2012 – Medies Rugby se Goue Jaar

Medies rugby het vanjaar een van die blinkste jare nòg op die sportveld gehad. Na ‘n teleurstellende 2011 seisoen het die manne teruggekom hierdie jaar en hul ware karakter gewys. Met ure se bloed, sweet en trane op en af van die rugbyveld is Medies se trofeekas hierdie jaar ‘n Sauer-, Intervarsity -(saam met UCT se Mediese fakulteit) en Cape Town Tens plaatbeker ryker.
Medies rugby se herlewing het aan die einde van 2011 gekom. Die span het net 1 bonuspunt nodig gehad in die laaste 3 wedstryde om te kwalifiseer vir ‘n plek in die semi-finaal. Die span moes egter ‘n bitter pil sluk om helaas 5de te eindig op die ranglys. ‘n Teleurstellende prestasie, aangesien Medies die vorige jaar bo-aan die punteleer geëindig het en in ‘n naelbytfinaal teen Simonsberg verloor het.
Net daar en dan het die kern van Medies rugby bymekaar gekom en besluit dat dinge tot hier toe en nie verder sal gaan nie. ‘n Besluit is gemaak om weer rugby te speel omdat dit lekker is. Met hierdie besluit het die Medies Rebels amptelik ‘n Naam gekry in die rugby sirkels.
Die eerste doelwit wat die span vir hulself gestel het is om ‘n span in te skryf by die Cape Town Tens. Le Roux Viljoen het die span bestuur en die reëlings gefinaliseer. ‘n Merkwaardige borgskap van Medswana het die span in die regte rigting gestuur en die span is geklee met die mooiste uitrusting by die toernooi, of altans beslis in ons opinie!
10 Januarie is ‘n datum wat baie vroeg in die jaar is; te vroeg in meeste mense se oë- maar op 10 Januarie 2012 het die Medies Rebels bymekaar gekom op Tygerberg se harde rugbyvelde vir hul eerste oefening. Met dit is die eerste bande gevorm van ‘n nou geweefde span wat later tot ‘n hegte familie sou ontwikkel.
Die spelers het die lang pad tot sukses as een man aangepak en die manne was reg vir die Cape Town Tens. Ten spyte van beserings aan van ons kernspelers, soos die Ysterman homself, Jurgens Terblanche, is die Medies Rebels gekroon as die 2012 plaatwenners van die Cape Town Tens se “Heavy beer League.”

Vir die eerste keer in 8 jaar het Medies Rugby iets gehad om te vier, die eerste beker sedert die Sauerbeker in 2004 laas gelig is deur Medies. Niemand het op daardie stadium eers besef wat die jaar wat voorlê nog vir Medies sal inhou nie . Al waaraan die manne kon dink is hoe lekker daardie postwedstryd bier sou smaak wanneer dit as ‘n span saam gedrink word- ‘n Kampioenspan.
Die volgende mikpunt vir Medies rugby was die eerste Intervarsity wedstryd teen UCT se Mediese fakulteit. Dit was die eerste keer sedert die sewentigerjare dat die Maties Mediese manne teen die van UCT te staan gekom het. Die eerste wedstryd was geskeduleer 2 weke voor die Sauertoernooi van 2012 se afskop, so dit sou as ‘n goeie opwarmingswedstryd dien vir die Medies Rebels.
Die groot dag het aangebreek en die mense van Tygerbergkampus was verstom. Nie net was hulle verbaas oor die mooi wit truie nie, maar meer as dit was hulle verbyster deur die spangees en vasberadenheid wat die spelers op die veld gewys het. ‘n Lewende legende in die vorm van Malcolm du Preez het die UCT manne mooi besig gehou op die veld met sy alombekende kraglopies en duikslae. Malcolm en die res van die voorspelers het die pap mooi dik aangemaak voor en die agterspelers kon die spasie lekker geniet. Maties Medies het die UCT Medics kafgedraf en PJ le Grange het sy eerste driekuns van drieë in 2012 gevier.

