Openingsbouler Faan Fourie het Saterdag vir Maties verwoesting gesaai toe hy ses paaltjies – waaronder ‘n driekuns – geneem het in hul wedstryd teen die Wellington-CPUT Krieketklub.
Met sy syfers van 6 paaltjies vir 24 lopies in tien beurte, het Fourie gehelp om Wellington se kolfaanval vinnig-vinnig kleedkamers toe te stuur vir slegs 72 lopies.
Hy het sy driekuns behaal deur Wellington se nommer 5, 6 en 7 kolwers almal in ‘n ry te laat terugstap.
Maties het nog voor middagete die wedstryd met 8 paaltjies gewen nadat hulle 73/2 aangeteken het. Die wedstryd op die Pen Basson-velde op Wellington gespeel.
Dit was Maties, wat in die Boland Krieketraad se Premier A-liga speel, se tweede wedstryd van die 2011/2012 seisoen.
(Foto: Louis Duvenage)



