Hippokrates Mans en Dames maak skoonskip by Kleinsêr Nationals

Hippokrates het nog altyd naam gemaak met ons mans sêr en ons het al die 9 keer by die nasionale kompetisie deelgeneem as die die Maties kleinsêr wenners. Om ‘n lang storie kort te maak: ons is bekend vir ons mans sêr.

Ons dames sêr het eers baie onlangs begin deelneem en hulle het ‘n rukkie geneem om hul voete te vind, maar na hierdie jaar kan daar met sekerheid gesê word dat hulle voete is gevind. Om die waarheid te sê was ons dames sêr, voor hierdie jaar, nog nie eers deur na die semi-finaal van Maties nie. Hierdie jaar was egter die beste sêr-jaar wat ons nog gehad het en moontlik kan hê. Ons sêrgroepe het soos gewoonlik al vroeg begin oefen en soos wat verwag is van die mans was hulle baie goed, maar tot ons almal se verrassing was ons dames sêr hierdie jaar nie net goed nie, hulle was baie goed.

Ons mans sêr, almal geklee in ‘n pak met ‘n sonbril en ja-ons-het-dit-houding het elke vrou die tydbom van wellus haar binneste laat voel tik. Die dames het weer ‘n ghetto-gangster tema gehad: kam in die hare, groot hoepel oorbelle, een broekspyp opgerol en nie net sang nie, maar ook indrukwekende raps (jy sal beïndruk wees al is rap nie jou smaak nie). Ons mans het weereens Maties se mans kleinsêr kompetisie gewen en toe wen ons dames sommer ook die dames kleinsêr. Albei sêrgroepe en ‘n bus vol Hippo ondersteuners is toe Bloemfontein toe vir die nasionale kleinsêr kompetisie, waar ons toe weer skoonskip maak. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie word twee sêrgroepe van dieselfde koshuis aangewys as die mans en dames Nasionale wenners. Behalwe dat ons die kompetisie gewen het, het ons dames die beste voorgeskrewe liedjie vertolking gewen en ons mans wen ook beste voorgeskrewe liedjie vertolking tesame met beste selfgeskrewe komposisie.

So om ‘n lang storie kort te maak: Dit was ‘n goeie sêrjaar vir Hippokrates, maar moenie dink dat dit is net ons mans wat kan sing nie.