HIPPOBRAAI 2013

Die jaar het weer groot begin en hoe anders as met ‘n feesweek wat skrik vir niks nie! Na ‘n lang vakansie is almal uitghonger vir ‘n kuier. Vrydag 11 Januarie het Hippokrates se jaarlikse braai die week in styl afgeskop. Die braai het, soos oudergewoonte, gesorg dat meer as net die maag gevul sal word. Hippobraai het, met vele worsbroodjies, musiek, en vrolike geselskap, weereens nie teleurgestel.

Mnr. Tommie van der Merwe het gesorg vir vele kole (soos net ‘n Namibiër kan) en die aand met rookseine wat al vroegmiddag die lug invaar begin. Ons eie (so te sê wêreldbekende) talentvolle orkes, Ganic F (of te wel “Ganic FFFFF….”) het almal by Hippobraai met uitmuntende vermaak verskaf. Met ‘n Playlist wat alles bevat van ‘lekker lekker dans’ tot Foo Fighters, kan almal saamstem dat die verhoog hulle s’n was. Louis van der Walt se “knieverlamende” engelstem en Neels Smit se snaarvermoë het meer as net die ore en oë bederf. Met ‘n dansvoer wat kook en die orkes wat almal in die binnehof vermaak, was die Barbaar van ouds voltyds besig om almal se dors te les.

Met die bekwame hulp van die USBD kan ons met verligting se dat geen erge insidente die aand plaasgevind het nie. Die aand was ‘n groot sukses en ‘n jolige atmosfeer is geskep vir die res van die feesweek wat voorlê. Baie dankie aan almal se bydrae en deelname bygedra het tot ‘n aand wat die gedagtes nie gou sal verlaat nie. Daar is geen kuier soos ‘n Hippo kuier.

Stephan Coetzee