Profiel
Die Kantoor vir Institusionele MIV-koördinering (KIMK) is verantwoordelik vir die implementering van ’n omvattende institusionele MIV-strategie vir die Universiteit Stellenbosch. As die Universiteit se MIV-eenheid dien die KIMK as raadgewer oor MIV-voorkoming, -onderrig en -dienslewering aan sowel studente as personeel en vorm dit ook ’n strategiese skakel met ander hoëronderwys-instellings, asook nasionale en internasionale MIV-organisasies. Die KIMK vervul verder ’n leierskapsfunksie in die verwesenliking van gedeelde verantwoordelikheid vir die visie van ’n kampus vry van nuwe MIV-infeksies.
Die Kantoor rapporteer direk aan die Viserektor (Gemeenskapsinteraksie en Personeel) en ook aan die Institusionele MIV-koördineringskomitee. Die KIMK werk nou saam met die Universiteit se Welweesprogramme (van die Afdeling Menslike Hulpbronne), die Kampusgesondheidsdiens, die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling, die Sentrum vir Onderrig en Leer, asook verskeie fakulteite.
Meer oor die visie
Die KIMK se visie is in oorleg met die Universiteitsbestuur as volg geformuleer:
Teen 2015 is daar geen nuwe MIV-infeksies op kampus nie. Die Universiteitsbestuur, institusionele eenhede, personeel en studente werk saam om die leierskap, gesondheidsbevorderende optrede en gehalte-onderrig wat nodig is om doeltreffend op die MIV- en vigs-uitdagings in Suid-Afrika en die Afrika-kontinent te reageer, in werking te stel.
Die visie beklemtoon:
- Voorkoming as ’n voorkeurstrategie
- Samewerking tussen verskeie dissiplines
- Deelname van sowel studente as personeel
- Die posisionering van die Universiteit as ’n leier op die gebied van MIV met ’n daadwerklike impak op MIV-verwante vraagstukke in Suid-Afrika asook in die res van Afrika.
Die aktiwiteite van ons Institusionele MIV-respons word ondersteun deur die Hoëronderwys-MIV/vigs-program (HEAIDS) en sy vennote: die Departement van Onderwys, die Europese Unie en Hoër Onderwys Suid-Afrika (HESA).
![]()
The content of this publication is the sole responsibility of (name of institution or institutional programme) and can in no way be taken to reflect the views of the Department of Education, the European Union or Higher Education South Africa.