Die volgende onderwerp op almal se lippe was die eerste Sauer wedstryd teen Elsenburg. Derbydag was nog nooit maklik vir die manne van Tygerberg nie, en vir die 7de jaar in ‘n ry moes Medies in die stof byt teen die Boere- ‘n drie in die laaste minuut het dit vir die Boere gewen.
Hierdie laagtepunt het egter die span net verder motiveer om van die jaar wat voorlê ‘n sukses te maak. Die volgende 4 wedstryde het Medies gemaklik gewen voordat hulle, weereens in die laaste minuut, verloor het teen Eendrag. Medies het die eerste helfte van die seisoen afgeëindig in die 3de posisie op die ranglys. ‘n Posisie wat redelik gemaklik is, maar dit het die span nietemin plat op die aarde en op hul tone gehou.
Die tweede been van Intervarsity is gespeel op UCT se legendariese Green Mile. Die jare lange tradisies van die veld en die pragtige kampus kon egter nie daarin slaag om die Medies Rebels se aandag af te trek van die taak op hande nie. Medies het die wedstryd gemaklik gewen met 8 drieë teenoor UCT se skaamlike een. Uitstekende spel deur Gys Neethling het Medies se nuwe senterkombinasie gevestig. Richie Terry se spel in die los was van top gehalte, gevolglik kon hy daardie dag sy eerste drie in ‘n Medies trui vier.
Met die Intervarsity beker in die sakkie het die manne hul koppe gevestig op die laaste mikpunt van die jaar en vir baie spelers, hulle rugby loopbaan. Ons eerste wedstryd van die tweede seisoen sou teen Huis Marais wees, ‘n span wat heel bo op die punteleër gelê het en op daardie stadium nog geen wedstryde verloor het nie.
Gelukkig hou die Medies Rebels daarvan as iemand vir hulle ‘n uitdaging gee. En wat ‘n uitdaging was dit nie: Medies was teen rustyd 17-3 agter. In die tweede helfte het die span egter hard terug geveg om die wedstryd 22-20 te wen. Matthew Markram het puik vertoon in sy eerste wedstryd terug op die veld na ‘n besering. Jaco Visagie het homself gevestig in die nommer 14 trui nadat hy twee pragdrieë gedruk het en gevolglik as Speler van die Wedstryd aangewys is.
Al het niemand gewaag om dit te sê nie, het ieder en elk van die Medies Rebels op hierdie oomblik al begin hoendervleis kry met die gedagte dat hul droom om die Sauer huis toe te bring dalk net kan realiseer.
Die res van die seisoen het goed verloop met die uitsondering van ‘n 3-0 nederlaag teen Dagbreek op rugbyvelde wat beter kon beskryf word as ‘n modderbad. Die Medies Rebels het tweede op die ranglys geëindig met ‘n semi-finaal bespreek teen ons aartsvyande, die Boere van Elsenburg.
Medies Rugby het egter hierdie wedstryd benader met ‘n hele ander ingesteldheid as met die openingswedstryd van 2012. Die span het oorgeloop van selfvertroue. Selfvertroue gekombineer met nederigheid en ‘n gemeenskaplike doelwit het die span gedryf om die Boere deurmekaar te speel. PJ le Grange het nog een van sy kenmerkende drieë gedruk en met dit sy 11de merkie op sy kerfstok gemaak.
Met Medies voor met 15 punte teen 11 moes die manne verdedig met alles wat hulle het om hulle plek in die finaal te bespreek. Medies het weer hul hart gewys en die Boere keer op keer die doellyn geweier. Die eindfluitjie het geblaas en Medies het vir die tweede keer in drie jaar hul plek in die finaal bespreek.

Die opbou in die week van Sauer finaal is aangepak soos enige ander een. Eendrag is gesien as net nog ‘n span, maar hulle is nooit onderskat nie. ‘n Fantastiese week se oefening gekenmerk deur Coach Johan se entoesiasme en Wessel Coetzee se kalmte het die spelers opgevuur.
