Welkom

Die US Botaniese Tuin met sy BioBou Sentrum (Geskenkwinkel) en Katjiepiering Restaurant is in die historiese kern van Stellenbosch geleë. Dié kompakte tuin stel mens in staat om ‘n reuseverskeidenheid plante van oral ter wêreld in die bestek van een uur te bewonder.

TUIN-TYE

08:00 – 17:00 Maandag – Sondag
Gesluit op sekere openbare vakansiedae
Toegang gratis

Sedert sy stigting in 1923 is die Hortus Botanicus deurlopend deur die Universiteit van Stellenbosch ondersteun. Die tuin word allerweë as ‘n opelug laboratorium beskou en dien as ‘n sentrum vir opleiding, wetenskap, bewaring en ontspanning. Vir die doel is seldsame plante uit baie dele van die wêreld ingevoer en word skakeling met studente, wetenskaplikes en botaniese tuine in die buiteland net so belangrik geag as die daarstel van ‘n fasiliteit wat die behoeftes van ons plaaslike gemeenskap dien.Vandag is die US Botaniese Tuin ‘n ware belewenis; ‘n grootliks onontdekte juweel in die historiese kern van Stellenbosch. Die tuin is kompak en klein, maar die atmosfeer en verskeidenheid plantsoorte en plantprodukte wat hier aangetref word, verras besoekers keer op keer. In die BioBou Sentrum (Geskenkwinkel) word organiese en omgewingsvriendelike produkte aangebied wat eie aan Afrika is. Saam met die produkte word ‘n wye verskeidenheid materiaal uitgestal wat ‘n besoek aan die winkel ‘n opvoedkundige belewenis maak.Die Katjiepiering Restaurant is opgegradeer en beskik nou, benewens ‘n interessante spyskaart, ook oor ‘n ‘reënwoudstoep’ waar etes in ‘n idilliese atmosfeer geniet kan word.

Verder bied die tuin en Ateljee die ideale omgewing en ambiance vir uitstallings, troues, konferensies, professionele fotografie en vele meer. Lees meer hieroor op die toepaslike bladsye.