MIV-feite
Die Menslike Immuniteitsgebreksvirus (MIV) is ’n virus wat die koördinerende selle van die immuunstelsel voortdurend aanval, en die liggaam se vermoë om andersins skadelose infeksies te beveg, vernietig. Wanneer ’n kritieke stadium van die verlaging van immuniteit bereik word, kom ’n spesifieke versameling tekens en simptome na vore – dit is Verworwe Immuniteitsgebreksindroom (vigs). MIV word hoofsaaklik deur seksuele kontak oorgedra, maar ook deur bloedprodukte, besmette naalde en van moeder na kind.
Die siekte kom wêreldwyd voor, maar die voorkoms in Afrika suid van die Sahara is veral hoog. Dit versprei vinnig in die ontwikkelende lande van Asië. Wêreldwyd word mans wat seks het met mans, sekswerkers en binneaarse dwelmgebruikers as hoërisiko-bevolkings beskou. In die ontwikkelende wêreld, veral in Afrika, is die voorkoms onder volwassenes van voortplantingsouderdom baie hoog – en dit word hoofsaaklik deur heteroseksuele seksuele aktiwiteit versprei. Die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid beraam dat 30,2% (2005) van swanger vrou landwyd besmet is, terwyl die voorkoms in die Wes-Kaap as 15,7% (2005) van swanger vroue beraam word.
MIV is reeds vir 25 jaar ’n globale epidemie, en in hierdie tyd het ons die risiko’s wat met die infeksie gepaard gaan, begin verstaan. Baie mites oor die siekte is reeds uit die weg geruim. Ons weet ook hoe om oordrag deur veranderings van gedrag en gereelde toetsing te voorkom. Behandeling is beskikbaar vir diegene wat reeds besmet is om die siekte se ontwikkeling te vertraag. Daar is egter steeds geen vaksine of genesing beskikbaar nie.