‘n Spesiale besoek deur ‘n rugby legende en oud Medies Afrigter, Oom Louis Blom, het die kersie op die koek gesit van ‘n fantastiese week. Die Medies Rebels was meer as reg vir Sauer Finaal.
In die kleedkamer voor die game het ons getroue Fisio, Pikkie Joubert, die laaste keer die span gestrap en gevryf voor hy klaar maak by Medies Rugby. Wat ‘n legende. Daar is baie ouens wie se lywe halfpad deur die wedstryd uitmekaar sou val as dit nie vir Pikkie was nie.
Met die strapping agter die rug en die spelers klaar opgewarm het die Medies Rebels oorkant Eendrag in die tonneltjie in ‘n ry gestaan. Die atmosfeer was elektries en die angs kon gesien word in die jong manne van Eendrag, want hulle het oorkant ‘n klomp mans met hardebaarde gestaan, manne wat wéét hoe dit voel om in ‘n Sauer Finaal te speel.
Die wedstryd het begin met ‘n uitrulling van 3 punte elk voor Eendrag gekapitaliseer het op ‘n Medies fout en die wit lyn gekruis het. Die telling het gestaan op 10-3 in die guns van Eendrag toe die sirene vir halftyd gesing het.
Harde en opbouende woorde is halftyd gewissel. Die manne is herinner aan hoe hard daar gewerk is tot by hierdie punt. Daar is verwys na die Cape Town Tens asook na die hart wat gewys is in die semi-finaal teen die Boere. Geen span sou na daardie gesprek die beker uit die kloue van die Medies Rebels kon hou nie.
Die tweede helfte is afgeskop en die intensiteit is gelig. Eendrag het geen antwoord gehad op die Mediese lostrio van Matthew Markram, Duncan Havenga en Attie Oberholzer nie. Hulle het gesorg vir skoon bal en het menigte kere die balbesit omgedraai met fyn vernuf op die vloer. Met mooi bal vir die agterlyn het PJ le Grange die lyn gekruis nadat Richie Terry meer as net ‘n bietjie magic losgelaat het. Die telling was 10-8, steeds in die guns van Eendrag.
Die volgende drie het gekom aan die hande van Jaco Visagie. As joernalis kan ek nie presies sê hoe hierdie drie gebeur het nie, aangesien ek besig was om met Eendrag se agsteman woorde te wissel. Gelukkig was ek nooit alleen nie en Duncan Havenga was vinnig om vir hom te wys dat hy met veel meer as‘n span mors, Medies Rebels is ‘n familie. Na die hele storie het Medies vir die eerste keer in die wedstryd voorgeloop met die telling 13-10.
Eendrag het egter terug geveg en met ‘n strafskop teen Medies is die telling gelyk gemaak op 13 punte elk. Die woord Elsenburg het gedreun oor die veld om die manne te herinner aan die pad wat hulle al geloop het tot op hierdie punt.
Na ongeveer 10 minute het Medies se deursettingsvermoë begin wys. Pj le Grange het die bal gekry op hulle tien treë lyn en die onmoontlike reggekry: Hy het sy direkte teenstander hard afgestamp, hulle skrumskakel ge-“round” waarna hy ‘n voorspeler en hul losskakel gekul het met sy vinnige voete. Met sy 13de drie van die jaar het PJ die wendrie gedruk. ‘n Ware legende en die beste linkervleuel wat Medies rugby al ooit gesien het.
Met ongeveer 5 minute oor het Medies weer verdedig, maar Eendrag kon net nie die kameraderie en spangees van Medies breek nie. ‘n Steel by die losskrum deur die alom teenwoordige flanke van Medies het die bal in Tommie van der Merwe se hande geplaas. Hy het die bal oor die kantlyn gejaag en met dit is Medies se naam weereens in die geskiedenisboeke neergepen.
Medies Rebels het ‘n fantastiese jaar gehad. ‘n Jaar gekenmerk deur spangees, kameraderie, liefde en natuurlik die beste verdediging in die Sauer.
Die volgende uitdaging voor hulle is die Koshuiskampioenskappe van die Varsity Cup. Ons hoop om jou daar te sien…