesake word ingestel.


1988

Dr Jan van der Horst, ‘n topsakeman, word die elfde kanselier. Hy was as regstudent die studenteraadsvoorsitter, en sedert 1982 die eerste verkose US-raadsvoorsitter.


Terug na bo

1990 - 1999

’n Ander land

1991

Nelson Mandela besoek die US vir ‘n vergadering op uitnodiging van die (destydse) Sentrum vir Kontekstuele Hermeneutiek. In sy toespraak, die eerste op ‘n Afrikaanse kampus, spreek hy onder meer sy bemoedigende siening uit oor die rol van Afrikaans in ‘n nuwe SA staatsbestel. Die US sou in 1996, nadat Mandela in 1994 president geword het, ‘n eredoktorsgraad aan hom verleen, en in 2004 ook aan sy opvolger, pres Thabo Mbeki.


1991

Die Sasol-kunsmuseum en US Museum word geopen. Dit is ingerig in die eertydse skoolgebou van die Meisieskool Bloemhof, gebou in 1907, verklaar tot nasionale gedenkwaardigheid in 1979 en omvattend gerestoureer met ‘n skenking van Sasol.


1991

In dieselfde week dat Mandela hier opgetree het, besoek Brittanje se eerste vroulike premier, Margaret Thatcher, die US aan die begin van ‘n uitgebreide staatsbesoek aan Suid-Afrika.


1992

Matie-atleet Elana Meyer wen ‘n silwer medalje in die 10 000 meters by die olimpiese somerspele in Barcelona, Spanje.


1993

Prof Andreas van Wyk, viserektor (bedryf) sedert 1991, word rektor en visekanselier. Hy was ‘n dosent in handelsreg, voorheen US-dekaan van regsgeleerdheid, en ‘n voormalige direkteur-generaal van die staatsdepartement Konstitusionele Ontwikkeling en Beplanning.


1995

Na ‘n jaar se bouwerk word die Langenhoven Studentesentrum (nou formeel die Neelsie-sentrum genoem) oopgestel as winkelsentrum met ‘n verskeidenheid sakeondernemings. Die konsep van ‘n studentesentrum soos dié word beskryf as enig in Suid-Afrika. Die oorspronklike gebou dateer uit 1975.


1995

Radio Matie (later MFM) word ‘n volwaardige gemeenskaps-radiodiens met moderne ateljees en kantore in die Neelsie-studentesentrum, en uitsendings tot so ver as 20 km aan ongeveer 35 000 luisteraars, ook die breë publiek.


1995

Die hokkieklub, een van die sterkste sportklubs op kampus, kry ‘n kunsgrasbaan, onder meer moontlik gemaak deur geld gegenereer deur die vrouehokkiespelers. Die aparte klubs vir vroue- en manshokkie het in 1992 saamgesmelt.


1995

Tydens die Rugbywêreldbeker is die US die enigste universiteit wat gasheer is vir een van die wedstryde, dié tussen Australië en Roemenië in die Cravenstadion op Coetzenburg.


1998

Prof Elize Botha, doyenne van die Afrikaanse literêre wêreld, word die eerste vrou as US-kanselier. Sy was onder meer die eerste vroulike raadsvoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, eerste vroulike voorsitter van die Staatsbiblioteek se raad en eerste vroulike trusteeraadsvoorsitter van die Stigting vir Afrikaans.


1999

Die Fakulteit Ingenieurswese maak nuus met Sunsat, die eerste satelliet wat in Afrika ontwerp en gebou is. Dié mikrosatelliet, ‘n Leo-satelliet (“Low Earth Orbit”) is in Kalifornië gelanseer. In 2009 sou ‘n tweede mikrosatelliet, SumbandilaSat, wat die fakulteit saam met SunSpace asook die WNNR ontwerp en gebou het, in Kazakstan vanaf die wêreld se grootste lanseerbasis gelanseer word.


1999

Die US-raad ontbind die 63 jaar oue Stellenbosse Universiteitskoor. Ná oorweldigende kritiek van oudkoorlede en die publiek is die raad op ‘n spesiale raadsvergadering gedwing tot ‘n herroeping van dié besluit. Gedurende 2004-’16 sou die koor verskeie kere as beste jeug- of nie-professionele koor ter wêreld aangewys word.


Terug na bo

2000 - 2009

Millennium-mylpale

2000

Op 20 Maart 2000 aanvaar die US sy Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en daarna. In hierdie dokument het die US hom verbind tot “’n oop, breë proses van selfvernuwing en selfondersoek.”Die US het ook “sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede erken en hom daarom verbind tot gepaste regstellings- en ontwikkelingsinisiatiewe.”


2000

As deel van ‘n gemeenskapsinteraksie ontstaan die Woordfees, wat mettertyd die volhoubaarste Afrikaanse kunstefees word, en wat ook die WOW-projek (Woorde Open Wêrelde) aanbied om Afrikaans landwyd onder jongmense te bevorder. Albei inisiatiewe slaag só dat dit later onafhanklik (elk met ‘n eie personeelkorps) by die US bedryf word.


2002

Prof Chris Brink, visekanselier (navorsing) by die Wollongong-universiteit in Nieu-Suid-Wallis, Australië, word rektor en visekanselier. Hy was voorheen onder meer ‘n wiskundedosent by die US en was verbonde aan die Universiteit Kaapstad, beskik oor twee doktorsgrade en was ’n A-gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting.


2004

Formele ingebruikneming van die Mostertdrift-kampus as tuiste van Stias, ‘n US-instituut vir gevorderde navorsing (Stellenbosch Institute for Advanced Research). Die US het in 1999 dié geskiedkundige eiendom gekoop.


