Opleiding Aanbod

MIV-berading in die Suid-Afrikaanse konteks

Hierdie kursus bied ’n teoretiese en praktiese bekendstelling aan biomediese feite asook voorkomings- en beradingsmetodes wat met die verskaffing van MIV-voor- en -nátoets-berading en voortgesette ondersteuning gepaard gaan. Die kursus word oor ’n tydperk van 10 dae aangebied. Die dae word in twee vyfdag-dele verdeel. Deel een dek die biomediese, maatskaplike en sielkundige oriëntering. Deel twee fokus spesifiek op MIV-berading. Enigeen kan die kursus bywoon, alhoewel dit spesifiek op NRO-lede, eweknie-opvoeders, verpleegpersoneel en teologiestudente (MTh-studente) gemik is.

DIE OPLEIDINGSPAN bestaan uit:

  • Monica du Toit (MA Kliniese Sielkunde) – Bestuurder: KIMK
  • Michelle Munro (MEd) – Koördineerder: MIV-kurrikulumontwikkeling en -opleiding
  • Jaco G. Brink (Honneurs Sielkunde) – Koördineerder: Voorkoming

Toegepaste vaardighede in MIV-kommunikasie en -berading

Hierdie is ’n geakkrediteerde kortkursus wat deur die KIMK van die Universiteit Stellenbosch, in vennootskap met die Afrika-netwerk vir Strategiese Kommunikasie in Gesondheid en Ontwikkeling (AfriComNet) aangebied word.

Module 1 gee deelnemers die geleentheid om oor hul eie houdings teenoor kwessies wat met MIV, seksualiteit, geslag, ras, ens. verband hou, te besin. Hierbenewens sal die module verseker dat alle deelnemers vertroud is met die basiese feite van MIV/vigs en sal enige misvattings uitgeklaar word. Module 2 sal deelnemers oriënteer rakende die doel, verskille en onderlinge verband van infeksievoorkoming en -beheer (IVB), berading en kliëntopvoeding in strategiese MIV-kommunikasie. Module 3 sal deelnemers aan die beginsels, proses en konteks van kliëntopvoeding en die gebruik daarvan in gesondheidsopvoeding en berading bekendstel. Module 4 sal deelnemers aan spesifieke kommunikasietegnieke en -vaardighede wat met berading verband hou, bekendstel, en aan deelnemers die geleentheid gee om hierdie vaardighede deur praktiese rolspel te bemeester. Module 5 sal IVB, berading en vaardigheid in kliëntopvoeding in verskeie MIV-beradingskontekste integreer.

Leierskap in Strategiese Gesondheidskommunikasie – Afrika

Die werksessie oor Leierskap in Strategiese Gesondheidskommunikasie (LSGK) is ’n geïntegreerde benadering tot die aanleer van gesondheidskommunikasie. Klaskamervoorleggings, besprekings, die SCOPE-rekenaarprogram en die P-proses skep sinergie wat kommunikasievaardighede aansienlik verbeter.

TDie LSGK-opleiding het drie vernaamste doelstellings om aan die deelnemers te bied. Die eerste een is om deelnemers beter begrip van die proses van die beplanning van intervensies oor gesondheidskommunikasie, vanaf die vroeë fases tot programevaluering, te gee; tweede, om te leer hoe om met huishoudings en gemeenskappe saam te werk in die ontleding, ontwerp, ontwikkeling, implementering, monitering en evaluering van doeltreffende gesondheidskommunikasieprogramme; en derde, om vaardighede in visioenêre leierskap te ontwikkel.

Winterskool-kortkursus

Die doel van die kortkursus is om die nodige kennis, vaardighede en houdings van studente as leiers en toekomstige beroepspersone te kweek en te ontwikkel ten einde MIV-voorkoming en -sorg in die werkplek, sowel plaaslik as internasionaal, te bestuur.

in