|
Sedert sy stigting in 1923 is die Hortus Botanicus deurlopend deur die
Universiteit van Stellenbosch ondersteun. Die tuin word allerweë as 'n
opelug laboratorium beskou en dien as 'n sentrum vir opleiding, wetenskap,
bewaring en ontspanning. Vir die doel is seldsame plante uit baie dele van
die wêreld ingevoer en word skakeling met studente, wetenskaplikes en
botaniese tuine in die buiteland net so belangrik geag as die daarstel van
'n fasiliteit wat die behoeftes van ons plaaslike gemeenskap dien.
Vandag is die US Botaniese Tuin 'n ware belewenis; 'n grootliks onontdekte
juweel in die historiese kern van Stellenbosch. Die tuin is kompak en klein,
maar die atmosfeer en verskeidenheid plantsoorte en plantprodukte wat hier
aangetref word, verras besoekers keer op keer. | In die BioBou Sentrum
(Geskenkwinkel) word organiese en omgewingsvriendelike produkte aangebied
wat eie aan Afrika is. Saam met die produkte word 'n wye verskeidenheid
materiaal uitgestal wat 'n besoek aan die winkel 'n opvoedkundige belewenis
maak.Die Katjiepiering Restaurant is opgegradeer en beskik nou, benewens
'n interessante spyskaart, ook oor 'n 'reënwoudstoep' waar etes in 'n idilliese
atmosfeer geniet kan word.Verder bied die tuin en Ateljee die ideale
omgewing en ambiance vir uitstallings, troues, konferensies, professionele
fotografie en vele meer. Lees meer hieroor op die toepaslike bladsye.
|