2007

Die eertydse Lückhoff-skoolgebou in Banghoekweg, Stellenbosch, word in gebruik geneem – heringerig as “baken van hoop” en heropgedra aan die gemeenskap van ’n buurt wat in die 1960’s weens die destydse Groepsgebiedewet daaruit verskuif is. Die gebou huisves die US se Afdeling Gemeenskapsinteraksie (tans Sosiale Impak) asook Matie Gemeenskapsdiens en verskeie (nieregerings-) gemeenskapsorganisasie.


2007

Die Wallenberg Navorsingsentrum se moderne gebou word in gebruik geneem, langs die geskiedkundige, eertydse Mostertsdrift-plaashuis waar Stias, die US-instituut vir hoëprofiel-navorsing (Stellenbosch Institute for Advanced Research) gesetel is. ‘n Skenking uit Swede het die nuwe gebou moontlik gemaak.


2007

Prof Russel Botman, ‘n internasionaal gerekende teoloog wat die Wêreld Alliansie van Gereformeerde Kerke in Genève geadviseer het en president van die SA Raad van Kerke was, word rektor en visekanselier. Hy was sedert 2002 dosent in praktiese teologie en missiologie by die US en neem oor by prof Chris Brink wat visekanselier geword het van die Newcastle-universiteit in Brittanje.


2008

Na prof Elize Botha se dood in November 2007 word dr Van Zyl Slabbert tot kanselier verkies. Hy moes egter om gesondheidsredes in September 2009 uit dié amp bedank en is in 2010 oorlede. Hy was as US-oudstudent en -dosent onder meer ‘n voormalige parlementêre opposisieleier en medestigter van Idasa wat dialoog met die destyds verbode ANC geïnisieeer het.


2009

Dr Johann Rupert, voorste sakeleier en entrepreneur, word kanselier. Hy het onder meer sy sakevernuf in New York geslyp voordat hy in 1979 terugkeer en Rand Merchant Bank (RMB) stig, asook die Kleinsake Ontwikkelingskorporasie (nou Business Partners) wat reeds sowat 500 000 werkgeleenthede in Suid-Afrika help skep het. (Hy sou in 2014 vir ‘n tweede en laaste vyfjaar-termyn as kanselier aangewys word.)


Terug na bo

2010 - 2017

Toekoms van HOOP

2010

Die US se HOOP Projek word ingestel, as ‘n strategiese langtermynplan vir die komende dekade – met vyf van die Internasionale Millenniumdoelwitte se temas waarop die US voortaan klem lê, en waarmee sinergie geskep word tussen hoër onderrig en andersinds ontwikkeling en ekonomiese groei.


2010

Die US word die eerste universiteit in Afrika wat die Berlyn-ooreenkoms oor oop kennistoegang in die natuurwetenskappe en humaniora onderteken.


2014

Prof Wim de Villiers word rektor en visekanselier. Hy het as geneeskundestudent die US se prestige-kanseliersmedalje gewen; was vanaf 1986 verbonde aan die US se geneeskunde-fakulteit; het DPhil by Oxford behaal; en was 18 jaar in die VSA onder meer ‘n departementshoof by die Kentucky Mediese Sentrum asook administratiewe hoof van ‘n hospitaal. Hy is as een van die VSA se beste dokters aangewys en was later dekaan van gesondheidswetenskappe by die Universiteit Kaapstad.


2014

Prof Russel Botman, rektor en visekanselier, wie se termyn in 2012 vir nog vyf jaar verleng is, sterf in Junie aan ‘n hartaanval. Hy was die US se enigste bestuurshoof sedert 1918 wat in die tuig oorlede is.


2014

’n Lid van die Maties-Helderberg-sportklub vir mense met gestremdhede en voorheen bestuurder van die US-gimnasium op Coetzenburg, oud-Matie Ernst van Dyk, wen as rolstoel- en handfietsatleet die Boston-marathon vir die tiende keer. Hy het ook verskeie ander medaljes gewen, bv. by die paralimpiese somerspele in Sydney (2000), Athene (2004) en Beijing (2008) en was in 2006 die Laureus-toekennings in Wêreldsport se Sportpersoon met ‘n Gestremdheid.


2015

Gedurende ‘n marathon-operasie van nege uur maak ’n oorplantingspan onder leiding van prof André van der Merwe (Departement Urologie) wêreldgeskiedenis met die eerste penisoorplanting – van groot belang omdat honderde jong mans in Suider-Afrika jaarliks hul penisse weens tradisionele besnydenis verloor. In 2017 sou Van der Merwe en sy span weer geskiedenis maak deur die eerste ter wêreld te wees wat ‘n tweede keer met so ’n operasie slaag.


2016

Die US Koor onder leiding van André van der Merwe word in Rusland aangewys as algehele wenner by die agtste internasionale koorspele, en bly so die wêreld se beste nie-professionele koor op die Interkultur-lys sedert 2012.


2017

Die US word die eerste akademiese instelling in Afrika wat ’n gestruktureerde kankerwetenskapprogram aanbied met die instel van die nuwe MPhil in Kankerwetenskap.


2017

Die US vier die opening van die nuwe en verbeterde Van der Stergebou nadat ’n brand ’n groot gedeelte van die gebou in Februarie 2015 vernieting het.


2017

Die US en die Departement van Verdediging onderteken ? Memorandum van Verstandhouding om die verhouding tussen die instellings te versterk.


Terug na bo